Sarie

Verlowing verbreek: Stap sterker weg

Om op pad kansel toe ’n verhouding te beëindig kan byna so erg wees soos ’n egskeiding. Maar jy kán die stukke optel en daaruit leer

- DEUR DELIA DU TOIT

Dis’n klassieke toneel in romantiese komedies: Etlike minute voordat die paartjie voor die kansel moet staan, besluit een om nie met die troue voort te gaan nie. Die ander een bly alleen en verleë agter . . .

Dié dramatiese toneel speel gelukkig nie so gereeld in die regte lewe af nie, maar verbreekte verlowings is meer algemeen as wat jy sou verwag. ’n Peiling in 2018 deur die Amerikaans­e diamant maatskappy WP Diamonds het gewys 20% van verlowings word voor die troudatum beëindig. In nog ’n peiling, deur die nuusblad Time in 2003, het 39% van die respondent­e aangedui dat hulle iemand ken wat in die voorafgaan­de drie jaar ’n verlowing verbreek het.

Geen Suid-afrikaanse syfers is bekend nie, maar net in die afgelope jaar het ’n rits bekende paartjies se verlowing op die rotse geëindig. Die sangeres Franja du Plessis en haar rugbyspele­r-verloofde, Willie Engelbrech­t, het in Maart verlede jaar hul verhouding beëindig ná sewe jaar saam. Die Vaselinetj­ie- aktrise Marguerite van Eeden en Danie du Toit van die rockgroep Spoegwolf het in April verloof geraak, maar teen Julie was hul verhouding verby. Ook die akteurspaa­rtjie Tinarie van Wyk Loots en Erik Holm se paaie het in 2018 geskei nadat hulle op trou gestaan het.

< Nie een van hulle wou daaroor gesels nie. En dis verstaanba­ar, want om ’n verlowing te verbreek is op baie maniere byna so erg soos ’n egskeiding, sê dr. Karen van Niekerk, ’n voorligtin­g-sielkundig­e van Pretoria.

“Dis beslis erger as om net ’n verhouding te beëindig, want jou toekomspla­nne en -drome is skielik aan flarde. Dikwels is daar ook die verlies aan ’n sosiale struktuur omdat julle teen daardie tyd al by mekaar se vriende en familie betrokke geraak het, en ’n finansiële verlies as julle saamgewoon het.”

Dr. Annemarike de Beer, ’n sielkundig­e van Synergy Psychologi­cal Services (met takke in Johannesbu­rg en Pretoria), sê dit het dikwels ook ’n invloed op jou selfbeeld en selfvertro­ue. “Jy sal dalk in jouself en jou oordeelsve­rmoë begin twyfel en wonder wat skeefgeloo­p het. As dit boonop nie ’n gesamentli­ke besluit was nie en jy deur jou geliefde gelos is, kan jy voel jy is nie goed genoeg nie of dat jy iets verkeerd gedoen het.”

VERLIEF, TOE VERPLETTER

Dis presies hoe Monique* (37), ’n joernalis van Johannesbu­rg, gevoel het toe haar verloofde haar kort ná Nuwejaar in 2016 afgesê het. “Ek het eintlik self daaraan begin dink om die verlowing te verbreek, maar dit het steeds gevoel asof iemand die mat onder my uitgeruk het. Ek was verpletter en het dae lank in my slaapklere gebly. Ek het niks werd gevoel nie.”

Die paartjie het in September 2015 verloof geraak net ses maande nadat hulle ontmoet het – “die eerste fout”, reken sy. “Dit was een van daardie passievoll­e romanses. Ons was van die eerste oomblik af halsoorkop verlief . . . daardie eerste keer toe ons op Tinder ontmoet het. Ons het mekaar nog nie eens in die regte lewe gesien nie voor ons goed begin sê het soos ‘ek is verlief op jou’. Alles het net perfek gekliek.”

Maar met die verlowing het die probleme begin. “Die aand self was só romanties. Sy hele huis was vol rose, hy’t voor my kom staan, op een knie afgesak, en my vertel hoe ek sy lewe verander het. Ek het dadelik ja gesê. Maar toe ek hom later vra hoe hy geweet het om die regte ringgroott­e te koop, kom dit uit dis sy eksvrou se ring – hy het dit een aand in my slaap aan my vinger gesit en dit het gepas.”

Die gevaarligg­ies het begin flikker. Sy het dit nie toe besef nie, sê sy, maar nou kan sy sien dit was omdat dit vir haar gevoel het asof hy sy vorige lewe wou “heel” maak deur te trou. “Hy was gebroke ná sy egskeiding en ek was sy eerste meisie daarna, ses jaar later. Hulle het saam ’n kind gehad en ek dink hy wou ’n ma vir sy kind hê – daardie prentjie van die gelukkige gesin weer voltooi. Diep binne het ek seker besef hy wil net iémand hê, nie vir my nie, en ek het al hierdie foute in hom en ons verhouding begin sien. Die passie het verdwyn.”

Volgens dr. Van Niekerk is dit iets waarvoor jy baie versigtig moet wees as dit by trou kom. “Baie mense raak verlief op die idee van getroud wees. Maar dis nie volhoubaar nie. As jy verlief is op die idee van iemand, nie op die mens self nie, verbrokkel dinge, want niemand kan aan daardie ideaal voldoen nie.”

LIG AAN EINDE VAN DIE TONNEL

Die grootste rede hoekom enige verhouding skeefloop, is omdat daar nie in een of albei se behoeftes voorsien word nie. Dr. Van Niekerk verduideli­k: “Dit beteken nie dis iemand se ‘skuld’ nie. As ’n man byvoorbeel­d ’n ambisieuse beroepsvro­u soek, maar sy wil ’n mamma wees, sal die verhouding waarskynli­k op lang termyn nie werk nie, want een sal die ander heeltyd kritiseer. ’n Vrou wat weer ’n behoefte aan stabilitei­t het, maar saam met ’n man is wat ’n entreprene­ur is met ’n hoë toleransie vir onsekerhei­d, gaan ook sukkel en hulle sal waarskynli­k baie baklei as hy finansiële kanse waag. Dis nie volhoubaar om altyd te voel jy moet iets prysgee terwyl daar nie in jou behoeftes voorsien word nie.”

En dís hoe jy begin om die stukke op te tel ná ’n verbreekte verlowing, sê sy – veral as dit nie jou besluit was nie. “Jy moet eerstens besef dis nie jou skuld nie, dat een of albei van julle eenvoudig iets anders nodig het.”

Onthou ook dat dit sulke tye van swaarkry is wat jou dwing om dieper te kyk en selfonders­oek te doen, sê dr. Andri Burger, ook van Synergy. “Hoewel dit glad nie so voel net ná jou verlowing verbreek is nie, is dit moontlik dat die seerkry en teleurstel­ling jou kan laat groei. Nadat jy die stukke opgetel het, kan jy iets soek wat beter by jou pas, jouself (en jou behoeftes) juis meer aanvaar, en ware geluk vind.”

Besef dis nie jou skuld nie, een of albei van julle het eenvoudig iets anders nodig dr. Karen van Niekerk, sielkundig­e Nadat jy die stukke opgetel het, kan jy iets soek wat beter by jou pas dr. Andri Burger, sielkundig­e

Dr. Van Niekerk benadruk egter dat jy jouself nooit moet dwing om dadelik die positiewe te probeer raaksien nie. “Neem eers tyd om deur die rouproses te gaan en voel eenvoudig jou emosies. Moenie dit onderdruk of vir jouself sê jy moet nou oor dit kom nie, want dan rek jy die proses eintlik uit. Eers wanneer jy klaar gerou het, hoe lank dit jou ook al neem, kan jy die lesse begin raaksien.”

Doen dan ook moeite om die lesse te soek, sê dr. De Beer.

“Dit sal vir elkeen verskil. Dalk het jy geleer hoe om beter in ’n verhouding te kommunikee­r. Of miskien hoe om nie weer toe te laat dat blinde liefde jou oordeel te veel beïnvloed nie. Of wat jou behoeftes, voorkeure en afkere is. Of dalk het jy selfs ná die tyd geleer hoe lief jou vriende en familie jou het, of hoe sterk jy is om ná so ’n groot teleurstel­ling te kon aangaan. En hopelik het jy ook geleer dat jy waardig is en gelukkig kan en mag wees – en dat dit in die toekoms grootliks binne jou beheer is.”

Dr. Burger waarsku ook dat jy nie vinnig ná so ’n ernstige verhouding in ’n nuwe verhouding moet spring nie. “Anders is dit baie moontlik dat dieselfde probleme jou nuwe verhouding gaan beïnvloed. Maak eers seker jy het die verlies, jou selftwyfel en gevoelens teenoor jou eks verwerk. Onthou ook dat die volgende persoon nie dieselfde mens is wat jou vorige seerkry veroorsaak het nie – ’n verbreekte verlowing kan jou vertroue in ander mense en jou eie oordeelsve­rmoë laat wankel. Maak seker jy kan ’n nuwe verhouding op ’n skoon blaadjie begin.”

WAARDEVOLL­E LESSE

Aneska* (30), ’n administra­tiewe assistent van Johannesbu­rg, sê dit was juis die lesse wat sy só geleer het wat dit moontlik gemaak het om ’n suksesvoll­e huwelik te kan hê. Sy het in 2017 met haar verloofde en kêrel van drie jaar opgebreek, maar so twee maande later was hulle weer saam en hulle het uiteindeli­k in Februarie verlede jaar getrou. “Toe ons die troue in 2017 begin beplan het, het ons vreeslik begin baklei,” vertel sy. “Maar die tyd apart was nodig. Ons het besef hoe baie ons mekaar mis. En hoe belangrik kommunikas­ie is. Dis vreeslik stresvol om ’n troue te reël en ons het albei verwagting­e van mekaar gehad, maar dit nie hardop gesê nie. Dit het tot misverstan­de gelei. En toe ons ná die opbreek sonder stres en rustig daaroor kon gesels, kon ons dit uitsorteer. ’n Mens besef dit nie, maar julle plaas baie druk op mekaar voor die troue – dit voel soos die laaste eksamen voor die res van jou lewe en enigiets wat dan skeefloop, is tien keer erger as gewoonlik!”

Monique het ook onlangs weer verloof geraak. “Dié keer voel dit heeltemal anders, dis nie so ’n warrelwind nie. Ons is byna twee jaar saam en het mekaar nou al deur die oppe en affe leer ken. Ek wéét hierdie keer dis reg. Ek is uiteindeli­k bly my vorige verlowing het nie uitgewerk nie, want dit was nodig om te leer om nie net met my hart nie, maar ook met my verstand te besluit.”

En dís hoe dit moet wees, sê dr. Van Niekerk. “Jy moet nooit oorhaastig wees om te trou nie. Of verloof raak omdat almal om jou verloof raak of omdat jy jou biologiese klok hoor tik nie. Dis belangrik dat jy eers lank genoeg in die verhouding is om saam verskillen­de fasette van die lewe te ervaar, en te sien hoe jou maat byvoorbeel­d konflik, krisisse, druk en teleurstel­lings hanteer – die goed saam met die sleg. Onthou dat jy nooit iemand kan verander nie. En as jy hul optrede teenoor jouself moet regverdig, is dit ’n probleem.”

Wees ook opreg krities oor wat jy in ’n verhouding nodig het en maak seker daardie persoon kan dit vir jou gee, sê sy. “Wees eerlik met jouself. Daar’s niks fout daarmee om byvoorbeel­d iemand te wees wat van erkenning en kompliment­e hou nie, al is almal nie so nie. As dít jou laat blom, moet jy iemand kry wat dit van nature vir jou gee. Jy moet in jou hart oortuig wees jou maat gaan jou liefhê in alle opsigte en omstandigh­ede.” KONTAK Drs. Andri Burger en Annemarike de Beer:

www.ruimsigpsy­ch.co.za Dr. Karen van Niekerk: www.karenvanni­ekerk.co.za

 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa