Kweek groente op jou stoep
Dis nou groot mode om jou eie groentetuin te hê. Maar hoe gemaak as jy min of geen tuingrond het nie? ’n Nuwe boek oor groentetuine gee raad oor hoe jy ook jou stoep, balkon of dek kan inspan
jy jou hand aan ’n meer ingewikkelde vertikale of hidroponiese tuin wil waag, is ’n groenteen-kruietuin in potte basies die enigste opsie vir mense wat geen toegang tot tuingrond het nie en graag op hul balkon, stoep of dek of in hul kombuisvenster wil groente kweek.
Op dié manier word jou groentetuin deel van jou leefruimte, en dit beteken ook minder moeite en water omdat jy net die potte hoef te versorg terwyl die wêreld dalk verdor. ’n Stoep het ook die voordeel van verskeie mikroklimate waarin jy ’n groter verskeidenheid plante kan kweek. Daar is altyd skaduwee beskikbaar, maar ook son wat deur die dag in blokke oor die huis beweeg.
Amper enige houer wat groot genoeg is en behoorlik dreineer, sal werk: plastiek-, klei- of glaspotte, halwe wynvate, groot plastiekdromme wat in die lengte middeldeur gesny is en op ’n ysterstaander rus, plantbokse, vensterbokse, bioafbreekbare goiingsakke, emmers, kitskoffieblikke, 1 liter-jogurthouers en 2 liter-plastiekkoeldrankbottels (met behoorlike dreineringsgate aan die onderkant gemaak) – die moontlikhede is eindeloos. Vir groente is potte van rou klei dalk nie die beste keuse nie omdat die klei geneig is om die water te steel wat vir die dorstige plantwortels bedoel was. Moenie eetbare plante kweek in motorbande of ander materiale wat swaar metale of gifstowwe afskei soos dit afbreek nie.
VOORDELE
Omdat jy alle aspekte van die kweekproses beheer – die grond, posisie, water en bemesting – en byna daagliks aan die plante sal moet aandag skenk, behoort jy probleme, peste en siektes te gewaar voordat dit ’n ernstige probleem raak.
Groente in potte is oor die algemeen makliker om in stand te hou, en onkruid en siektes is nie so ’n groot probleem nie (van baie pestilensies kan jy sommer met die hand ontslae raak, of as ’n swamsiekte dalk toeslaan, kan jy die olike plant van die res skei).
Jy kan die potte maklik skuif (sit grotes op staanders met wieletjies) indien hulle minder of meer sonlig nodig het of as dit snags te koud raak en begin ryp.
Potte is ’n goeie manier om kruie wat maklik in beddings oorneem, byvoorbeeld ment en vinkel, te beheer.
Dis aansienlik minder inspanning as om byvoorbeeld beddings om te spit of van plate onkruid ontslae te raak.
NADELE
Potte is duur en nie alle groentesoorte aard daarin nie. Veral groente wat wyd uitsprei of rank – byvoorbeeld komkommers, pampoen, skorsies en spanspek – en knolgewasse soos aartappels, wortels en rape het baie ruimte en groot, diep houers nodig.
Omdat die plante afhanklik is van jou om hulle nat te maak en af en toe kos te gee, moet jy presies weet wat elkeen se behoeftes is. Omdat potte ’n taamlike klein volume grond in verhouding tot die oppervlakte het en van alle kante af verhit word, droog die grond baie vinniger uit – strooi dus ’n dik deklaag wat sal help dat die potplante minder water nodig het en dat die grondtemperatuur nie op ’n snikhete dag die hoogte in skiet nie. Nietemin beteken dit steeds jy sal in die hoogsomer sekere potte twee keer per dag moet natmaak, maar jy moet presies weet watter, want vir ander kan te veel water letterlik die dood in die pot beteken!
Omdat potte veral in die somer daagliks aandag nodig het, sal jy iemand moet vra om daarna om te sien as jy met vakansie gaan en dié persoon ook mooi inlig.
In droogtegeteisterde gebiede is groente in potte nie altyd die beste opsie nie omdat jy potplante altyd diep moet natmaak (tot die water by die dreineringsgate uitloop). Dié water sal verlore gaan, tensy jy elke pot se uitloopwater opvang.
Jy sal elke seisoen wanneer jy plant of saai die potgrond moet vervang. >
POTTE:
Kry jou lot reg Of jy nou potte (verkieslik plastiek, want kleipotte droog baie vinnig uit) of saaibakkies, ou jogurt- of margarienbakkies of houtbokse gebruik, sorg dat dit mooi skoon is. Was dit, indien nodig, met ’n mengsel van 1 deel bleikmiddel en 9 dele water en sorg dat daar genoeg dreineringsgaatjies is. Ons meen egter ’n veel beter plan is om jou eie bioafbreekbare potjies van koerantpapier te maak. Jy kan die saailing later net so in sy “potjie” in die groter permanente pot plant sonder om die wortels te versteur. Vul die potjies met ’n grondmengsel wat jy vinnig self meng: Gebruik 2 dele gesifte kompos, 1 deel potgrond en 1 deel vermikuliet. Maak jou eie bioafbreekbare potjies Dié potjies is kinderspeletjies om te maak. Wanneer ’n saailing oorgeplant word, word die wortels gewoonlik versteur – dit word nie net aan sonlig blootgestel nie, maar van die syworteltjies kan afbreek as grond van die wortelbol afval – en dis gewoonlik ’n taamlike terugslag vir die plant. Met die ekopotjies skakel jy dié soort “wortelskok” uit, want jy plant die saailing net so met sy potjie.
Jy benodig Koerantpapier ’n Leë wynbottel met ’n diep holte in die boom (of gebruik ’n blikkie waarin kos ingemaak is)
1. Vou ’n groot vel koerantpapier in die lengte in 4 gelyke dele en knip dit dan in vier stroke van rofweg 15 cm breed. Vou ’n lip van 3 cm aan die een lang kant van elke strook, vou dit terug en vryf dit plat (en weer oop). Sit die wynbottel op sy sy op die punt van die papierstrook sodat omtrent twee derdes van die bottel bo die papier uitsteek. (Aan die onderkant van die bottel moet sowat 5 cm papier uitsteek.) Rol nou die bottel in die papier toe.
2. Vou die papier aan die onderkant van die bottel binnetoe oor die boom (werk in ’n sirkelbeweging) om die koerantpapierpotjie se boom te vorm. Draai die bottel regop en druk hard daarop terwyl jy dit in die rondte draai om die boom stewig te kry. Glip die bottel stadig uit die papiersilinder en vou die 3 cm-lip binnetoe sodat dit ’n stewige rand vir die potjie vorm.
3. Vul die potjies met grondmengsel (sien “Kry jou lot reg”) en druk 2-3 saadjies omtrent 1 cm diep in die grond. Gee dit elke 2-3 dae water (klam, maar nooit sopnat nie). Omdat die saad ’n 60-90%-kans het om te ontkiem, kan jy ’n paar sade in elke potjie plant – dan is jy seker jy het minstens een saailing. As almal ontkiem, knip die swakste plante uit (moenie dit uittrek nie!) en plant net die sterkste een met potjie en al uit in die pot waar dit gaan groei. Plant (uit)!
Kies die regte dag vir saailinge uitplant – ’n koel, bewolkte dag met die minimum direkte sonlig. Laatmiddag is ook ’n goeie tyd.
Lei alle saailinge nat voordat jy dit uitplant. Maak dan plantgaatjies in die voorbereide pot wat net so diep is soos die houer waarin dit tans groei, maar omtrent dubbel die deursnee. Maak seker elke plant het genoeg ruimte (kyk op die saadpakkie hoeveel die groentesoort benodig).
Keer die saailinge uit. Vir plante wat nie in ekopotjies is nie, moet jy jou hand bo-op die pot of saailingbakkie plaas met jou vingers om die steeltjie. Draai die pot onderstebo en druk of skud die saailing liggies uit met jou ander hand – behou soveel grond as moontlik aan die wortels. Plaas die saailing in die gaatjie sodat dit op dieselfde diepte is as in die houer waarin dit ontkiem het. Vul die res van die gat op met grondmengsel en druk dit liggies vas. Lei die plantjie nat. Hou die grond klam.