Die Oos-Vrystaat praat met jou, of dit doen nie
Douglas Mason, gebore Kanadees en ’n entrepreneur
Op Rosendal woon ’n man wat die lewe effens stroomop leef. Douglas Mason is ’n gebore Kanadees wat dié dorpie ’n dekade lank al huis noem, en dit in ’n streek waar ál meer mense iemand ken wat juis Suid-Afrika vir Kanada verruil.
In die Service Station Wine Bar, een van die ondernemings wat hy op die dorp begin het, gesels hy oor die vraag waarop hy gereeld ’n antwoord moet gee: Wat doen ’n Kanadees in die middel van die Vrystaat, en dit boonop op ’n klein-klein dorpie soos Rosendal?
Die antwoord, sê Douglas, is eenvoudig. Die Vrystaat, en veral die Oos-Vrystaat, praat met jou, of dit doen nie. En só was dit ook vir hom.
Met sy eerste besoek in 2012 het hy nog as ’n joernalis in die Demokratiese Republiek van die Kongo gewerk. As oorlogskorrespondent en sakejoernalis is Douglas, oorspronklik van Ontario, welbekend met Afrika, maar met sy eerste besoek aan die Oos-Vrystaat tydens ’n Kerskuier op ’n plaas naby
Senekal het dié deel van die wêreld sy voete onder hom uitgeslaan.
“Die plek het my gefassineer,” vertel hy. In daardie stadium was hy boonop op die uitkyk vir ’n holte vir sy voet in SuidAfrika, aangesien die lewe in die Kongo op die lang duur selfs vir ’n geharde joernalis moeilik kan word.
Hy kon doen wat die meeste ander buitelandse joernaliste in Afrika doen, vertel hy. “Ek kon ’n goeie woonbuurt in Kaapstad kies en vir ’n paar jaar ’n wonderlike leefstyl geniet.”
Maar, sê hy, die skoonheid van die Oos-Vrystaat, en ja, ook die gehardheid van die streek, het tot hom gespreek. Kaapstad is ’n fantastiese stad, maar dalk te “Europees” na sy sin.
“Ek het besluit om Rosendal my basis te maak en as vryskutjoernalis
van hier af te werk.” Mettertyd het Douglas eiendom van historiese waarde op die dorp aangeskaf en gerestoureer. Die vulstasie en werkswinkel waar plaasimplemente vroeër gediens is, het die Service Station Wine Bar geword, die ou poskantoor langsaan The Post Office, ’n gastehuis, en die oorspronklike Standard Bank oorkant die straat nog ’n gastehuis.
Die restourasiewerk aan die ou geboue beskryf Douglas as kontemporêrkontekstueel – ’n nuwe baadjie en nuwe gebruik, met sensitiwiteit vir die geskiedenis van die gebou.
Sy sin vir styl, vertel hy, kom van sy ma, wat haar eie dekoronderneming in Kanada bedryf het.
Hy is dalk ’n verplaaste Kanadees, sê hy, maar hy is uit en uit lojaal aan die Vrystaat. “Die Vrystaat het baie vir my gegee, en ek wou iets teruggee, iets waarop ons trots kan wees.”
Die Service Station Wine Bar is uniek en hoef vir geen kuierplek in Johannesburg of Kaapstad terug te staan nie. Die kroeg spog met 20 verskillende whiskeys, waaronder van Japan en Kanada. Hul versameling Kanadese whiskey is die grootste in die land, sê Douglas.
Agter die Service Station Wine Bar is die gebou wat eens op ’n tyd die plaaslike grofsmid gehuisves het. Volgens Douglas het die gebou, waarskynlik die oudste op die dorp, in onbruik verval in die vroeë jare vyftig, in die tyd toe boere hul eerste trekkers bekom en die grofsmid groener weivelde gaan soek het. Die gebou is ook nou ’n gastehuis en word hand aan hand met die Wine Bar bedryf.
Die meeste besoekers kom van Gauteng en Bloemfontein, beaam Douglas, maar ook van Senekal, Ficksburg en Clarens. Rosendal is gerieflik halfpad tussen Johannesburg en Durban vir gesinne wat graag ’n naweek hier wil bymekaar kom.
Op die ou end, sê Douglas, sal ’n onderneming op Rosendal net suksesvol wees as die dorp vooruitgaan – en dit gebeur. “Die dorp het ’n baie positiewe momentum.”
Die eintlike grondslag vir sukses, glo Douglas, lê in die gehalte van verhoudinge binne die gemeenskap. Op Rosendal, en Mautse, die plaaslike township, ken almal mekaar. “Ons werk saam en ons help mekaar. Ons sluit skaars ons deure en ons lê nie wakker oor misdaad nie.
“Wanneer jy ’n gesprek op Rosendal wil begin, vra bloot die vraag: Wat sal goed wees vir die dorp?” sê hy. Volgens hom is die verhouding tussen die gemeenskap en die plaaslike munisipaliteit en polisie uitstekend.
Net so was die boeregemeenskap van dag een af vir hom goed, en werk Sotho-, Afrikaans- en Engelssprekendes saam ter wille van die behoud van die gemeenskap.
Douglas vertel toe nood tydens die pandemie op sy swaarste was, het die gemeenskap saamgestaan en ’n halfmiljoen rand ingesamel om seker te maak byna ’n kwart van Mautse se inwoners het iets te ete.
Dis juis die diversiteit binne die gemeenskap wat die dorp se behoud is, glo Douglas. “Geen enkele groep is dominant nie, en daarom móét hulle saamwerk.
“Dis hartseer om te sien dat mense in ander Vrystaatse dorpe ophou praat met mekaar, ophou voortbeur, ophou probeer.
“Ons sal nooit toelaat dat dit hier gebeur nie.”