SO SÊ HULLE OP SARIE.COM
An-Mari do Carmo oor haar bekroonde jeugboek, Toe als groen was (Luca, R250)
Jy het by die KwaSizabantusendingstasie in KwaZulu-Natal grootgeword. Wat het jou gedryf om dié boek te skryf? Waarom ’n fiktiewe verhaal en nie ’n outobiografie nie?
Grotendeels omdat ek voel die Here het my daartoe gelei. Efesiërs 5:10-11 het swaar op my hart kom lê: “Vra julle voortdurend af of iets vir die Here aanneemlik is, en moenie meedoen aan die vrugtelose praktyke van die duisternis nie, maar stel dit eerder aan die kaak.” Ek kon nie stilbly nie, ek moes die aaklige dinge wat KwaSizabantu doen aan die kaak stel. Om dit in storieformaat te doen was vir my die natuurlikste ding op aarde. Skryf en stories en boeke was van kleins af my ontvlugting.
So, ek wou al lank ’n storie oor die KSB skryf, maar kon nooit die regte invalshoek kry nie. Ek hét gedink aan ’n outobiografie, maar geweet ek is nie bekend of belangrik genoeg dat my eie lewensverhaaltjie ’n impak kon hê nie. Fiksie het my kreatiewe vryheid gegee. Hoewel dit fiksie is, dink ek lesers sal geskok wees as hulle besef presies hoe baie van die dinge regtig met iémand gebeur het. En laastens gee die fiktiewe baadjie my naastes en geliefdes ’n mate van anonimiteit en beskerming. Het die skryf van die boek jou ’n mate van afsluiting gegee?
Dit was beslis vir my ’n terapeutiese en helende ervaring, en dit het my die geleentheid gegee om baie dinge te verwerk wat daar gebeur het. Ek dink egter nie ek sal ooit heeltemal afsluiting kan vind terwyl die KSB nog bestaan en voortgaan om presies dieselfde dinge, en nog erger, aan ander jongmense te doen nie.