Jou gewig: Sowaar! jou brein besluit
Jy oefen en eet reg, maar verloor nie gewig nie? Dalk baklei jou liggaam en brein met mekaar
die meeste van ons het dr. Kevin Hall gedink die rede hoekom mense vet word, is eenvoudig. Jy eet te veel en oefen te min.
Kilojoules (kj) in vs. kilojoules uit: Dié sommetjie het sin gemaak. As jy meer kj eet as wat jy verbrand, gaan jy mos gewig aansit. Nè?
Sy eie navorsing – en die deelnemers aan The Biggest Loser, ’n Amerikaanse Tv-werklikheidsreeks – het hom verkeerd bewys, volgens ’n artikel op Time.com, “The Weight Loss Trap: Why Your Diet Isn’t Working”.
“Van die deelnemers het meer as 9 kg ’n week verloor,” volgens dr. Hall, ’n metabolismekenner en navorser van die Amerikaanse National Institutes of Health (NIH). “Die oefenprogramme en diëte was moordend, natuurlik sou hulle gewig afskud. Maar so baie gewig?” Hy het besluit om oor ’n tydperk van ses jaar ’n studie met 14 deelnemers aan te pak. Gedurende die reeks het die deelnemers gemiddeld ’n allemintige 58 kg elk verloor, sowat 64% van hul liggaamsgewig. Wat hy nié verwag het nie, is dat die liggaam so hard sou terugbaklei – ten spyte van ’n kwaai afrigter, dokters, streng eetplanne en moordende oefensessies. Dertien van die 14 deelnemers aan sy studie het gemiddeld 66% van die gewig wat hulle verloor het, mettertyd weer aangesit. Vier het selfs meer geweeg as voor die kompetisie.
’N KWESSIE VAN WILSKRAG?
Dit lyk inderdaad asof jou liggaam enige pogings saboteer om op lang termyn gewig af te hou. Sowat 80% van vetsugtige mense wat gewig verloor, sit dit weer
aan. Dis omdat jou rustende metabolisme (hoeveel energie jou liggaam gebruik net om jou aan die lewe te hou) verstadig terwyl jy op ’n dieet is – dalk ’n evolusionêre teruggryp na die dae toe kos skaars was. Dr. Hall het egter bevind deelnemers aan The Biggest Loser se metabolisme het nie weer versnel nie,
selfs nadat hulle die dieet gestaak het. Hul metabolisme het stadig gebly – trouens, verder verstadig! – en hulle het sowat 2 900 kj per dag minder as tevore verbrand.
Dit was nog nooit so belangrik om antwoorde vir die gewigsverliesdilemma te vind nie. Ook plaaslik: Die aantal jong Suid-afrikaners wat vetsugtig is,
het in net ses jaar verdubbel, teenoor die 13 jaar in Amerika, volgens navorsing in die International Journal of Epidemiology (Desember 2017). Ons maak ’n generasie siekes groot: Vetsug vergroot jou kans op ’n swetterjoel ernstige gesondheidsprobleme soos diabetes tipe 2, hartsiektes en kanker.
Net ’n kwessie van wilskrag? Die slimmes sê nee. Navorsing wys gewigsverlies op lang termyn is duidelik nie so eenvoudig soos bloot jou kj-inname verminder nie, volgens prof. Traci Mann van die sielkundedepartement aan die Universiteit van Minnesota, in Secrets from the Eating Lab: The Science of Weight Loss, the Myth of Willpower, and Why You Should Never Diet Again (2015). Daar is selfs ’n teorie dat jou liggaam ’n voorkeurgewig het waarop dit die beste werk. Dit beteken dat, in plaas van nog kilogramme afskud, skop ’n fisiologiese reaksie in om by ’n sekere “weerstandspunt” te bly. (Besoek www.secretsfromtheeatinglab.com.) Punt is, liggaamsgewig word deur jou brein gereguleer. Weet jy dit nie, gaan jy verbaas wees as jou brein en liggaam met mekaar begin baklei, vul dr. Stephan Guyenet, ’n neurowetenskaplike, aan in The Hungry Brain: Outsmarting the Instincts that Make Us Overeat (2017).
JOU IDEE VAN OORGEWIG NIE JOU BREIN S’N
Dis hoekom diëte nie werk nie, beaam die neurowetenskaplike dr. Sandra Aamodt, skrywer van Why Diets Make Us Fat: The Unintended Consequences of Our Obsession with Weight
Loss (2016). “Wanneer jou gewig te veel verander, tree jou brein tussenbeide en dwing dit terug na wat dit dínk die ‘regte’ gewig vir jou is. Dis nie noodwendig wat jý reken reg is vir jou nie.”
Honger en energieverbruik word deur die brein beheer, meestal agter die skerms, sê dr. Aamodt op TED Talks (kort, kragtige praatjies op www.ted.com). En dié onbewustelike ystergreep is baie sterker as enige wilskrag. Soos ’n termostaat help chemiese boodskappers van die hipotalamus om honger, aktiwiteit en metabolisme te reguleer en jou gewig stabiel te hou as omstandighede verander. Dink só daaraan: Jy kan probeer om die temperatuur in jou huis in die winter te verander deur ’n venster oop te maak. Maar jou lugversorger se termostaat sal inskop om die hitte te verhoog. Jou brein werk op dieselfde manier en sorg dat jy die gewig handhaaf wat dit as normaal beskou. Dis dalk ’n reaksie op ons ontwikkelingsgeskiedenis. Vir die grootste deel van die mens se bestaan was kos skaars. Ons liggaam het hard gewerk >
Diëte wat werk, verskil van mens tot mens 80% van vetsugtige mense wat gewig verloor, sit dit weer aan Liggaamsgewig word deur jou brein gereguleer