Sarie

ONNODIG OM KI TE VREES . . .

-

Kunsmatige intelligen­sie ontwikkel vinniger as ooit en is hier om te bly, sê dr. Nicky Terblanche van die USB wat navorsing hieroor doen.

Terwyl mense soos Esperance en Roxanne uitwys dat ons KI tot ons voordeel kan aanwend, mits ons ingelig bly oor die impak daarvan, is die gedagte aan “botte” wat ons lewe oorneem vir baie van ons skrikwekke­nd. “Ons is geneig om die ergste moontlike scenario te skets,” beaam dr. Terblanche.

Omdat KI-kletsbotte soos ChatGPT inhoud kan skep, is baie mense se grootste vrees dat hulle hul werk kan verloor. Sekere beroepe kán oorbodig word, of van aard verander, maar nuwes sal ook geskep word, volgens hom. “Ons sal nuwe vaardighed­e moet aanleer en moet aanpas.”

Afgesien van kopiegener­ering wat problemati­es kan wees, hou KI gevare soos deepfakes in: Digitale manipulasi­e kan jou (op skerm) deur iemand anders laat vervang. Woorde wat jy nooit gesê het nie, kan selfs in jou mond gelê word.

Tog het KI meer voordele as nadele. Dit kan oplossings bied vir wêreldprob­leme. Ons produktiwi­teit kan verbeter:

Terwyl KI bedrywig is, sal ons meer energie en tyd hê om kreatief te kan wees en nuwe idees uit te dink.

KI het toegang tot ’n geweldige hoeveelhei­d data en kan daarom komplekse probleme ontleed.

Dit kan ’n reuse-bydrae lewer tot wetenskapl­ike ontwikkeli­ng, soos ruimteverk­enning, en waarskynli­k selfs oplossings vir klimaatsve­randering, kanker en pandemies vind.

Die negatiewe implikasie­s sal nie vir ewig voortduur nie. Volgens dr. Terblanche is streng regulasies op pad.

Alexandr Wang, stigter van die KI-reus Scale AI, het tydens ’n TEDx-optrede gesê KI is geensins ontwerp om mense te vervang nie: “Die algoritmes benodig data en data het mense nodig.” Maar ons sal onsself in KI móét oplei, voeg dr. Terblanche by.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa