Elsabé, Sonja & Sandra: Hulle bly relevant – dís gravitas!
Tydlose lewensvreugde, wysheid, insig en ervaring. Dís wat die aktrise Judi Dench se onlangse Vogue-voorblad – op 85 – vier. Hoor wat sê bekendes soos Elsabé Daneel, Sonja Herholdt en Sandra Prinsloo wat steeds self met verwondering na die wêreld kyk
Dame Judi Dench versinnebeeld gravitas waarmee oud én jonk kan identifiseer. Met haar elfie-haarstyl, stylvol geklee in ’n geblomde uitrusting van Dolce & Gabbana, loer sy ondeund na die kamera op die voorblad van die Junie-uitgawe van die Britse Vogue. Op 85 die oudste voorbladgesig nóg van ’n modetydskrif. Hier is iemand wat sedert 1957 al haar staal wys as aktrise. Van haar eerste televisiereeks, Hilda Lessways, en haar rol as M in Bond-flieks soos Goldeneye regdeur tot Shakespeare in Love (waarvoor sy in 1999 ’n Oscar gewen het), is sy ikonies. Meer onlangs skitter sy in die guitige Best Exotic Marigold Hotel-flieks (juis oor hip ouer mense, tot Richard Gere verskyn daarin) en die verkwiklike verwerking van Agatha Christie se Murder on the Orient Express. Vanjaar is sy ’n gemmerkat in die rolprent Cats. En dís juis die punt. In dié distopiese tye, waar g’n mens weet wat wag nie, is sy ’n baken, iemand wat al gelééf het en op 85 sê: Ek is steeds hier en niks gaan my onderkry nie. Ook nie ’n virus nie.
Haar trooswoorde op die voorblad van Vogue ruk aan die hart en spreek van die wysheid van haar jare: “If a great deal of kindness comes out of this, then that will be a plus.” Ons smag na dié soort warmte.
Geen ander tydskrif volg dié roete nie. Op die Amerikaanse
Vogue se voorblad pryk die rietskraal Israeliese aktrise Gal Gadot in ’n silwer aandrok in ’n strak woestynlandskap. Die nuustydskrif TIME wys foto’s van mense met maskers . . .
Maar hier, besef ons, is veel meer aan die gang as die verskyning van ’n 85-jarige op ’n glansvoorblad.
Vir seker, sê die antropoloog prof. Cees van der Waal van die departement sosiologie en sosiale antropologie aan die Universiteit Stellenbosch. “Die tydskrif waag om die skoonheid en besonderse waarde van die ouderdom uit te beeld. Die foto vestig die aandag op háár generasie en die
baby boomers, gebore tussen 1946 en 1964, omdat hulle almal juis nou in die nuus is weens die pandemie. Ouer mense is nog meer kwesbaar as gewoonlik, veral dié met onderliggende gesondheidsprobleme.” En dit het wêreldwyd gelei tot ’n debat oor hoe generasies van mekaar verskil en wat die verhouding tussen hulle is. “Die geveg teen ‘ageism’ – vooroordele teen ouer mense – is ’n nuwe verskynsel. Dit het gekom in reaksie op dikwels eensydige uitsprake wat stereotipes oor ouer generasies ondersteun,” sê hy.
Die Judi-debat is ook ’n Suid-Afrikaanse een. Annelize Visser, leefstylredakteur van die aanlyn nuustydskrif Vrye Weekblad (vryeweekblad.com) en ’n aanhanger van Dench, sê dié aktrise staan vir onafhanklike denke en bevraagteken dikwels sosiale norme, veral dié wat van toepassing is op vroue van ’n bepaalde ouderdom. “Sy is moedswillig en ek hou daarvan.” Annelize herinner ons dat Dench al in onderhoude verwys het na volwasse, geleerde vroue wat nie skaam is om ’n ding te sê soos dit is of mense op hul plek te sit nie.
Dench het in hierdie coronatye al 5,4 miljoen klikke gekry vir haar grappige Twitter-video waarin sy ’n prettige hondehoed dra met ore wat uitpop en kykers aanmoedig om aan te hou lag – en oud en jonk doen ewe gewillig saam.
Sy het, terloops, op 81 haar eerste tatoeëermerk gekry (carpe diem, Latyn vir “gryp die dag aan”, staan in hoofletters op haar pols), het al jare lank ’n lover (haar man, die akteur Michael Williams, is in 2001 oorlede), is gek oor sjampanje en haar kleinseun bel haar daagliks, want hulle deel ’n passie vir Ed Sheeran se musiek en sokker. (vogue.co.uk)
Dis g’n wonder vele millenniërs twiet deesdae dat ’n mens háár geslag moet eer en beskerm nie.
Annelize vertel Vrye Weekblad voel só sterk oor die hele ageism-kwessie dat hulle in drie agtereenvolgende uitgawes daaroor geskryf het. Adjunkredakteur Adri Kotzé wei uit oor die angs van mense in sorgsentrums (“Ons oumense se angs in die Covid-ghetto”, 1 Mei); ’n week later volg Anneliese Burgess, mederedakteur, dit op met ’n artikel, “Ouderdom is g’n rede om mense op die virus-altaar te verbrand”. >