Sarie

UITGESTORW­E QUAGGA HERLEEF VIR DIE NAGESLAG

- DEUR SUZETTE TRUTER

Elke keer wat ’n quagga-vulletjie op Melkplaas by Velddrif aan die Weskus gebore word, is daar groot vreugde. Die opwinding is nie om dowe neute nie, want dié diere, wat eens in hul duisende op die Karoo-vlaktes geswerf het, het reeds jare terug uitgesterf. Die laaste quagga is in 1883 in ’n dieretuin in Amsterdam dood. Maar danksy ’n unieke teelprojek herleef hulle.

Daar is al 200 van dié “nuwe” RAU Quaggas geregistre­er, sê Albé Bester-Treurnicht, president van die RAU Quagga-telersvere­niging, wat saam met haar man, Nic, met 80 van hulle op Melkplaas en op hul plase by Piketberg en Schweizer-Reneke boer. Dié diere het byna geen strepe op hul bene en agterlyf nie.

Albé en Nic, albei voormalige advokate, boer al sewe jaar voltyds met wild. Hulle het in 2017 die eerste keer ’n quagga-hings en twee -merries by die Quagga Projek op ’n veiling gekoop.

“Dié projek, wat in 1987 begin is, het ons verbeeldin­g aangegryp. Dis die enigste een ter wêreld wat ’n dier teel soos hy oorspronkl­ik was.”

Die Duitser Reinhold Rau (vandaar “RAU Quagga”) het die projek begin. Hy het in 1951 na Kaapstad gekom om diere vir die museum op te stop. Vir baie jare het hy met gepreserve­erde quagga-monsters gewerk, oortuig dat dié dier ’n subspesie van die grasveld-sebra was. Later het DNS-toetse dit bevestig.

Die projek het onder sy leiding met selektiewe teling begin.

Vandag word alle RAU Quaggas geregistre­er om aan al die standaarde te voldoen.

Albé is baie betrokke en passievol oor dié mooi diere. “Die wetenskap daaragter is fassineren­d. Die quagga is nie ’n kleurmutas­ie nie. Jy kan dalk in een geslag

’n wit springbok kry, maar om ’n quagga te teel is ’n veel langer proses.”

Hulle het al baie lesse geleer, soos dat jy nie enige merrie en hings kan laat paar nie – inteling moet goed bestuur word. Dat ’n hings meestal ’n pasgebore vulletjie in sy trop sal doodskop as dit nie sy eie is nie. En dat ’n merrie altyd ’n maat moet hê. “Só is ons een pragtige merrie binne drie dae dood van eensaamhei­d nadat ons haar op haar eie uit die trop geneem het.”

Sy werk nou saam met die Quagga Projek-lede en pluk die vrugte van hul kennis en ervaring. “Ons teel en koop quaggas aan. Wildboere speel ’n belangrike rol om skaars spesies te bewaar. Dié projek was ’n unieke kans om vir die nageslag iets na te laat wat eens uitgewis was.”

 ?? ??
 ?? ?? BO Albé Bester-Treurnicht MIDDEL Gravure van die Kaapse quagga, 1858. ONDER ’n Troppie quaggas op die Treurnicht­s se plaas Middelpos by Piketberg.
BO Albé Bester-Treurnicht MIDDEL Gravure van die Kaapse quagga, 1858. ONDER ’n Troppie quaggas op die Treurnicht­s se plaas Middelpos by Piketberg.
 ?? ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa