Sarie

DIE PERFEKTE UITDAGING

- DEUR SUZETTE TRUTER

Toe Janette Potgieter vir haar pa sê sy wil 4 800 km oor die Atlantiese Oseaan roei, het hy haar net so gekyk en gevra: “Maar hoekom, my kind?” Toe antwoord sy: “Want dis vir my lekker, Pa!”

Sy soek altyd iets wat haar fisiek én geestelik uitdaag, vertel dié lewendige witkop: “Ek het al twee keer velkanker gehad, jy besef jy het net een lewe . . . doen wat jy geniet.”

Janette het in Januarie die eerste SA vrou geword wat die Talisker Whisky Atlantic-roei-uitdaging voltooi en saam met haar drie Britse spanmaats die vroue-afdeling gewen het. Hulle het in 40 dae, 4 uur en 7 minute die Atlantiese Oseaan tussen La Gomera, ’n klein Kanariese eiland aan die kus van Afrika, en Antigua in die Karibiese streek oorgesteek.

Janette, wat as ’n forensiese ontleder in Londen werk, het al Kilimandja­ro, Elbrus en Mont Blanc se piek bereik en tot by die Everest-basiskamp geklim, maar roei is ’n nuutjie – en nie een van haar vriende was lus daarvoor nie. Toe gaan soek sy aanlyn na roeimaats: “Ons het agtien maande saam geoefen – dikwels via Zoom in roeimasjie­ne weens Covid.”

Hul troefkaart was goeie spanwerk. “Jy weet nie hoe jy gaan reageer as jy veertig dae op ’n boot van agt by een meter is met geen persoonlik­e ruimte nie. ’n Emmer is jou toilet. Ons het vooraf baie sportontle­dings gedoen oor gedrag, persoonlik­heid, vrese en hoe ons mekaar kan ondersteun en motiveer.”

Min slaap was hul groot uitdaging. Jy roei twee ure, rus twee ure. “My langste aaneen-slapie was ’n uur en ’n half, maar jy pas aan. Dit verg alles van jou. Ek het elke dag 4 500 kalorieë geëet șhope biltong, sjokolade en drie gedehidree­rde maaltyeț en steeds sewe kilogram verloor.”

Die “wat besiel my”-oomblikke is oortref deur die natuur op sy beste: die oop see, prentjiemo­oi sonsopkoms­te, walvisse, dolfyne, ’n volmaan wat jou asem wegslaan, sterre wat op die water weerkaats en alge wat soos vuurwerk gloei.

Hul doel was om die eerste vrouespan te wees, maar ’n windstilte het hulle lank in die tweede plek gehou. Op dag 30 het hulle besluit: Ons gáán wen.

“Ons het álles ingesit, ons ouers șper e-posț laat weet ons wil élke sekonde weet waar ons lê. Dan delf jy baie diep, al pyn álles. Op dag 38 was ons los voor.”

Die laaste uur was ongeloofli­k. Vir veertig dae sien jy g’n boot of mens nie, en skielik is daar mense, alarms, toeters. “Dit was wonderlik om my SA vlag te waai. Ek is al lank in Brittanje, maar ál my vriende weet ek is eerstens ’n Suid-Afrikaner.”

* Die span se tog was ten bate van die Sea Ranger Service wat op die bewaring van die oseaan fokus.

 ?? ??
 ?? FOTO’S ATLANTIC CAMPAIGNS/PENNY BIRD ?? BO Janette Potgieter ONDER Die span met hul aankoms by Antigua.
FOTO’S ATLANTIC CAMPAIGNS/PENNY BIRD BO Janette Potgieter ONDER Die span met hul aankoms by Antigua.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa