Lagmaar!
Ons is kwaad, geskok, hartseer . . . en lag. Met min kontak met die wêreld buiten deur ons slimfone en tablette, is ons grappige meme en video’s oor die coronavirus soos noodseine vanaf ’n afgesonderde eiland. Humor was nog altyd ’n sielkundige salf in selfs die donkerste tye
produkte wat met die virus geassosieer word, loop deur. Mense poseer met bisarre doen-dit-self-weergawes van gesigmaskers, soos bra-keëls en ja, sanitêre doekies. Só was daar selfs sjokolade-Paashasies met gesigmaskers. (Ook die Paashaas gaan nooit weer dieselfde wees nie.) Plaaslik is die draak gesteek met toiletpapier wat teen die spoed van lig van die winkelrakke gevlieg het.
Nou is dit nie ongewoon vir Suid-Afrikaners om grappies oor ons talle probleme te maak nie, skryf prof. Herman Wasserman, direkteur: film- en mediastudies aan die Universiteit van Kaapstad, in ’n artikel in The Conversation (theconversation.com). Van Jacob Zuma se beweerde grootskaalse korrupsie tot Eskom wat die ligte elke nou en dan afsit. Natuurlik is dit nie uniek aan ons nasie nie. Maar in ’n land met soveel ernstige uitdagings soos ons s’n, maak ons dikwels grappies eerder as om in die aangesig van nog ’n probleem te wanhoop.
“Suid-Afrikaners het nog altyd ’n fantastiese sin vir humor gehad, veral in die donkerste tye,” sê die komediant Anne Hirsch. “Ek dink humor is een van ons land se beste hanteringsmeganismes en iets wat ons nog deur al die jare gehelp het.
Kyk byvoorbeeld na tannie Evita Bezuidenhout in die 80’s en 90’s.”
Suid-Afrika is inderdaad een van die lande met die beste humorsin ter wêreld, reken Schalk. Humor bind (red dalk) ’n andersins verdeelde volk. Of dit nou pres. Cyril Ramaphosa is wat op openbare TV met sy gesigmasker worstel. Of Jackson Mthembu, minister in die presidensie, wat in ’n TVonderhoud van “vibrators” in plaas van “ventilators” praat. Ons lag vir dieselfde goed en vergeet ’n oomblik ons verskille.
“Humor kan ook help om ’n gemeenskap te bou. Grappies oor die coronavirus is ’n manier waarop mense sê: Ons is almal saam in die ding,” volgens prof. Wasserman. “En die ‘skeptiese gelag’ ook ’n manier van draaksteek met outoriteit en die ondermyning van politici of groot maatskappye se mag. In sommige van die grappies is dit duidelik SuidAfrikaners lag, dalk senuweeagtig, oor die regering se beloftes dat alles onder beheer is.” (Toenemend is daar meer woede en frustrasie as humor.)
En Anne: “Humor kweek empatie. As ons vir onsself kan lag op ’n openbare platform, beteken dit ons kan ook kwesbaar voor mekaar wees, wat ons uiteindelik meer menslik maak. Ons almal kan in dié stadium met ’n bietjie meer menslikheid doen.”
Nou is daar mense wat ongemaklik is met grappies oor so ’n ernstige, dodelike siekte. Prins William is hoeka aanlyn gekritiseer oor sy geestigheid rakende die virus. Waar trek jy die streep? Dis ’n vraag wat hy baie as komediant gevra word, sê Schalk. “Humor is soos kos. Almal se smaak verskil. As jy ’n traumatiese ervaring gehad het, is jy minder geneig om vir donker humor te grinnik wat jou daaraan herinner.” Maar dit sal dalk die volgende ou laat rol van die lag.
Tog kan grappies en satire ook misleidende inligting versprei. Mense weet nie altyd wat om as die waarheid te aanvaar en waaroor om net te lag nie, skryf prof. Wasserman. Baie fopnuus het inderdaad as ironie begin wat verkeerd verstaan is. Soos die verkeerde en gevaarlike idee dat jy jou mond met bleikmiddel moet uitspoel om die virus te ontduik. In die afwesigheid van konteks kan die streep tussen wilde nuusstories en sarkastiese meme baie dun wees, volgens die tydskrif Wired (wired.com).
Dit kan wel ook positief aangewend word. Viëtnam se minister van gesondheid het ’n antivirus-liedjie uitgereik wat burgers moes motiveer om hul hande behoorlik te was.
Mense het dit so aansteeklik (ja!) gevind, dit het ’n dansgier op TikTok (sosialemediaplatform vir die skep en deel van kort musiekvideo’s) geword. Neil Diamond plaas ’n video van homself op sosiale media waar hy op maat van “Sweet Caroline” sing: “Hands . . . washing hands (. . .) don’t touch me . . . I won’t touch you.”
Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) en die Rooi Kruis-vereniging gebruik weer TikTok vir openbare aankondigings, met byvoorbeeld jazzerige handewassessies. ’n Manier om mense op te voed sonder dat hulle angstig winkels toe hol om stapels toiletpapier te koop.
Schalk sê: “Humor is ’n vorm van genesing. As jy nie in dié dae kan lag nie, kry ek jou jammer.” Want het ons nie almal nou iets warms nodig om aan vas te hou nie? Ons durf immers aan niks anders raak nie.
Bykomende bronne: nytimes.com, wired.com