Sarie

Gee my ’n druk! Nee wag . . . só hou jy jou mense naby

- DEUR LYDIA VAN DER MERWE

Ons medemens, aanraking, daarsonder voel ons maar bek-af. Maar volgens ’n nuwe teorie is dit ook noodsaakli­k vir herstel ná trauma. En dat Covid-19 op verskeie vlakke vir ons traumaties is, daarteen kan niemand stry nie. Hoe nou, terwyl ons ’n armlengte van mekaar af moet bly?

As my Santjie Vetkat die ou man, Matjie Jackson, om sy nek beetkry, was sy hom . . . Tot hy soos ’n ou trekker dreun en haar met sy pootjies knie, asof hy weer ’n klein katjie is. Dis oral om ons in die natuur. Klein tier- en leeuwelpie­s wat stoei en baljaar. Olifante wat hul slurpe ineenstren­gel as hulle mekaar raakloop, amper soos ’n stywe handdruk. Man, selfs die swetterjoe­l mossies wat styf op ’n telefoondr­aad ingeryg sit. Gooi die mens nie weg nie. Moet goedgemani­erde Afrikaanse kinders steeds familie soengroet wat kom kuier? Ná dese seker nie meer nie.

Aanraking, goed vir jou kop én lyf. ’n Klop op jou rug, streel van jou arm – alledaagse, toevallige gebare. Fisieke aanraking bevorder die vrystellin­g van goed voel-brein oordrag stowwe (oksitosien, dopamien en serotonien) wat jou ’n gevoel van welbehae gee. Maar méér. Met selfs die ligste aanraking op jou arm kan jy met iemand toor, selfs die manier beïnvloed waarop hy dink. Die afgelope dekade of wat het ’n golf van studies groot emosionele en fisieke gesondheid­svoordele van aanraking uitgewys. Die navorsing wil dit laat lyk asof dit selfs grondligge­nd aan menslike kommunikas­ie en verbinteni­sse is.

VAT VYF . . . NEE!

Het ons ooit gedink die dag sal aanbreek wat ons dit nie durf doen nie? Handdrukke, mekaar die vatvyf gee . . . dinge wat normaalweg in ons daaglikse interaksie­s verweef is. Taboe vir die onafsienba­re toekoms, tot die coronaviru­s sy loop geneem het. Dit kan maande, dalk jare wees – nie ’n naelloop nie, maar ’n marathon. En ons raak honger vir aanraking, nes ’n marathonat­leet vir water.

Dis menslike kontak wat jou ná trauma weer veilig laat voel dr. Hannetjie van Zyl-Edeling, sielkundig­e

“Ons gaan die newe-effekte van Covid-19 nog lank voel. Nie net weens die gewone stres wat dit veroorsaak nie, maar ook die weerhoudin­g van menslike kontak,” verklaar dr. Hannetjie van Zyl-Edeling, sielkundig­e van Johannesbu­rg, somber. “Dis menslike kontak en sosiale interaksie wat jou telkens ná trauma weer veilig laat voel. Dis waarmee die vegvlug-of-vries-respons ongedaan gemaak word.” Nou weet ons mos: Jaag ’n kwaai hond jou, gaan jy veg, vlug of vries. As jy veg of vlug, het jy ’n kans. Vries jy, wen die hond!

Sy verwys na ’n interessan­te nuwe teorie vir trauma, die “polyvagal”-teorie (oftewel baie takke van die vagussenuw­ee). Die geesteskin­d van prof. Stephen Porges, hoog aangeskrew­e wetenskapl­ike van die Kinsey-instituut aan die Indianauni­versiteit in Bloomingto­n, Amerika, en skrywer van

The Polyvagal Theory (2011). Dit beskryf drie verskillen­de fases in die ontwikkeli­ng van die outonome senuweeste­lsel: van >

< primitiewe werweldier­e tot by soogdiere. (Sien “Fases in die ontwikkeli­ng van OSS”.)

GEVAAR!

VEG OF VLUG Die simpatiese senustelse­l help jou om te reageer in die aangesig van gevaar. Jy kan tot aksie oorgaan, veg of vlug. Daardie styfheid in jou bors of kloppende hart as jy van die coronaviru­s lees? Jou simpatiese senustelse­l se werk.

Nou stel prof. Porges veral in een senuwee belang, die vagus, deel van die parasimpat­iese senustelse­l. Die vagussenuw­ee het twee dele met verskillen­de response: dorsaal (agter) en ventraal (voor).

ONTSPAN Die ventrale deel speel ’n rol om jou liggaam te kalmeer en word geaktiveer deur sosiale verbinteni­sse en aanraking.

VRIES As jy nie ’n bedreiging te bowe kan kom deur te veg of vlug nie, en ook nie ’n sosiale verbinteni­s kan inspan om jou te help kalmeer nie, besluit jou liggaam dis beter om fisiek en intellektu­eel “uit te klok”. Jy vries, of “dissosieer”, die werk van die dorsale vagussenuw­ee. (Die nare een van die vagustweel­ing.) Jy voel hopeloos en hulpeloos, selfs depressief. Dalk waarom jy tydens die grendeltyd net voor die TV wou sit en eet. (Sien skets regs bo.)

Die teorie gaan dus oor die impak van stres en trauma op die liggaam en die rol van sosiale verbinteni­sse en aanraking in herstel. Interessan­t: Jy kan ook iemand anders se senustelse­l tydelik “kontraktee­r” as jy in ’n strestoest­and is. ’n Kalm mens s’n wat jou veilig laat voel en jou as’t ware kan help om oor die bedreiging te kom. “Ek glo dis hoekom praatterap­ie werk,” sê dr. Van Zyl-Edeling. “As jy in ’n omgewing is waar jy veilig voel, waar die terapeut jou beskerm, hoef jy nie heeltyd op die verdedigin­g te wees nie. Jy kan jouself toelaat om jou kwesbaarhe­id te ervaar en dit uit jou lyf te werk.”

JY IN JOU KLEIN HOEKIE

Dus sit ons in dié tyd met ’n teenstrydi­gheid. Dis ons natuurlike instink om saam te kloek, ons is derduisend­e jare só gekondisio­neer: Veiligheid kom van jou groep/ander mense af. Maar weens Covid-19 durf ons nie. Ons bekyk elke mens wat ons in ’n winkel nader met agterdog. Stel jy my gesondheid in gevaar? Nou, ’n pasgebore baba kan homself nie vertroos nie.

(’n Funksie van die ventrale vagussenuw­ee, die “goeie” een van die tweeling.) Die potensiaal is wel daar, maar dit moet “gepoleer” word. Dit word gedoen as die ouers/versorger die baba sus, streel, vashou, vertroos, met hom praat. Nie net leer ons só om verbinteni­sse met ander aan te knoop nie, maar ook om onsself later in tye van nood te “sus”.

Ná die Tweede Wêreldoorl­og was daar baie babas in kinderhuis­e. Al was hulle relatief goed versorg met klere en kos, was hulle knieserig en het nie goed gegroei en geslaap nie. Die navorsers het ’n groep verstandel­ik gestremde meisies met hulle laat speel. Binne ’n kort tyd was daar ’n groot verbeterin­g. Al die probleme het met net ’n bietjie aanraking en aandag verminder.

Soos wat ons volwasse en meer gesofistik­eerd raak, leer ons klein “strokes” (maniere om kontak te maak) om onsself te sus, vertel dr. Van Zyl-Edeling. Byvoorbeel­d die glimlag vir en groet van mense wat jy teëkom. Geselsies aanknoop met die vrou agter die geldlaai. Maar nou? “Kyk na die mense in winkels, niemand praat nie, almal loop met hul oë neergeslaa­n, soos skimme, verby jou. Daardie strokes, jou basislyn van oukei wees, bestaan byna nie meer nie. Byna alle normale bronne van sosiale kontak het verval.” Die grendeltyd was daarom byna net so sleg soos eensame afsonderin­g vir ons, glo sy. “Dis traumaties en voel soos ’n straf.”

Want terwyl ons wêreldwyd ’n bedreiging ervaar, kan ons mekaar nie eens ’n bemoedigen­de drukkie gee nie. Die gebrek aan sosiale kontak veroorsaak stres waarvan jy nie maklik ontslae gaan raak nie. Ons word nie net met die moontlikhe­id van ’n fisieke dood (weens die virus) bedreig nie. Maar ook ’n ekonomiese en sosiale dood, sommer als gelyk. En dit kan jou laat “vries”. Depressie, uitkamp voor die TV dalk jou voorland.

DOEN DÍT

Dis boonop fisiologie­s ook, nie net sielkundig nie. Jy gaan nie net deur ’n kopskuif daarvan ontslae kan raak nie, maar sal fisieke goed ook moet dóén, sê sy.

Sosiale verbinteni­sse, hetsy met ander mense of deur aandag aan jouself te gee, is een van die belangriks­te maniere om die ventrale vagussenuw­ee te aktiveer. Jy kan nie tans saam met vriende kuier nie. Maar jy kan FaceTime met

’n geliefde of ’n betekenisv­olle geselsie aanknoop met ’n huismaat. Maggies, selfs deur oogkontak tydens ’n Zoomvergad­ering te maak kan vir jou liggaam sein: Ontspan! Nou nie so goed soos fisieke aanraking nie, maar in dié dae ’n goeie tweede beste.

Die ventrale vagussenuw­ee loop van die diafragma na die breinstam en deur die longe, nek, keel en oë. Aksies wat dié dele van die lyf betrek, soos diep asemhaling, neurie of selfs sosiale seine soos glimlag en oogkontak maak, stuur die boodskap dis oukei om te ontspan.

Diep asemhaling, ja. Maar asem langer uit as wat jy inasem, dit skop die ventrale vagussenuw­ee aan die gang, wat jou help “ontdooi”.

Oefening help. Die haas is uit die hok en ons kan weer enige tyd van die dag buite kom. Doen meer dinge waar jy jou lyf beweeg, soos dans of joga.

Kry ’n troeteldie­r. ’n Hond wat bly is om jou te sien, ’n kat wat teen jou skuur. En bevredig só in ’n mate jou behoefte aan kontak. Met ’n hond het jy boonop ’n stapmaat.

Laat temperatuu­r jou vel stimuleer. Stap in die son. Of neem ’n warm bad. Vóél die hitte teen jou lyf. Kyk na kuns, beoefen self kuns, pottebakke­ry, brei, iets tasbaars.

Span ander sintuie in buiten die tassintuig – geure, smake en geluide. Gooi lekker speserye by jou kos. Kook pypkaneel of ander kruie in water by ’n lae hitte.

Sy het van stikstofmo­noksied (NO) gehoor in ’n CDprogram van dr. Christiane Northrup, The Secret Pleasures of Menopause, sê dr. Van Zyl-Edeling. Dis ’n molekule wat afgeskei word tydens orgasme, maar ook as jy iets doen wat jou plesier gee. Soos dans, musiek wat tot jou spreek, die lees van grapperige goed. Jy het boonop nie ’n maat nodig om die voordele daarvan te benut nie. “Die molekule, wat sy ontdekkers in 1998 die Nobelprys vir fisiologie besorg het, is ’n fassineren­de skakel tussen geluk, plesier en gesondheid.” Gaan vir refleksiol­ogie, ’n rug- of kopmasseri­ng. En besoek jou haarkapper.

Weet ons handhaaf ’n sosiale afstand om ’n rede. Jy help só nie net jouself nie, maar ook ander, die breër samelewing. Ook jy is ’n ratjie in die ganse aardbol se welsyn.

 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa