Sarie

REDAKTEURS­BRIEF

-

Elke maand wanneer ons ’n nuwe SARIE bymekaarsi­t, begin ons met honderd en meer skoonwit bladsye. Bladsye in afwagting, dink ek altyd.

In “normale” tye word die leë blaaie in rye teen ’n spesiale muur in die kantoor opgesit. Van die voorblad tot die laaste blad. Sodat ons almal, dag vir dag, die vordering kan dophou. Aanpassing­s kan maak. Kan sien hoe die uitgawe soos ’n legkaart voltooi word. Soms is die proses seepglad, ander kere struikelst­ruikel totdat ons tevrede is en net betyds die stuurknopp­ie druk. Dan neem die drukkers en verspreide­rs oor om te sorg dat tienduisen­de nuwe uitgawes van SARIE landwyd op die rakke verskyn.

Dis ’n wonderlike proses om te sien hoe ’n nuwe tydskrif vorm aanneem.

Hoe daar uit niks iets moois geskep word. Wit bladsye soos ’n kunstenaar­sdoek ingekleur en ingevul word met woorde, beelde, idees en drome, en saam ’n tydskrif word. En dekades later lesers steeds verwonderd laat.

Dié maand, op 6 Julie, vier SARIE haar 71ste jaar.

Verlede jaar dié tyd het ons met fanfare SARIE se 70ste gevier. Verjaardag­etes gehou saam met lesers, bekendes en oud-redaksiele­de. Baie het ver gereis – op die vliegtuig geklim van Engeland, Kanada, Malta – om saam ’n glasie te klink, ook op môre. Nooit sou een van ons ons kon indink in ’n wêreld soos nou nie. Dat knus langtafele­tes saam met vriende vir ’n ruk net ’n droom sou wees, en op ’n vliegtuig klim vir vinnige oor-en-weer-kuiers bloot ’n wens.

Maar dit neem geensins weg van die wonder van ’n tydskrif bymekaarsi­t nie. Ja, dis moeiliker, soms langsamer, want ons werk almal vanaf ons huise in die noorde en die suide. Dit vereis vele lang en dikwels uitmergele­nde Zoom- en Teams-vergaderin­gs om idees uit te ruil en sáám as span kreatiewe planne op die tafel te kry. Dán begin die proses om daardie wit bladsye te vul met stories en foto’s wat lesers sal inlig en inspireer. Nêrens in die proses kan ons ’n proefblad vashou om seker te maak die ontwerp van elke bladsy laat reg geskied aan die storie nie, nooit kan ons 100% seker maak die kleur van elke foto is van so ’n aard dat dit perfek sal druk nie. Alles, elke woord, elke foto, elke bladontwer­p, word digitaal deur my en die produksies­pan nagegaan en afgeteken.

Om dán uiteindeli­k – so saam met die lesers – die tydskrif in “lewende lywe” op die winkelrak raak te sien is ’n gevoel wat ek byna nie kan beskryf nie. Om ná al die virtuele beplanning en die digitale aftekening die uitgawe in jou hande vas te hou is pure vreugde. ’n Tydskrif nie net op ’n rekenaarsk­erm nie, maar iets tasbaar en real.

Verlede jaar kon ek nog met ’n redaksieli­d van daardie heel eerste SARIE praat. Dit is hoe sy dit onthou het: “Ons het in die fabriek gekyk hoe die eerste Sarie Marais gedruk word. Hoe die los bladsye, waaraan ons tot ’n jaar gewerk het, saam met die voorblad van die rolpers af kom. Dit was oorweldige­nd. Ons lank gekoesterd­e droom was meteens ’n tydskrif . . .”

Só voel ons elke maand. Geniet nou dié SARIE – dis vir jóú, in ons verjaardag­maand. Tot ons weer gesels wanneer ons Augustus-uitgawe vanaf 20 Julie op die rak is. Spesiaal vir Vrouemaand.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa