Oor vriende en laaste kanse
Ouderdom en die naderende grens wat oorgesteek moet word, bring die kosbaarheid van die lewe tuis. In haar jongste roman fokus Marita van der Vyver op die belangrikheid van vriende, veral dié wat al vir dekades deel van jou lewe is
Lesers het die groep vriende leer ken in Wegkomkans, wat in 2006 gepubliseer is. Nou is dit 2020, op die vooraand van die Covid-19pandemie, en in Laaste kans kom dié groep van heinde en ver vir ’n naweek bymekaar om een van hulle se sewentigste verjaardag te vier.
Marita verduidelik “as jy eers 60 is, raak jy onvermydelik al hoe meer bewus van laaste kanse, van vriende en geliefdes wat siek word en sterf, en natuurlik ook van jou eie naderende einde. Juis daarom probeer ek elke dag lewe asof dit my laaste dag is. Om die murg uit die lewe te suig, soos [Henry] Thoreau dit gestel het.”
In Laaste kans word jy voorgestel aan die rolspelers op ’n groepfoto wat in
1995 geneem is, die laaste keer dat almal saam gekuier het. Die beskrywings plaas elkeen in konteks en sinspeel op hul rolle in die vriendskap. In die hede is die kinders volwassenes en vorm hulle ’n aktiewe deel van die vertelling en die ontbloting van die weerloosheid van die groep se emosionele wêreld. Die leser word onmiddellik ingesleep by die dramas, klein en groot, van elke karakter wat afwisselend die verhaal vertel en so vir uiteenlopende en komplementerende perspektiewe sorg. Nie net die jare wat verloop het word blootgelê nie, maar ook elke karakter se huidige gemoedstemming. Elkeen se onthulling boei jou en gee insig in die kompleksiteit van vriendskapsverhoudings, van verwagtinge, van verlore drome en ’n onseker toekoms wat wag.
SARIE-boekeredakteur Phyllis Green het per e-pos met Marita gesels oor
Laaste kans (Tafelberg, R330).
Waarom wou jy die karakters van Wegkomkans herbesoek?
Wegkomkans het deur die jare ’n soort
cult following opgebou. Ek verstaan steeds nie hoe dit gebeur het nie, maar van al my romans is dit die een waaroor lesers my nog altyd die meeste uitgevra het. Miskien omdat daar nie net een nie, maar tien “hoofkarakters” is wat elk ’n kans kry om die storie deur hul eie oë te sien, wat die leser ’n verskeidenheid karakters bied om mee te identifiseer. En omdat die verhaal ’n groep vriende oor tien jaar volg, voel die karakters teen die einde soos die leser se eie vriende. Ek is al soveel keer gevra wát van elkeen geword het dat ek uiteindelik self ook nuuskierig genoeg geword het oor hoe elkeen se lewe verloop het.
Hoe het die boek vir jou begin en het die dreigende pandemie deel van die storielyn geraak?
Die grootste deel is gedurende die Covid-inperking geskryf. Die idee was om hierdie groep vriende vir die eerste keer in dekades weer bymekaar te gooi om een van hulle se verjaardag te vier, maar namate Covid gevorder het, het ek al hoe meer besef hoe onvoorbereid ons almal was op hoe die pandemie ons lewe sou omverwerp. Toe besluit ek die verjaardagnaweek sou in Maart 2020 plaasvind, enkele dae voor die wêreldwye inperkings. Dit het dadelik ’n ander dimensie aan die begrip “laaste kanse” gegee.
Dis interessant hoe die verskillende karakters na mekaar kyk. Almal het vooropgestelde idees van mekaar en tog ken hulle mekaar al jare. Kan ’n mens iemand régtig ken?
Die Engelse vertaling van Wegkomkans (Breathing Space) het ’n beskrywing op die voorblad: “A novel of secrets and dreams, of scars and hopes – and how little we sometimes know about those closest to us.” Die idee van “onkenbaarheid” was dalk die kern van die boek – en dit wou ek verder voer in Laaste kans. Dié keer is dit nie net vriende wat dinge vir mekaar wegsteek nie, maar ook ouers en kinders, want die helfte van die karakters is die volwasse kinders van die oorspronklike groep vriende. Daarom het ek weer eens nie ’n hoofkarakter se perspektief gekies nie, maar die storie uit elk van die 20 karakters se perspektief vertel. Die verhaal begin met ’n groepfoto en eindig met ’n nuwe groepfoto. Hoe belangrik is dit?
Ons ken die gesegde van ’n prentjie wat duisend woorde kan verf. Dis waarom Laaste kans, soos Wegkomkans, met ’n ou groepfoto uit 1995 begin en met ’n nuwe een uit Maart 2020 eindig. Dat die eerste een ’n “papierfoto” is, op film in ’n outydse kamera vasgevang, en die tweede ’n slimfoonfoto op ’n WhatsApp-groep, sê reeds ’n klomp woorde oor hoe tegnologie die afgelope 25 jaar ons lewens verander het. Maar elke groepfoto kan ook ’n klomp verskillende stories verf, dis alles ’n kwessie van perspektief, van watter karakter na die foto kyk.
Dis ’n waarskuwing, reg in die begin, dat die storie deur 20 verskillende perspektiewe vertel word.