Hulp nodig om streek te beveilig
HESSEQUA Die projek om die streek met ’n kameranetwerk te beveilig en misdaad hok te slaan, kry nou momentum nadat die munisipaliteit die kameraposisies goedgekeur en onderneem het om elektrisiteit beskikbaar te stel. Die toetskamera wat deur ’n verskaffer beskikbaar is, is intussen met bydraes van die Goukou-plaaswag aangekoop en werk goed. Die munisipaliteit begin binnekort om ses kameras op die hoofroetes in die streek te ontplooi. Volgens Callie Jordaan, voorsitter van die veiligheidskomitee wat die projek van stapel stuur, is ’n tweede kamera noodsaaklik sodat voertuie in beide rigtings op die N2 gemonitor kan word. Dié kameras sal by ’n netwerk inskakel wat die N2 van Swellendam tot by Plettenbergbaai dek. Die huidige kamera het van Januarie tot Augustus 37 gemerkte voertuie waargeneem. Die stelsel lees 6,5 miljoen nommerplate in 43 sekondes en kan 10 persone in kennis stel as ’n gemerkte voertuig opgemerk word. Die komitee hoop om by wyse van skenkings van die publiek voor die aanbreek van die vakansieseisoen die tweede kamera in werking te stel. Meer kameras sal in ’n volgende fase in werking gestel word om al Riversdal se ingange te dek. Die langtermyn-doelwit is ’n fonds van R200 000, maar die onmiddellike behoefte is sowat R20 000 om voor die seisoen meer paraat te wees. Johan Crous, voorsitter van AfriForum in die streek wat nou gemoeid is met die werking van die onderskeie buurtwagte, het tydens die jongste vergadering van die veiligheidskomitee beklemtoon dat misdaad vanuit die stedelike gebiede na die platteland oorspoel. Op Riversdal self is ’n afname in die aantal voorvalle, maar op plekke soos Witsand en ander kusdorpe is daar ’n skerp toename. Agterpaaie word deur misdadigers gebruik en die plasing van kameras op die regte plekke is belangrik. ’n Vergadering van sakemanne en belangstellendes vind Woensdag 28 November om 18:30 by Die Dam Kwekery plaas om die projek toe te lig en geld te in. Die komitee moedig besorgde inwoners aan om dit by te woon.