Redakteursbrief
Februarie, so ’n effe parmantige maand, die kortste van die jaar. Maar met ’n láng, intense verbintenis tot die liefde. Byna soos ’n tango.
Reeds van die 14de eeu word Februarie met sy Valentynsdag op die 14de met romantiese liefde geassosieer. Teen die 18de eeu het #verliefdes blomme, mooi kaartjies en soetgoed vir mekaar gegee. En beloftes gemaak en trou gesweer.
Vandag lê die waarde van Valentynsdag grootliks in die kommersiële, lyk dit . . . ’n ontploffing van pienk en rose en sagte speelgoed in al wat ’n winkel is. Die liefdesboodskappe is maar oppervlakkig en stylloos; die blomme en sjokolade dikwels te duur. So ja, ek’s verdeeld oor dié dag. ’n Deel van my sê dis goed dat daar ’n spesiale dag is wat jy toegewyd aan ’n geliefde kan afstaan; weer kan wys en sê hoe jy voel. Maar ’n ander deel van my dink, ai nee, hierdie is net ’n goedkoop geldmaakstorie. Die dag het sy betekenis verloor. Dis leeg.
Nou lees ek baie millenniërs, wat ’n ding vir opwinding en avontuur het, het ook nie veel erg aan Valentynsdag nie. Tog vier hulle dit, getrou . . . maar net anders. Daar is skaars presente of ’n romantiese ete vir twee, maar wel die geskenk van “ek en my tyd”. Soos in, ek bestee tyd saam met jou langs die viswaters (iets wat ek nie normaalweg doen nie), en jy vergesel my na my gunsteling-markie (iets wat jy nie aldag doen nie). Valentynsdag gaan eerder oor die gedeelde ervaring as oor ’n geskenk. Dis ’n spesiale sáámdag, ’n deeldag.
Dikwels is die viering ’n groep vriende en dan is dit ’n soort vriendskapsdag. Boodskappe en kaartjies word prettig veral op sosiale media uitgeruil, en uitstappies beplan – als om te sê ons vriendskap het waarde. Dit tel vir iets. Ons is nie net Facebook-vriende nie, mooiweersmense nie, maar ware vriende wat bymekaarkom, luister, raad gee en deel in die vreugdes van mekaar se lewe. Dít regverdig sekerlik ’n spesiale dag.
Of, sê sommige millenniërs, hulle het nie iemand aan hul sy nodig om Valentynsdag te vier nie. Hulle vier dit alleen, en dolgelukkig en tevrede. ’n Soort ek-dag. Dan gaan dit opnuut oor erkenning van wie en wat jý is, die dinge wat jy al reggekry en waaroor jy standpunt ingeneem het, die struikelblokke wat jy oorkom het. Dís die mooi goed wat maar in ’n kaartjie kan staan vir die onthou, want ons vergeet so maklik. Om ook soms net lief te wees vir onsself en om onsself te bederf. Die dinge te doen en te geniet wat jou gelukkig maak. Ongetwyfeld is dit ’n spesiale dag werd.
As ek nou moet dink wat ek vir my Valentynsdag sal kies, sal dit my familie wees wat ek te min sien, my handjievol goeie vriende om ’n lang tafel, blou lug, pienk pinksterrose, ietsie karamelsoet, en my SARIE. Dít sal pure bederf wees. En ja, dalk skryf ek vir myself ’n boodskap in ’n mooi kaartjie. Op goeie papier met ’n goeie pen – vir die hou en die onthou. Vir die dae dat ook ek te maklik vergeet.
Geniet jou Valentynsdag – maak dit vanjaar jou eie, soos jý dit graag wil vier.
Tot ons weer gesels wanneer ons glansryke Maart-uitgawe vanaf 25 Februarie op die rak is.