Nataniël sê . . .
Die lewe is rof en kort en hoe ander dit regkry, weet ek nie, maar in my werksjaar is selde tyd om ’n goeie televisiereeks op te spoor en te volg. Daar is wel jaarliks ’n tydjie van stilte, vanaf 26 Desember tot net ná Nuwejaar, dis wanneer my stad sterf en my vriendekring leegloop, dis wanneer daar dae is vir rondsnuffel. ’n Goeie boek is soveel beter as ’n flikkerende skerm, maar tydens my pas afgelope sleglê, ontdek ek ’n nuwe reeks op Netflix, Raiders of the Lost Art. Die titel is duidelik iemand se eerste probeerslag, maar daar is foto’s van Gustav Klimt, Edvard Munch en El Greco, ek druk die knoppie.
Die titel maak my gek, die musiek is eintlik bedoel vir ’n riller en die stemkunstenaar is oortuig hierdie is ’n spookstorie vir kinders, maar die inligting is meevoerend. ’n Paar episodes handel oor beroemde kunswerke wat gesteel is, sommige deur alleenlopende boewe, ander deur die Nazi’s of hedendaagse bendes. Daar word vertel hoe die kuns weggesteek is of dekades in private huise gehang het. (Onthou hoe Napoleon die wêreld geplunder het? Hoe baie museums nog gesteelde kuns vertoon? Wel, dis steeds ’n inspirasie vir talle.)
Ander episodes handel oor kunstenaars wat eens gewild en toonaangewend was. Ná hul dood is hulle vergeet en die kuns as twyfelagtig beskou. Honderde jare later is hulle herontdek deur beroemdes soos Picasso of Cézanne en hul kuns vandag miljoene werd en pronk in gesogte versamelings. Sommige werke was bekend, maar het as gevolg van diefstal en sensasie ikonies geword, almal ken die Mona Lisa.
Dae later pak ek laaie reg, maar ek bly dink aan die kunstenaars en kuns wat verdwyn en verskyn. Ek haal dosies met poskaarte uit, gaan ek dit ooit weer gebruik? Ja, dalk. Hier is my ouma se briewe, ek lees almal weer. In ’n onopvallende koevert ontdek ek foto’s van ’n ou liefde, in ’n bruin koevert wag ’n paar liefdesbriewe uit my universiteitsjare. Belaglik, gooi weg! Nee, sit terug, jy sal later moet vuurmaak en verbrand, niemand mag dit ooit ontdek nie! Hier is servette, ragfyn uit Parys, ek gaan dit nooit gebruik nie, hoe kry mens ’n vlek hieruit? Terug in die sneespapier.
En skielik brand my lampie. Dis waaroor die Raiders- reeks gaan! Dis waarmee ek besig is! En almal wat ek ken. Ons bêre. Die meeste rampokkers kon nie die kuns verkoop nie, dis gebêre. Daarna is dit uitgehaal en die wêreld kon dit weer sien. Duisende kunswerke is steeds verlore. Dalk begrawe. Ander kuns verskyn ná ’n afsterwe, private versamelings word geskenk aan nasionale museums of gesaghebbende galerye. Dis bloot bewaar. Nou kan ons dit ook sien.
Dis die drie B’s. Bêre. Begrawe. Bewaar. Hierdie is nie een van my preke nie, ek skryf dit net neer – vir myself en vir ander. Dis wat ons doen. Dis fassinerend. Sommige B’s word beplan, ander is uit desperaatheid of gewoonte.
Bêre: Die brief wat nog beantwoord moet word, ’n verduideliking wat gegee moet word, ’n konfrontasie waarvoor niemand nou lus is nie, ’n mediese toestand wat aangespreek moet word, trane wat gestort moet word, ons hou dinge eenkant vir later, net nie nou nie, eendag.
Bewaar: Die laaste selfoonboodskap van ’n geliefde, die resep wat almal wil hê, die familiehalssnoer, die foto’s van toe ons dun middeltjies gehad het, die verhaal wat nog neergeskryf moet word, ons bou klein monumente, iemand moet kan kyk en onthou.
Begrawe: Die eerste liefde wat bly knaag, die geheim wat net verwoesting belowe, die jaloesie wat ons oud maak, die wrok wat ons laat swaar dra, of ons móét en of ons wíl, daar is dinge wat ons terughou, en ongedaan maak bly moeilik.
Die B’s is goed, sleg, nodig, onnodig, ons kan dit nie ontsnap nie. Soos die vrou op die lughawebussie in haar foon gegil het: “Man, love it or fix it!”