Sarie

2 DAAR IS ALTYD IETS POSITIEFS OM OP TE FOKUS PENNY OLWAGE, KANKERHELD­IN

- – Suzette Truter

Wanneer die jaarlikse CANSA Relay for Life* op Gqeberha gehou word – ’n deurnag-“aflos” ter viering van kankeroorw­innaars, hul versorgers en ook dié wat die stryd verloor het – kan jy maar weet: Vrywillige­r Penny Olwage is daar. Altyd aan die woeker en geld insamel, reeds sedert 2015, toe sy vir die eerste keer saamgestap het om ’n vriendin met borskanker te ondersteun.

Vanjaar het sy en haar “Happy Feet”-span – sowat 40 familieled­e en vriende – die meeste geld ingesamel. Maar dié aflos was ook vir Penny ’n intens emosionele ervaring, want vir die eerste keer het sy sélf as borskanker­oorwinnaar deelgeneem. Die siekte is in 2022 by haar gediagnose­er. “Elke tree wat ek vanjaar gegee het, het vir my iets heel anders beteken. Ek het ’n totaal nuwe perspektie­f – ek weet hoe dit voel om daardie pad te stap,” vertel sy.

Penny, ’n beroepsges­ondheidver­pleegkundi­ge, is onlangs deur die Amerikaans­e Kankervere­niging en die Kankervere­niging van SA as ’n “Global Hero of Hope” vir 2023 aangewys – vir haar toewyding, inspirasie en hulp in die stryd teen kanker. Sy is een van net vier Suid-Afrikaners uit ’n groep van 30 kankerheld­e wêreldwyd.

“Dis ’n groot eer. Ek wil nou elke kans gebruik om ’n boodskap van hoop uit te dra en nog geld in te samel,” sê Penny, wat ook Zumba-klasse ten bate van KANSA gee.

Sy was onkant betrap toe sy met borskanker gediagnose­er is. “Ek was fiks en aktief. Dit was ’n groot skok. In die begin was dit moeilik om al die emosies te hanteer. Vrees, hartseer, depressie . . . dit het my gelyktydig getref. Vandag besef ek dit het my ’n sterker, meer positiewe mens gemaak om daardeur te werk. Ek kan sien hoe ek gegroei het. My familie, vriende en kollegas by die hospitaal was baie ondersteun­end. Dit het ook gehelp dat ek regdeur my behandelin­g aanhou werk het, selfs op my slegste dae. Dit het my ’n doel gegee en my gedagtes afgelei.”

Die afgelope jaar het sy geleer dat daar áltyd iets positiefs is om op te fokus. “Elke dag wat ek wakker word, is nóg ’n geleenthei­d om saam met my familie en vriende te wees. En nog ’n kans om iemand te ondersteun wat die pad moet stap waarop ek eens was.”

 ?? ?? * CANSA Relay for Life-byeenkomst­e word in 3 000 gemeenskap­pe in 31 lande aangebied
* CANSA Relay for Life-byeenkomst­e word in 3 000 gemeenskap­pe in 31 lande aangebied
 ?? ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa