Sarie

Jo Black SA se liefling . . . maar die kollig soms warm

Niemand kan jou leer famous wees nie

- DEUR MARGUERITE VAN WYK FOTO’S WILLEM LOURENS

Hy’t byna oornag bekend geraak. Van ’n ou wat tokkel op sy kitaar en oor die lewe sing, tot ’n SA liefling wie se debuut-cd dubbelplat­inum verkoop het. Waar ’n verhoog en ligte is, daar is Jo Black. Baardman, familieman, kunstenaar. Diep dankbaar ís hy, maar bekendheid het ’n prys. En ja, soms verlang hy na die eenvoudige dae toe hy net Jo Engelbrech­t was . . .

Die baardman voor my is die sanger van die oomblik in Suid-afrika. Noem maar op, hy is daar. Dis Jo Black – 1,83 m lank, gemaklik in ’n blou hemp en kenmerkend­e swart denimbroek. En hy’s honger. Jo eet geesdrifti­g aan ’n mezzebord in die Zevenwacht-restaurant. Olywe, brood en ander happies vul die groot man nie juis voor sy optrede by die Piekniek-en-musiek-konsert nie. Die vorige nag het hy ’n skamele vier uur in sy huis in Pretoria geslaap. Dit was nadat hy ’n week lank saam met Caroline Grace van The Voice- faam op die luukse MSC Musica deurgebrin­g het – die “matriekboo­t”, met 2 900 jongelinge wat pas met matriek klaargemaa­k het. Vroegoggen­d moes hy weer Kaap toe vlieg, waar hy en Elvis Blue by die Zevenwacht-landgoed buite Stellenbos­ch sou optree. Sy “regterhand”, Tiaan Newman, wat sy skakelwerk en klank doen, is saam. “Ek is moeg, Tiaan is moeg. Maar as ek nou laat is vir ons onderhoud, dan sê julle ek is ’n diva!” lag hy goedig. Jo se nuwe CD, Voel jy die genade, word vandeesmaa­nd uitgereik. Daar is dertien liedjies op die album, wat oorhoofs deur Jo en Johan Vorster geskryf is. Dit sluit in: “Voel jy die genade” en “Spring”, sy gunsteling­e, “Verlore seun”, “Ek sal sing” en “Halleluja”. Jattie de Beer en Jo het saam “Spring” geskryf. “Kinders sê” is sy liedjie vir geskeide mans wat in buite-egtelike verhouding­s betrokke was. “Ek hoop dit help hulle om meer vrede te kry.” En hy het twee liedjies vir sy vrou, Debbie, “Bitter” en “Huis op die heuwel”, geskryf, asook “Jy het my gewys” vir sy pa.

Vanjaar “Optog!” hy ook. Dis die slim projek van Matthys Maree wat die kunste platteland toe neem en Jo het 27 optredes. “Ek sing van die Kaap tot in Namibië.”

In November is hy deur lesers as SARIE Mooiste Man aangewys. En daar was nogal kompetisie: Tim Theron, Jesse Kriel, Nico Panagio, Ryk Neethling, Emo Adams, Brendan Peyper . . . Kort voor Kerstyd was hy die tweede jaar agtereenvo­lgens een van die groot treffers op Hartenbos se In Afrikaans-musiekkons­ert. Mense staan soms tot drie en ’n half uur agterna nog tou vir sy handtekeni­ng.

Sy gewildheid neem toe. Jo se debuut-cd, Skepe, het reeds dubbelplat­inum-status (verkope van meer as 60 000) bereik. In November het dit op 84 000 gestaan, net onder multiplati­num, waarvoor die vereiste 90 000 is.

Sy mening: “Hulle kan jou leer om te sing, mooi aan te trek, op te tree op die verhoog – maar niemand kan jou leer famous wees nie.”

Dankbaar is hy wel oor die nuwe deure wat vir hom oopgegaan het. “Maar jy moet heeltyd smile, gaaf wees, jy kan nie by die huis wees as jou kind siek is nie.” Die ure is ongereeld, jy slaap min, eet laat, daar is min tyd om oefening te doen, hoewel hy onlangs bietjie begin fietsry het as hy by die huis is. “Maar dit is nogal ’n goeie workout as jy vir ’n uur en ’n half ’n vertoning gee.”

Bekendwees het ’n prys. “Daar verskyn soveel fake news oor my,” grap hy. As hy sy baard afskeer, dink baie mense hy lyk soos George Clooney. Veral die ouer vroue. Hy val skaam op sy hande neer. “Asseblief.” As hy dit laat groei, dink mense hy is hip. Die jonger meisies hou daarvan.

< Oor die toekenning van SARIE Mooiste Man is hy effens skaam. Hy praat dit weg en sê sy ma het seker maar al die SMS’E gestuur sodat hy kan wen. “Bobby [van Jaarsveld, wat in 2017 as SARIE se mooiste man aangewys is] is mooi. Ek is . . . dalk rugged? Maar mooi! My vriende spot my daaroor. Dit beteken nie vir my iets nie. Ek was ongemaklik by die voorblad- shoot. Modelwees kom nie natuurlik nie.” O, en sy vrou het vir Emo Adams en Brendan Peyper gestem. “Want ek is nie mooi nie. En dit gaan oor móói.”

Hy gee toe sy baard is sy handelsmer­k. “Ek hou nie van skeer nie, ek is lui. Dit steek ook my dubbelken weg. Dit was nog nooit langer as 27 cm nie. Dit is bog dat dit al 43 cm lank was, soos in die pers berig is. En ek gebruik vir seker nie baardolie om dit te versorg nie.” Hy pes dit as vreemdelin­ge aan sy baard vat. So asof hy volksbesit is. “Hoe sal jy voel as vreemdelin­ge sommer aan jou gesig vat?”

Bekendheid het hom leer grense stel. “Ek sê makliker nee. Ek wil mense graag help, maar kan nie almal ‘red’ nie. As jy bekend is, wil almal jou vriend wees. Iemand wat my tien jaar gelede ‘geken’ het, bel uit die bloute en is my pêl, maar waar was hy die afgelope tien jaar?”

Hy het opnuut besef hoe belangrik lojaliteit is. Hy en sy band “beskerm” mekaar op toer. “Hulle is jong manne . . . as ons sien die vroue raak te eie met iemand, dan gryp ons in, roep die ander een sodat hy kan wegkom.”

Jo is ’n familieman. “Lank nadat die wêreld al van daardie poepôl wat Skepe gesing het, vergeet het, gaan Dinieke (10) en Miané (7) hul pa se naam onthou. My vrou, Debbie, was nog altyd daar vir my. Ons is al elf jaar getroud en veertien jaar saam. Sy sien kans vir al my dinge, maar skielik kry sy minder aandag van my. Sy sukkel soms daarmee en ek verstaan dit. Ek het mos eerste aan my gesin behoort. Deesdae sien ek hulle te min. Dit maak my hartseer as my dogtertjie­s sê hulle wil nie geskenkies hê nie, ek moet net terugkom as ek te lank toer.” By die huis is hy “pappa”. Maar Miané dink darem nóú hy is cool, net soos haar heldin Leah, nadat Jo en Leah ’n duet in die rolprent Susters gesing het. Toe vertel Dinieke haar “Pappa is ook famous”.

Dié musiekman is op sy gelukkigst­e as sy twee dogtertjie­s in sy arms nesmaak en saam met hom televisie kyk. As hulle as gesin by hul gunsteling­restaurant gaan eet. Of hy hulle by die skool kan gaan haal en sommer net gesels.

“Ek is nie aldag mal oor roem nie. Twee jaar gelede toe ek by plekke opgetree het, moes ek soms skarrel om slaapplek te kry. Noudat ek Jo Black is, gee hulle vir my die wittebrood­suite en duur sjampanje. Hoekom moet ek nou ewe skielik soos ‘iemand’ behandel word?”

Maar voor Skepe op 28 Desember 2016 uitgereik is, was hy en sy gesin op ’n voedingske­ma by die kerk want hy kon nie kos vir sy gesin bekostig nie. Op 15 Maart 2017 het hy sy eerste show gehad, saam met Die Heuwels Fantasties. En sedertdien is die adrenalien- rush, ten spyte van die opoffering­s van die beroep, elke keer bruisend.

Geld het sy voordele. “My vrou kan deesdae hoenderlew­ertjies in ’n restaurant bestel sonder om na die prys op die spyskaart te kyk. Ek hoef my nooit weer oor my kinders se toekoms te bekommer nie.” Maar soms verlang hy na die ongekompli­seerde dae toe hy nog Jo Engelbrech­t was.

“Mense moet my nie op ’n voetstuk plaas nie. Sê nou ek val – dan is hulle kwaad. Loop eerder langs my.” Hy is dankbaar oor waar hy is, hoewel sy lewe vol bulte was.

“Ek kan ’n paar hartseer dinge vertel oor my verlede, want dit gaan ’n ‘beter storie’ maak, maar dit het my die man gemaak wat ek is.” Sy ouers is geskei toe hy ses was. “Ek en my sussie en twee boeties het by my ma gebly. Soms het ek by my oupa Joe gebly. Ons het in Pretoria-noord gewoon. My oupa was ’n flippen lekker oupa.” Daar was ’n paar insidente in sy jeug wat hom bietjie gebreek het, maar hy haak nie daarby vas nie.

Want met sy kitaar wat hy op 15 vir R126 gekoop het, het hy wonderlike tye beleef. “’n Vriend het vir my drie drukke geleer. >

Mense moet my nie op ’n voetstuk plaas nie . . . Loop eerder langs my Jo

Foto’s van Jo Black op die verhoog geneem tydens die Piekniek-en-musiekkons­ert by Zevenwacht in die Kaap, waar hy en Elvis Blue opgetree het.

< Ek speel nie waffers kitaar nie, maar ek het ’n goeie band. Ek was op die regte tyd op die regte plek. In ’n kroeg. Iemand het my raakgesien en die res is geskiedeni­s.” En kyk net hoe hy woeker. Hy besef sy lewe het ’n Plan. In 2017 het hy drie Tempo-musiek toekenning­s opgeraap–beste nuweling, beste liedjie van die jaar en vermaakste­r van die jaar – maar Jo het ’n punt daarvan gemaak om nie die Here op die podium te bedank nie. “Dit raak ’n cliché. My geloof is ’n persoonlik­e verhouding.”

Jo is ’n doener. Hy is betrokke by die Be That Guy/ Girl-beweging waar hy by skole, mansnaweke en korporatie­we gesellighe­de mense inspireer om ’n beter mens te wees.

“Jy kan my vingers of baard afsny. Gestel ek het my stem tydens ’n nood-werweloper­asie in September 2018 verloor, dan sou ek steeds Jo wees. My identiteit is nie aan my baard of stem gekoppel nie. Ek is ’n pa, man, vriend, broer . . . Baie van my vriende woon aan die ‘verkeerde kant van die treinspoor’, maar ek eer hulle, nie oor wat hulle besit nie, maar oor wie hulle is en wat hulle vir ander beteken.”

Hy steek ’n sigaret op. Rek sy bene. “Mense dink as jou lyf oortrek is met tatoeëerme­rke, jy ’n lang baard het en altyd swart denims dra, het jy ’n sekere profile. Ons is gou om waarde-oordele te vel. Ek raai mense af om tatoeëerme­rke te kry, maar elkeen van myne beteken iets. ’n Kwart van my lyf is oortrek

daarmee. Ek het ’n portret van oupa Joe aangebring toe hy drie jaar gelede op 105 gesterf het. My vrou se naam is op my linkerbeen.” Hy kyk ver. “Almal wat so maak asof hulle together is . . . niemand is nie. Ons leer aanmekaar.” Hy wil ook sy kinders leer: “Niemand is ’n nikswerd nie, almal verdien respek, ongeag . . .”

Met sy operasie het hy ’n bietjie tyd gekry om na te dink oor sy prioriteit­e. “Ek is 37, en ek dink diep oor my nalatenska­p. Ek het die afgelope twee jaar sowat 600 shows gegee. Jou lyf hou dit nie, jy voel siek. In 2019 tree ek net naweke op. Die res van die tyd behoort aan my vrou en kinders.”

Hy wil ook doodgaan in sy geliefde Suid-afrika, ’n plek vol moontlikhe­de. “Ek geniet die diversitei­t.”

Hy verstaan Sotho en hy glo Afrikaans is deel van sy erfporsie. “As jy gelukkig is, erf jy ietsie by jou ouers, en dan erf jy iets anders – jou taal, jou kultuur, jou wortels. Ek is trots daarop.”

Jo het groot planne vorentoe, maar wil nog niks daaroor sê nie. Nee, hy wil nie in ’n sepie speel nie. Hy het in die kerk geleer “preachers shouldn’t sing and singers shouldn’t preach”. Jy moet jou bepaal by wat jy kan doen. Maar hy wil ’n boek skryf oor grepe uit sy lewe, soos waaroor hy sing in elke liedjie. Dit waaroor hy praat in sy shows. Maar daar is nóg planne . . . “Dít is jou volgende groot storie,” groet hy.

 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ?? FOTO LEANA CLUNIES-ROSS ??
FOTO LEANA CLUNIES-ROSS
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa