SIELKUNDIGE
Humor is sedert die begin van die geskiedenis ’n sielkundige salf in die donkerste tye. Só het Emily Hobhouse ná die Anglo-Boereoorlog dikwels verwys na die Boere se “perfect good humor”, sê Elsabé Brits, skrywer van Emily Hobhouse, geliefde verraaier (Tafelberg, 2016). Emily het byvoorbeeld by geleentheid by genl. Christiaan de Wet en sy gesin gekuier. Al wat hy ná die oorlog oorgehad het, was sy geweer en getroue wit perd, Fleur. Die gesin se huis is deur die Engelse afgebrand en daarna met dinamiet opgeblaas. “De Wet lag steeds, soos al die burgers,” skryf Emily. “Indien nie, sal hy doodgaan. Dit maak hom groot pret.” Die Engelse regering en soldate is weer die ewige teikens van sy vrou, Cornelia, se gevatte sêgoed. Emily verwys ook na die manier waarop sy deur die Boere ontvang is. Soms was daar net brood om te eet, maar altyd glimlagte en gasvryheid.
Reënboë, oral is daar deesdae reënboë. As herinnering dat die ganse mensdom teen ’n nuwe vyand moet saamspan. En bowenal dat daar, selfs in die donkerste tye, altyd hoop is. Maar o aarde, waar is die kleur in ons eie lewe?
Sy het gedurende die grendeltyd heelwat Zoom-sessies bygewoon, sê Lien Potgieter, kommunikasiekundige en kleurterapeut*. “Wat my opval, is hoe min kleur mense in hul huise het. Is ons bang vir kleur? Of dalk nie bewus van hoe kleur jou omgewing en kreatiwiteit beïnvloed nie? En ek praat van kreatiwiteit op alle gebiede – die vermoë om probleme op te los, met nuwe idees vorendag te kom, jou emosies te balanseer, jou gemoed te kalmeer.”
’n Mond vol. Kunstenaars en binneversierders glo al lank kleur kan jou bui en gedrag drasties beïnvloed. Dis ’n vuurwarm onderwerp in bemarking, kuns, ontwerp en op talle ander gebiede. Een ding is seker: Jou gevoelens oor kleur is dikwels baie persoonlik en gewortel in jou eie ervarings of kultuur.