Moos trap vir sy geliefde
RIVERSDAL Hulle is al vir jare saam, maar Moos Louw en sy saamleefmaat, Jasmine September, se liefde het die toets van tyd deurstaan...
Uit hul verhouding is vyf kinders gebore, waarvan twee reeds oorlede is. Jasmine het die grootste deel van hul 31 jaar saam vir die huishouding gesorg. Stygende lewenskoste en met twee kinders op skool, moes sy egter ook uitspring om te gaan werk. Haar hande staan vir niks verkeerd nie en het sy nie gesukkel om werk as bakster op die dorp te kry nie, maar hulle bly ongeveer 15 kilometer buite Riversdal en hul enigste ryding is ’n fiets. Vir die 52-jarige Moos, wat as arbeider op die plaas Soetmelksfontein werk, was dit nie ’n onoorbrugbare probleem nie. Hy is fiks en gesond en die fiets het hulle nog altyd gebring waar hulle wou wees. Agter op die fiets is ’n dik spons op die carrier aangebring sodat Jasmine gemaklik daarop kan sit en het hulle soggens vroeg-vroeg in die pad geval sodat sy betyds vir werk kan wees. Dan het Moos weer al die pad teruggery na die plaas om met sy dagtaak te begin. Smiddae wanneer Jasmine klaar gewerk het, herhaal die proses hom weer. Moos ry in dorp toe om haar te gaan haal, maak nie saak wat die weersomstandighede is nie. Soms gebeur dit dat een van die wiele ’n lek opdoen of die fiets ander herstelwerk nodig het, maar dan pak hulle die afstand te voet op ’n vinnige stappie aan. Op ’n vraag oor hoekom sy dan nie alleen werk toe stap nie, het hy beslis geantwoord dat dit nie veilig is nie. Kort nadat die permanente spoedkamera op die N2 enkele meters buite Riversdal opgerig is, het die kamera geflits toe hulle daar verbyry. “Ek het nogal geskrik, maar toe ek terugkyk sien ek dat die verkeersman dit net getoets het,” het hy laggend vertel. “Die ou fiets kan mos nie so vinnig ry nie!” Moos kan nie eens onthou hoe lank hy al die fiets het nie. Hy sorg dat dit in ’n goeie, rybare toestand is, maar die verweer daaraan is tog duidelik sigbaar, soos die stukkende sitplek wat nogal ongemaklik is. Hulle kan nie ’n nuwe fiets bekostig nie, maar die hoop beskaam nie. Net dalk is daar iemand wat nie meer hul fiets gebruik nie en hul weg oopsien om dit vir hulle te gee...