Sarie

Húlle sit agter fopnuus: Dalk ook jou ma!

Elkeen met ’n selfoon is deesdae ’n joernalis. En hoekom nou feite met ’n sappige storie laat inmeng? Die BBC het honderde misleidend­e stories tydens die pandemie ondersoek en die skuldiges probeer eien. Die antwoorde verras jou dalk

- DEUR LYDIA VAN DER MERWE

Dalk het jy die eerste keer in ’n fliek of TV-reeks gehoor van ’n “klik-plaas” (click farm). Soos in die satiriese reeks Silicon Valley, waar Richard Hendricks erken hy het een gebruik om dit te laat lyk asof baie meer mense Pied Piper se nuwe app gebruik as wat werklikwaa­r die geval is.

As jy dinge vir die internet skep, sink of swem jou loopbaan op ’n oseaan van klikke. Dis waar vir die joernalist­iek, YouTube en skeppers van apps soos Richard en sy spannetjie nerds.

Mense kan nou maar die “klik” afkam, nes ons swak aanlyn kopie “klik-aas” (clickbait) noem. Maar dis ’n eenheid van vertroue, waarde; van verbruiker­s se belangstel­ling in jou produk. En sogenaamde klik-plase bestaan regtig. ’n Associated Pressversl­ag in 2014 wys die vinger na ’n geheime bedryf, gewoonlik in Suidof Suidoos-Asië, wat van duisende LinkedIn-konneksies tot YouTubekyk­e en Facebook-likes verkoop. Soms doen robotte die werk, soms swoeg onderbetaa­lde werkers voor rekenaars.

Jy dink moontlik dit het niks met jou uit te waai nie. Maar dit het! Fopnuus het ’n uitwerking op ’n magdom dinge, na gelang van die inligting wat oorgedra word. Dit versprei boonop vinniger en bereik meer mense as die waarheid, het Amerikaans­e navorsing bevind. En het ’n belangrike impak op die politiek, maar ook op gesondheid, voeding, klimaatsve­randering, selfs finansiële inligting.

Ons dink dalk fopnuus en bleeksiel gaan saam soos sout en peper, Jin en Jang. Maar in der waarheid kan dit deur enigeen geskep en versprei word. Die BBC het gedurende die Covid-19grendelt­yd honderde misleidend­e stories ondersoek. En ’n idee gekry wie daaragter sit. Hulle het sewe groepe onderskei. (Sien kassie hierbo.)

Baie sulke stories word as ’n grap gebore, of omdat mense regtig-egtig verveeld is. Maar sommige word geplaas om jou doelbewus te bedrieg. Eerstens om jou sover te kry om te klik sodat hulle geld uit advertensi­es kan maak, of selfs uit ’n skelmstree­k. Of om jou anders oor iets of iemand te laat dink. Maar jy, ja ook jy, kan aandadig daaraan wees dat dit soos een van die plae van Egipte aanteel. Hoe meer mense ’n plasing “like” op Facebook, hoe meer mense op Yahoo! Answers saamstem ’n plasing is bruikbaar, hoe meer verander dit ander mense se persepsie dat dit iets van gehalte is, het navorsing bevind. Of dit nou fopnuus is, of nie.

“Waninligti­ng – die meeste mense verkies deesdae dié term bo ‘fopnuus’ – is nie altyd georkestre­er nie,” sê prof. Herman Wasserman, direkteur: filmen mediastudi­es aan die Universite­it van Kaapstad. “Hoewel daar natuurlik wel georkestre­erde veldtogte is, veral wanneer dit by die politiek kom. Dit het ons in verskeie verkiesing­sveldtogte gesien. En hier ter plaatse onder meer met die Bell Pottinger-sage.* Veral wanneer dit kom by die verspreidi­ng van waninligti­ng, is gewone gebruikers van die sosiale media en boodskappl­atforms soos WhatsApp ook aandadig en aanspreekl­ik.”

In ’n aanlyn peiling in Kenia, Nigerië en Suid-Afrika het prof. Wasserman en dr. Dani Madrid-Morales van die Universite­it van Houston in die VSA boonop bevind Afrikane deel fopnuus meer gereeld as Amerikaner­s: 41% van Keniane, 33% van Nigeriërs en 32% van Suid-Afrikaners het erken hulle het al politieke nuusstorie­s aanlyn gedeel wat later opgemaak blyk te wees. In Amerika was dit 16%.

Die Nigeriese skrywer Adaobi Tricia Nwaubani vertel in ’n kostelike artikel op BBC.com komediante in haar land steek die draak met ma’s wat heeldag en aldag op WhatsApp is. Daar is ’n algemene klagte onder jonger Nigeriërs oor die aard en aantal WhatsApps wat hulle van hul ma ontvang. Jy word wakker en daar is tien video’s van jou ma af. En elkeen begin met: “Jy móét >

< hierna kyk!” “Dit kan iemand help!” Een vrou het op Twitter gekla haar ma sit uie in die huis se hoeke – aangeprys op WhatsApp omdat dit glo gifstowwe absorbeer. Verskeie ander het beaam hul ma volg ook dié onjuiste raad. Toe nog ’n dogter haar ma daarop wys haar “gesondheid­swenke”, konkoksies om te meng en te drink, is twyfelagti­g, was haar antwoord: “Jy weet nooit, probeer dit net.” Nou ja, dis beslis nie beperk tot Nigerië en ma’s nie. Almal wat tydens die inperking deel van ’n WhatsAppgr­oep was, kan daarvan getuig.

Een van die belangriks­te motivering­s hoekom mense waninligti­ng aanstuur, is ’n misplaaste sin vir burgerlike verantwoor­delikheid, het prof. Wasserman se navorsing bevind. “Jy ontvang ’n boodskap oor een of ander wonderkuur vir die coronaviru­s en stuur dit aan ‘net ingeval’ iemand daarby kan baat vind. Al weet jy self nie of dit waar is nie. En ontstellen­d, sulke boodskappe word dikwels aangestuur selfs al weet mense dis nie waar nie.” In die studie het 25% van Suid-Afrikaners, 29% van Keniane en 18% van Nigeriërs “ja” gesê op ’n vraag of hulle al nuusstorie­s gedeel het wat hulle weet opgemaak is.

“‘Pret’ is nog ’n motivering – mense stuur dit ‘sommer vir die grap’ of ‘sommer vir interessan­theid’ aan, maar besef nie hoe skadelik dit kan wees nie. Juis in dié tyd dat betroubare mediese inligting so belangrik is. ’n Ander motivering is ‘bewusmakin­g’ – mense stem nie noodwendig saam met die waninligti­ng nie, of weet nie of hulle dit kan vertrou nie. Maar stuur dit nietemin aan omdat hulle voel mense moet weet wat die ronde doen, of om te wys hulle is ‘op hoogte’ van die jongste nuus,” sê hy.

Glansperso­onlikhede speel ’n belangrike rol om misleidend­e aansprake in die hoofstroom te laat beland. En gooi politici nie weg nie. ( Ja, president Trump!) Bekendes (politici,

celebs) met ’n groot sosialemed­ia-gevolg is “sleutelver­spreiders van waninligti­ng”, volgens die Britse koerant The Guardian (theguardia­n.com). Terwyl sosialemed­iaplatform­s vinniger as in die verlede optree om vals inligting oor die coronaviru­s uit te lig, help van die voorste akteurs en vermaaklik­heidsterre – met miljoene volgelinge op Twitter en Instagram – om die vlamme aan te blaas. Hulle bereik dikwels baie meer mense as hoofstroom­nuusdienst­e. Politici en celebs is verantwoor­delik vir die skep of verspreidi­ng van 20% van vals inligting oor die coronaviru­s, het navorsing aan die Oxford-Universite­it se Reuters-Instituut vir die Studie van Joernalist­iek bevind. Maar dit gee aanleiding tot sowat 69% van alles wat op sosiale media aangaan. Terwyl die meeste vals inligting op sosiale media dus van gewone mense afkomstig is, maak sulke plasings deur jou en my baie minder opslae.

Maak Hollywood se Woody Harrelson op sy Instagramb­lad ongegronde aansprake oor die coronaviru­s-uitbreking en die installeri­ng van 5G-netwerke in Chinese stede, trek dit egter teen die spoed van lig deur die kuberruim.

(Die histerie rondom die tegnologie bons al op sosiale media rond sedert die selfoon in sy kinderskoe­ne was. Sommige kritici het toe aangevoer die 2G-luggolwe kan kanker veroorsaak. Nou, met die verskyning van 5G, kry daai vuur weer petrol. Letterlik. ’n Paar maande gelede is talle selfoontor­ings in Brittanje aan die brand gesteek en gevandalis­eer.) Woody is ook ’n luide anti-vaxxer: Mense wat glo die inenting van kinders is hoogs gevaarlik. Hoewel daar geen wetenskapl­ike bewyse is dat immuniseri­ng jou kind kan benadeel nie, is dié “komplotter­s” nie oortuig nie. Daar is ’n reusekloof tussen wetenskapl­ike bewyse en wat hulle glo die verborge waarheid is.

Die coronaviru­s is boonop nuut en versprei op so ’n skaal en teen so ’n spoed dat mense verward na antwoorde soek. “Angstige mense sal dikwels enige sameswerin­gsteorie aangryp wat hulle hoop gee of beter laat voel,” sê prof. Wasserman. Plaaslik is ons

nie ontsien nie. In ’n Facebookvi­deo het ’n Suid-Afrikaner medeburger­s gemaan om “besmette” Covid-19toetstoe­rusting te vermy en ook die blaam vir die uitbreking op 5G gepak. Met ’n wattestokk­ie in sy neus het hy aangevoer hy gee landgenote die “belangriks­te boodskap wat jy in jou hele lewe gehoor het”. Hy is summier in hegtenis geneem.

Mense wat vals stories oor die coronaviru­s glo, is ook meer geneig om die regering se riglyne oor die handhawing van sosiale afstand te ignoreer, het ’n Britse studie bevind. Dié wat glo Covid-19 is gekoppel aan 5G-selfoonmas­te, is ook minder geneig om binnenshui­s te bly en hul hande gereeld te was. En stel ons almal dus in gevaar.

Nog ’n groep wat in die huidige klimaat van vrees floreer, is die swendelaar­s, boereverne­ukers. Wanneer iets mense bang, histeries of verward maak, is daar altyd skelms op die loer wat kwakmedisy­ne verkwansel. Só verkoop ’n maatskappy, 5GBioShiel­d, ’n USB-geheuestaf­ie teen £283 (sowat R6 000) wat jou beskerm teen die elektriese “mis” wat alle elektronie­se ware glo afgee. Maar toetsing het gewys dis niks meer as ’n standaard-128 MG-USB-stafie nie. Daar is honderde sulke maatskappy­e op die internet wat my en jou met

’n slap riem probeer vang. Hoekom ons daarvoor val? Die inligting is dalk vals, maar die verduideli­king meer toeganklik; Jan Alleman kan dit verstaan. Al is daar berge wetenskapl­ike getuienis wat die teendeel bewys, is dit dalk in ’n vaktaal wat ons aan die slaap sus, volgens die tegnologie-webtuiste telecoms.com.

En nes jy dié slaggate misgetrap het, moet jy koes vir die “ingeligtes” met kennis uit die “binnekring­e”. ’n Dokter, professor of hospitaalw­erker (glo), met skrikaanja­er-nuus. Die “ingeligte” is natuurlik allesbehal­we dit. Die Britse ambulansdi­ens moes byvoorbeel­d in April vure doodslaan nadat ’n vals stemboodsk­ap op WhatsApp vinniger as die virus self versprei het. ’n “Werknemer” het beweer ambulanse gaan nie meer beskikbaar wees vir mense met Covid-19 nie.

Dat ysskaatsba­ne as nood-lykshuise ingespan gaan word. En dat ’n derde van sterftes in komende weke babas, kinders en tieners gaan wees met geen onderligge­nde gesondheid­skwessies nie. Natuurlik pure snert.

In Afrika moet ons ook nie die rol van humor, grappies, satire, riemtelegr­amme en skinder vergeet nie, sê prof. Wasserman. In ’n artikel noem die Britse historikus en aktivis Stephen Ellis die verskynsel dwarsoor die kontinent “sypaadjie-radio”. Dit word ondersteun deur die wydverspre­ide mondelinge tradisie in dié samelewing­s en is die nie-amptelike bespreking van die sake van die dag. “Dis sake van openbare belang waaroor daar nie ’n amptelike aankondigi­ng was of waar die amptelike inligting nie vertrou kan word nie,” volgens prof. Wasserman. “Ongelukkig kan grappies en satire ook waninligti­ng versprei omdat mense nie altyd weet watter inligting om te vertrou en waarvoor om net te lag nie.”

In die tyd van ’n pandemie kan dit dodelik ernstig wees. ’n Man in Arizona in die VSA het ’n vistenksko­onmaakmidd­el gedrink en gesterf omdat hy geglo het dit sal hom teen die coronaviru­s beskerm. Dit was nadat pres. Trump gesê het dit sal interessan­t wees om te toets hoe mense met Covid-19 reageer as hulle met ’n soort antiseptie­se middel ingespuit word. Later het hy gesê hy was net sarkasties.

* Die Britse skakelmaat­skappy Bell Pottinger is glo deur die omstrede Gupta-familie en ander staatskape­rs ingespan om met politieke retoriek ’n weerligafl­eier vir selfverryk­ing te skep.

Bykomende bronne: businessin­sider.com, telecoms.com, sciencemag.org, BBC.com

 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa