Sanger Dozi oor pa-wees; RSG se Martelize oor nuwe liefde
’n Tyd waarin ons opnuut die waarde van sterk verhoudings besef. Op sy plaas by Hartbeespoortdam het sy musikantseun sanger Dozi geselskap gehou, en RSG-radio-aanbieder Martelize Brink het by die liefde van haar lewe in die Paarl ingetrek
‘My seun maak my rustig.’
Dozi en Storm
Eintlik moet sý naam Storm gewees het, reken Dozi. Hy spreek dit met ’n harde “r” uit. “Storm is die rustigheid self en baie meer verantwoordelik as wat ek op 22 was.”
Dié pa en seun het onlangs saam “gegrendel” op Dozi se plaas van 15 hektaar by Hartbeespoortdam – die langste tyd wat hulle saam was sedert Storm ’n baba was.
“Ons het elke aand gebrainstorm oor die lewe,” vertel Dozi, gedoop
Henk Opperman, trots. “Daai kind is ’n engel, man.”
Storm is Dozi se kind by die model Tanya Metelerkamp. Kleintyd wou hulle nie dat die media oor hul seuntjie skryf nie. “Maar ek het hom nooit ontken nie en is mal oor pa-wees.
“Toe ek destyds pa geword het, was my lewe as muso te wisselvallig. Ek was altyd op reis, by feeste, besig. Dis nie ’n lewe vir ’n kind of vrou nie. Dinge het gelukkig perfek uitgewerk. Sy ma is ’n sterk vrou met haar eie loopbaan en het hom pragtig grootgemaak. Hy het maniere, man, geen hang-ups nie en is sag, clued-up. Soms het hy by my op die plaas kom kuier. Wanneer ek gigs gehad het in die Kaap, het ek hom altyd besoek. Ons het ’n beautiful verhouding.”
Gedurende die grendeltyd, vertel Dozi, het hulle gesond geleef. Elke dag saam pasta, slaai en hoendergeregte gemaak, vleis gebraai. Twee uur gesweet in die “mini-Virgin Active” op die plaas en tot saam hout gekap. “Hy moet self goed doen. Niemand gaan na jou kyk omdat jy ’n muso is nie. Hulle gaan dalk ’n paar bucks uit jou maak . . . Mense dink as jy ’n rock star is, het jy só ’n lewe. Ek moes vrek hard werk vir wat ek bereik het as muso.”
Daarom is hy bly Storm studeer in die “musiekbesigheid” – ’n sakediploma in musiek aan die Campus of Performing Arts (COPA) in Kaapstad. “Sing is een ding, maar jy moet jou sake kan hanteer.”
Dit was tydens ’n vakansie in Portugal in 2017 saam met vriende dat Dozi besef het sy kind, wat deel is van die groep The Stinging Rogers, kan sing. Storm was toe tydens ’n gap-jaar ’n skipper op ’n seiljag in die Mediterreense See en het vir sy pa gaan kuier in Lissabon. Daar het hulle begin tokkel en sing, iets wat hulle ook saans op die plaas gedoen het. “Daai outjie se DNS is myne, verstaan jy? Jy moet die kombinasie van die ou en die jong stem hoor.”
Die plaas het aan Dozi se oorlede pa, Theunis, behoort. “Ek is nie ’n boer nie, maar ek hou van die veld.” Die swembad het hy en Storm nou omskep in ’n soort “groen” visdam om kostes te bespaar. “Dit het geen onderhoudskoste nie. Ek kan vis eet uit die swembad, en die stikstof gebruik om die groente te besproei. Dis ’n volhoubare projek, maar dit was harde werk – swaar klippe dra en bou.”
Eendag, vertel hy, wil hy nog graag ’n lieflike gastehuis op die plaas oprig, waar hy al sy skilderye (hy het ’n ruk lank grafiese en skone kunste aan die destydse Pretoriase Technikon, nou die Tshwane Universiteit van Tegnologie, studeer) gaan wys. “Dis Storm se erfplaas en lyk soos ’n soort ‘aardse Sun City’ . . .”
Dozi het ook ’n restaurant en ’n pizzaplek, Dozi’s Back to the Roots en Smokey Sanches, wat hy uitverhuur. >
< Pas het hy vir Via (DStvkanaal 147) opgetree in Rusbanksessies met Dozi*, wat op sy plaas verfilm is. Hierin doen hy in elke episode onderhoude met kunstenaars soos Jan Blohm en eindig met ’n duet saam met die kunstenaar.
Oor sy nuwe album, Vrede, wat pas uitgereik is, sê hy: “Dit is my beste nog. My musiek het gegroei.”
Dozi onthou hoe hy op skool as “dom” uitgekryt is. Net een onderwyseres het vir sy ma gesê die outjie met die blou oë is ’n mooi blompot wat iewers gaan uitkom. “Ek was disleksies en ADHD, jy weet.” Hy dink so ’n bietjie. “Storm kry daai ding, wat ek nie altyd gehad het nie, van sy ma: Storm laat nie toe dat mense met hom mors nie.”
Trou wil hy nooit weer nie, sê
Dozi, wie se derde huwelik, met
Kim Viljoen, ’n petite blondine van Waterkloof, net vyftien maande gehou het en van wie hy vroeër vanjaar geskei is. Tog, sy hart loop oor van liefde, sê hy. “Ek is ’n oordrywer, ja, ek wil perform en skep. Musiek is my passie. Ek gaan voluit. Ek bou ’n see, nie ’n swembad nie. Ek géé my lewe vir die liefde. Maar dan vra ek dat mense my aanvaar soos ek is . . . Jy gee óf diep om óf jy is oppervlakkig . . .” Storm aanvaar hom. Honderd persent. “My kind leef ook voluit.”
Nes vir sy seun, loop Dozi se liefde vir sy 91-jarige ma, Susan, ook diep. “In die grendeltyd het ek haar van die plaas na ’n ouetehuis geneem.
Dis te gevaarlik hier. Maar ek haal haar uit so gou as wat ek kan. Ek bel haar daagliks. Storm voel ook só oor Tanya.”
Pa en seun lyk en ís dieselfde . . . “Hierdie grendeltyd het op die regte tyd gebeur – vir ons,” sê Dozi.
* Rusbanksessies met Dozi begin op 5 September om 17:00 op
Via (DStv-kanaal 147). Daar sal 13 episodes wees.
‘Die liefde maak mens kalm’ Martelize Brink en Marius van Tonder
Met die grendeltyd het almal gewonder: Wáár is Martelize Brink? Want hulle hoor haar nie op driesestig op RSG nie.
Sy het toe al die tyd by haar geliefde van die afgelope twee jaar, Marius van Tonder, ingetrek in die Paarl, waar hulle saam ’n huis besit.
Te oordeel na haar (en sy) borrelende stemme en haar Instagram-plasings van die een ná die ander heerlike ete, die mooiste koeke en lieflike wyne, gaan dit besonder goed. Op die spyskaart is enigiets van geroosterde organiese hoender tot paella en sjokoladebrowniekoek. En liefde.
“Sy laat my toe om presies te wees wie ek is,” sê Marius, die eienaar van Vinea SA, wat Franse eikehoutvate en -produkte invoer.
Hy is mal daaroor dat sy vir enigiets kans sien. Al is sy verlam en in ’n rolstoel weens vermoedelik ’n virus of inflammasie van die rugmurg, wat sy plotseling op dertien opgedoen het, briek niks Martelize nie. Haar lippe is rooi en sy lag graag. Sy is ’n bekroonde joernalis en aanbieder, het al perdgery, gekajak, tree gereeld as motiveringspreker op, het die gorillas in Rwanda besoek, reis op haar eie na Europa, was aktrise in Twee grade van moord . . . Noem dit, en sy doen dit.
Marius beskryf haar as ’n fontein van kennis: “Ons kan agt uur lank oor ’n glas wyn of koffie gesels – sy weet van alles: sport, musiek, nuusgebeure.”
Martelize lag. “Hoor nou wie praat. Hy haat dit as ek dit sê, maar Marius se intelligensie is next level . . . regtig.”
Ons moet net ’n bietjie minder eet, sê albei. Sy vertel sy het 5 kg aangesit in die grendeltyd. Elke week begin hulle met gesonde voornemens . . . “Maar jy wéét nie hoe sy kan kook nie.” Martelize het immers al ’n resepteboek, Martelize kook! Jy’s genooi (Human & Rousseau), geskryf. Haar pa was oorlede Matie Brink, die potjiekoskoning. En sy is gek na lekker kos en wyn en eksperimenteer. “Arme ou Marius. Hy ruim net op wanneer ek so kook.” Hy: “Dis haar liefdestaal. Hoe kan ’n mens dáároor kla?” En dan, vol verwondering: “Maar sy oefen elke dag, tot Sondae.”
“Sommige mense kan mos eet net wat hulle wil,” sê sy, “maar ek kýk net na kos, dan begin die ponde aanpak. Ek het geen keuse as om te oefen nie. Om te sweet en die gewigte op te tel en opstote te doen en te rek en strek, is boonop goed vir jou kop.”
Daar is ’n heerlike gemaklikheid tussen hulle, soos ou getroudes. Marius was al getroud en het niks teen die huwelik nie. “Maar ons is gelukkig met ons huidige situasie,” sê Martelize, doodrustig.
Die twee het mekaar in hul twintigs by ’n braai ontmoet en dadelik gekliek. Toe begin hulle ná sy egskeiding weer whatsapp. So twee jaar gelede vir sy 41ste verjaardag vra hy haar of sy die Sondag saam met hom na die restaurant La Mouette in Seepunt sal gaan. Dít was die begin van dié goeie einde. Daarna sou hulle mekaar bykans elke naweek sien.
Ná byna twaalf jaar in haar woonstel in Seepunt, waar sy alleen gewoon het, is dit heerlik om haar lewe met ’n lewensmaat te deel. “Ek oortuig hom nog net om ’n hond te koop.”
Hulle stry selde. “Hy is báie netjies, en ek probeer nog dié standaard handhaaf,” spot sy.
“Sy is perfek. Wat haar luisteraars hoor, is opreg. Sy gee om vir ander en haar geesdrif is aansteeklik.”
Martelize erken dit is dapper om tydens grendeltyd saam in te trek en ’n toets vir hul verhouding. Maar as jou waardes ooreenstem, is jou kop deur, meen hulle. Hulle is verlief, vir seker. “Maar op die ou einde moet julle régtig van mekaar hou, as mense,” glo sy.
Al twee hou van kuier met vriende, van lekker onthaal en is mal oor hul familie. Sy ouers woon ’n paar minute van hul huis af, haar ma ook. “Hy is só sorgsaam en sal in sy motor klim en ’n verwarmer by my ma, Cheryl, gaan aflaai as hy hoor sy kry koud.”
Sy noem nog raakpunte op. Musiek. Pink Floyd, Neil Young, 70’s-folk . . . Só ook televisie-vermaak. “Die Simpsons het seker die grootste invloed op my lewe gehad,” vertel Marius. Martelize beaam dit. “En ons is versot op komedies soos Friends . . .
“Marius is ’n bitter goeie mens. Ek is natuurlik mal oor sy voorkoms, maar dis sy menslikheid wat my trek: ruim fooie vir kelners, ’n mededeelsaamheid, omgee vir mense.”
Sy vertrou hom volkome, hy koester haar. As sy “af ” is, sit sy terug. As sy te veel geoefen het, kry sy die saligste rugmasserings.
Hulle het ’n ruk lank van die huis gewerk, van waar sy insetsels gedoen het. In Julie het sy weer by die SABC in Seepunt begin uitsaai. Sy glo daar wag groot uitdagings vorentoe weens die pandemie, maar die mens is veerkragtig en kreatief.
Dié twee oorweeg dalk ’n gesamentlike kookboek, Kombuissondes. Lekker dekadent. Dink aan laataand-vergrype soos boeliebief-pasta met witsous. “Weet jy hoe lekker is dit? Of boeliebief-ravioli,” vra sy – die boeliebief is ’n ou-ou grappie tussen hulle . . .
Martelize wil ook Die ander pad, oor haar unieke reis op aarde, klaar skryf wanneer sy meer tyd het. Veral noudat sy haar ingegrawe het in hul nuwe woning met die druiweprieel op die stoep, groot leefarea wat so lekker lig is en heerlike kuierplek waar hulle beplan om gereeld te braai.
Daar is ’n rustigheid oor haar, erken Martelize. Passie en aanraking maak die lewe tydens die grendeltyd makliker. “Daar is nie spasie tussen ons nie. Hy kan vir my ’n drukkie gee en ons hou hande vas. Dié nabyheid is heerlik en sielkundig goed vir ’n mens. Dit is ’n voorreg en hou jou kalm in hierdie tye.