Suid-Kaap FORUM

Inbrekers het winkel vooraf dopgehou

-

RIVERSDAL Inbrekers het Maandag 27 Augustus om 00:00 die dak van Riversdal Grassnyers en Kettingsae oopforseer, die plafon stukkend geskop en sodoende toegang tot die winkel verkry. Die eienaar het gesê dat vier moontlike verdagtes onlangs by die winkel ondersoek ingestel en doelbewus na die kettingsae gekyk het. ’n Kamera-opname wys hoe dieselfde persone by die venster inkyk. Kettingsae op die rak word met slotte en kettings vasgesluit. Dit is duidelik dat die inbrekers dit geweet het, omdat gereedskap wat gewoonlik gebruik word om slotte en kettings mee oop te knip, in ’n sak gevind is. Ongelukkig was een van die alarmogies agter ’n pilaar en kon hul beweging nie dadelik die alarm aktiveer nie. Een van die inbrekers het met ’n tou teen die rakke en muur afgeklim. Kettingsae is een vir een aan dieselfde tou vasgemaak, waarna die persoon in die dak dit opgehys het. Hulle vermoed die inbreker het gretig geraak, omdat hy nog ’n kettingsaa­g op ’n ander rak gevat het. Dit het veroorsaak dat die alarm geaktiveer is en sekuriteit vinnig gereageer het. Die man wat in die winkel was, het sukkelsukk­el weer uitgeklim. ’n Silwer Toyota Corolla, soortgelyk aan die 2012-model het voor die winkel gestop waarmee die skelms waarskynli­k sou vlug. Toe die sekuriteit s dienste opdaag, het die motor egter vir die verdagtes weggejaag. Een van hulle het twee kettingsae neergesit en weggehardl­oop. Al vyf die kettingsae is egter in ’n werkende toestand teruggekry. Niemand is tot dusver gearrestee­r nie. Dié motor is voorheen gereeld in die dorp opgemerk en het partymaal ’n CF- of CA-nommerplaa­t op. Enigiemand met meer inligting word gevra om dit by die naaste polisiesta­sie aan te meld. • Onthou om die video op ons webtuiste by www. suidkaapfo­rum.com te kyk waar jy kan sien hoe die inbreker by die dak in- en uitklim.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa