Sarie

’N PLEK WAAR EK BEHOORT

-

Ek het nooit gedink ek sal skryf nie, maar vandag het ek besluit om te sê wat ek voel. Dit is grendeltyd, iets wat ek nooit kon dink ons, my wêreld, sou tref nie. En ek is net 22 jaar.

Ek is baie lief vir rugby, het al profession­eel gespeel en wil graag daarmee volhou, maar het onlangs ’n skouerbese­ring opgedoen. Daar is soveel talent, kan ek van die sport ’n toekoms maak?

Dan wonder ek, ek moet dalk net ’n werk kry – maar wat wil ek doen? Skielik is ek midde-in hierdie deurmekaar wêreld. Werk is so skaars, veral nou.

Ek het by van die beste eiendomsag­ente geleer. Een oomblik glo ek ek gaan die beste agent word, maar die volgende oomblik twyfel ek. Ek het min ervaring, wie sou my gebruik? Ek twyfel so maklik in myself.

Op my Instagram lewer een vriend kommentaar dat ek lekker gewig aangesit het. Hoekom sal jy so iets sê, hoekom bou ons mekaar nie eerder op nie? My ma sal sê ek moenie sulke opmerkings persoonlik opneem nie, maar wie sal nou nie?

Ek is geseënd met wonderlike ouers. Ek weet alles wat my ma doen, doen sy om ’n rede – om my leiding te gee, om my selfvertro­ue te bou – en ek wil haar trots maak.

My pa is ’n fantasties­e man. Hy het al soveel beleef, sy broer en ouers aan die dood afgestaan, was in ’n groot motorongel­uk en het vier jaar gelede ’n hartaanval gehad, maar hy staan ferm en trots. Hy het my geleer “hard work beats talent when talent does not work hard”.

My ouers het ’n wonderlike verhouding. Ek wil my kinders eendag ondersteun soos hulle my steeds ondersteun.

Ek vra myself vanaand, waar sien jy jouself? Ek wil gelukkig wees, aktief bly en ’n goeie inkomste verdien. Ek wil my werk geniet en bid elke aand dat daar iets oor my pad kom wat my onafhankli­kheid sal gee. Ek het geen idee wat die toekoms inhou nie, maar ek bly positief – as die geleenthei­d kom, wil ek dit met albei hande aangryp. Maar vir nou soek ek nog myself, na ’n plek in die grootmensw­êreld waar ek behoort, waar ek iets beteken en ’n verskil maak. Anoniem, Gauteng Lees Michélle van Breda se redakteurs­brief op bl. 6 waar sy gesels oor die jeug wat haar moed gee.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa