Sarie

4 HOE ROOIER, HOE MOOIER!

- – Delia du Toit

Rooikoppe is opnuut in die kollig ná die uitreiking van die nuwe The Little Mermaid-fliek vroeër vanjaar, waarin Halle Bailey die rol van Ariel vertolk en spog met ’n bos koperrooi hare. (Nie so rooi soos die tekenprent­karakter nie, het party rooikoppe kapsie gemaak.)

Sommige rooikoppe vier graag hul vurige hare. In Nederland is daar elke Augustus ’n fees genaamd Redhead Days, waar rooikoppe van oraloor bymekaarko­m. Dit sorg vir pragtige foto’s! Ook hutsmerke soos #SaveTheGin­gers is groot op sosiale media.

Maar tog is dit nie altyd maklik om rooi hare te hê nie. Die aktrise Jessica Chastain het vroeër vanjaar op The Graham Norton Show vertel hoe sy deur ’n lughawe geloop het en ’n groep mans spottend “ginger!” geskree het.

Aktrise Amalia Uys sê dis eintlik ’n “ingewikkel­de psigologie­se proses” om ’n rooikop te wees. “Ek wonder nogal wat die effek op rooikoppe is wat van kleins af anders gevoel het. Ek is geboelie – ek is Vlam genoem, daar was kinders wat nie met my wou speel nie, want ek het ‘oranje’ hare, seuntjies het nooit van my gehou tot omtrent graad 11 nie. Dit was maar swaar vir ’n kind in my tyd.”

Deesdae reken sy dis meer in die mode om uniek te wees. “Ek is bly die wêreld is op ’n plek waar uniekheid meer omarm word as vantevore en waar daar aktiewe veldtogte teen boeliery is.”

Vir haar het daardie “andersheid” deel geword van haar identiteit, sê sy. “Ek het myself al afgevra of ek regtig so anders is, in my denke en lewensuitk­yk, en of ek net van kleins af gedwing is om so aan myself te dink. Maar dit leer jou ook veerkragti­gheid.”

Vandag is sy bly oor haar haarkleur. “Dit maak my lewensbest­aan uniek. Dis mýne en ek is dankbaar daarvoor, met al die mooi en al die seer. Selfs al verander ek my hare vir ’n rol, weet ek diep binne ek is ’n rooikop en niemand sal dit ooit van my kan wegvat nie.”

Soos die Britse rooikop-akteur Damian Lewis onlangs gesê het: “This might be a unique moment in history: redheads everywhere are doing well.” En wêreldwyd stem beroemdes soos Julianne Moore, Christina Hendricks, Marcia Cross, Emma Stone en Binnelande­rs se Kara du Toit seer sekerlik saam.

 ?? ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa