Sarie

MISPLAASTE MANIERE

-

Ek woon op ’n plaas, derhalwe ken ek diere tot ’n groot mate en ek verkneukel my telkens oor hul manewales en maniere. Ek gooi broodkrumm­els vir die hoenders en die rooibruin spoghaan kom vinnig nader en pik ’n groterige korsie op. Met sagte, uitlokkend­e geluidjies nooi hy die henne om dit by hom te kom haal. Ek hurk by hom en berispe hom streng: “Skaam jou, valse narsis, jy doen mos niks sonder bybedoelin­gs nie.” Ek spring egter vinnig op toe hy sy vlerke voor mý sleep, ’n paar krummels voor my neersit en my onderlangs met sluwe, wellustige ogies beloer. Ek waarsku hom dat indien hy hom nie gedra nie, hy spoedig op my pasteiskot­tel gaan beland! Hy voel egter vere en flankeer al klaar weer met die klomp gretige, naïewe hennetjies.

Ek lag. Die onderonsie tussen my en haan is slegs ’n speletjie, want haan is ’n dier en dis sy maniere. By die huis lees ek die artikel oor narsisme in SARIE (“Getroud met ’n narsis – bevry ná 42 jaar”, Mei/ Junie-uitgawe) en dit tref my skielik dat wanneer mense diere se gedrag begin oorneem, groot probleme ontstaan.

Dink maar aan die wolf in skaapklere, die kwaai tierwyfie, die geitjie met die skerp tong, jakkals wat sy eie stert prys, die wynvlieg, die nagvlinder, die laventelha­an, die ou perd op soek na groenvoer . . . en so kan ek aangaan. Indien jou pad toevallig met een van hierdie ongure karakters kruis, liewe vriend/vriendin, wees dan maar liewer soos ’n vlakhaas en hol weg, so vinnig as wat jy kan.

Naguiltjie, Heidelberg, Kaap

DANKIE, FONNIE

Vir baie jare was Fonnie du Plooy Saterdagaa­nde my metgesel met sy musiekprog­ram voor middernag (Raps voor Middernag). Saterdagaa­nde op die plaas was dit my en Pa se afspraak. Later het ek en my skoonma ook gereeld kontak gehou op ’n Saterdagaa­nd en gesels oor die musiekkeus­es.

Vandag luister ek na ’n program oor hom. Die nostalgie tref my wanneer ek die ouderdom in sy fluweelste­m hoor.

Hy vertel die mooi storie hoe hy ná ses jaar in die onderwys, op 2 Januarie 1976, by die SAUK aanmeld. Dit was ’n ruk ná die uitreiking van die rolprent >

< Die Kandidaat. Die eerste mens wat hy dié dag raakloop, is șomroeper en akteurț Roelf Jacobs en Fonnie spreek hom toe aan as meneer. Jacobs merk dadelik op dat ’n meneer ’n man is wat skoolhou.

“Jy is mos die nuwe man wat vandag by ons begin werk?” vra Jacobs, en heet hom welkom as ’n kollega.

Dis iets wat Fonnie tot vandag toe bybly, dat die “Kandidaat” hom as ’n kollega aangespree­k het. Dit het vir hom soveel beteken. En hy is eintlik spyt dat hy dit net nooit vir hom kon sê nie.

Daarom, Fonnie, wil ek jou vandag salueer en dankie sê.

Lynette Strydom, Gqeberha

ALLES IN PERSPEKTIE­F GEPLAAS

Goeie joernalist­iek of enige vorm van kuns kan ons in ’n oogwink raak. Ek het in die begin van die artikel oor dr. Tshepo Motsepe (“SA se first lady: ‘Ek lei my lewe, Cyril het sy mense’”, Januarie/ Februarie-uitgawe) raakgelees: “Cyril-se-vrou, het dit vinnig geblyk, is ’n piepklein onderafdel­ing van haar curriculum vitae.” Die sinnetjie het my gedagtes soos ’n Kersboom se liggies laat skitter met ’n stroom openbaring­s.

Wie is jy? Ek het onlangs Rapunzel gaan kyk saam met ’n vriendin wie se kinders in die toneelstuk gespeel het. Die een het nogal ’n hoofrol gehad. Hoewel ons nou al ses jaar vriendinne is en ek baie van haar hart ken, het ek nooit besef watter merkwaardi­ge kinders sy het nie. Ek het liggies met haar geraas: “Hoe spog jy nie die hele tyd oor jou kinders nie?”

Ek het ’n ander vriendin wat ’n baie prominente pa gehad het. Tog vermy sy daardie kollig, sy wil eerder hê ons as vriendinne moet haar leer ken. Daar is haar vermoëns as ma, haar vlymskerp humorsin, haar gelukkige, rustige menswees.

Dan ken ek ander mense wat die “bekende” status vat en daarmee hardloop. Die platteland­se dokter, die een met die “groot vis in ’n klein dammetjie”uitkyk, wie se seun trou. Die bruid se hele sosiale kring weet sy trou nou met die bekende dokter se seun. Of die mamma wat ons byna uitput met leë, sinnelose prestasies van haar kinders.

Daardie sinnetjie van Daniëlla șvan Heerdenț het alles vir my in perspektie­f geplaas: Sommige mense is so geseënd en suksesvol dat hulle nie nodig het om hul prestasies in jou keelgat af te druk nie. Ek salueer en waardeer mense soos sy, met groot en ryk CV’s.

Ek eer en bewonder joernalist­e wat so goed kan skryf dat die lewe byna vir ’n oomblik weer sin maak.

Nadia Barbara Oberholzer, Pretoria

MY MEISIEKIND

Ek staan op die kerk se stoep, die klanke van die orrel in my ore. Die normale gewydheid ontbreek, vervang deur fluisteren­de stemme in afwagting op die bruid. Onder in die pad sien ek die bruidskar nader. Die linte wapper liggies op die enjinkap. Die motor ry die parkeerare­a binne en stop onder die wilgers.

Sy waai vir my deur die motorruit. Die dag het uiteindeli­k aangebreek. Ek het altyd geweet dit sou, vandat ek die eerste keer in daardie pragtige oë gekyk het. Dis nou al lank gelede, maar dit bly my by. Die oë mistig blou, weerloos. En die soet van haar asem op my wange toe ek my arms die heel eerste keer om haar vou.

Dis windstil. Die son filter deur die wilger se takke. Ek rig my oë hemelwaart­s. Hoog in die lug maak die duiwe sirkels teen die blou. Ek maak my oë toe. Die kardeur gaan oop en weer toe. Ek maak my oë oop. ’n Engel sweef my tegemoet. ’n Sluier verberg die gesig. Die rok sleep traag agterna. Ek voel die brand in my oë en vee dit met my kneukel weg, vryf my neus vir gevoel en hoes die lastigheid uit my keel. Sy stap die trappies op en steek haar hand uit. Dis koel in myne. Sy lig die sluier. Haar oë is blinknat. ’n Effense laggie ontbloot die tande, skitterwit en egalig. Met ’n stem wat klink of dit nog moet breek, kry ek dit uit: “My meisiekind.”

Sy sit haar lippe teen my oor. Haar stem is sag, nouliks hoorbaar: “Altyd lief vir Pa.”

Frans Calitz, Lambertsba­ai

Skryf aan SARIE, My sê tel, Posbus 1802, Kaapstad 8000, of stuur e-pos na: sarie@sarie.com. Nie meer as 300 woorde nie, maar ons behou die reg voor om briewe te verkort. Menings uitgespree­k in lesersbrie­we is nie noodwendig dié van SARIE nie. Ons plaas nie gedigte, briewe oor reünies of vermiste mense nie. Briewe (ook e-posbriewe) moet ’n volledige posadres, kontaknomm­er en volledige doopnaam bevat. Dit moet ook oorspronkl­ik wees en mag nie aan ander tydskrifte voorgelê word nie. En jy moet onderaan jou brief aandui: NET AAN SARIE GERIG.

 ?? ??
 ?? ??
 ?? ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa