Suid-Kaap FORUM

Kyk wie loer deur my bril

- San-Marié Cronjé

RIVERSDAL Willem Botha en die Kwêla-span het kom kuier en ’n onderhoud met Marlé van Wyk gevoer.

Nadat Suid-Kaap Forum oor Marlé, wat met Stargardt se siekte gediagnose­er is berig het, het mense van oor die land navraag daaroor gedoen. Die doel van die verfilming was om haar stryd om normaal te kan funksionee­r op film vas te lê. As gevolg van dié siekte het sy op die ouderdom van 17 minder as 10% sig in albei haar oë. Sy is die eerste persoon in Suid-Afrika wat die eSight-bril gebruik. Die besondere tegnologie bring voorwerpe nader en kan ook dit waarna sy wil kyk, vergroot. Dit laat haar toe om baie klein skrif te lees en selfs op haar selfoon te sien. Sy kan selfs ’n gedeelte in ’n boek of tydskrif wat sy wil lees afneem, vergroot en tot die kleinste skrif wat sy nooit kon lees nie, met gemak sien. Haar ondervindi­ng met Botha en die Kwêla-span was gemaklik. “Vandat ek hulle vir die eerste keer ontmoet het, het ek sommer geweet dit gaan lekker wees. Hulle het my deel van hulle laat voel wat alles soveel makliker gemaak het. Ek hou daarvan om my storie te vertel, omdat dit lekker is om ander mense te motiveer en moontlik te help. Dis ook lekker om laf voor die kamera te wees,” het sy opgeruimd vertel. ’n Spesiale oomblik was tydens die opname toe sy en Botha so diep in gesprek was, dat dit vir haar gevoel het asof almal rondom haar verdwyn. “Ek het nie geweet hy huil nie, omdat ek dit nie kon sien nie. Eers toe hy die volgende vraag vra kon ek hoor sy stem bewe. Ek huil nie oor my oë nie, maar wanneer ander mense daaroor huil, word ek ook hartseer.” Die uitsending sal Sondag 11 November op kanaal 144 om 18:00 uitgesaai word.

 ??  ?? Marlé van Wyk en Willem Botha by die Van Wyks se woning. Saam met hulle is die gesin se hond, Inca.
Marlé van Wyk en Willem Botha by die Van Wyks se woning. Saam met hulle is die gesin se hond, Inca.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa