Warm in wit
#4
Rosalind en Grant Nale se huis op Stanford in die Wes-Kaap was voorheen die Eerste Apostoliese Kerk, en dié het nie ’n badkamer gehad nie. Hulle het die buitekant van die gebou net so gelos, maar het die uitleg aangepas vir hul gesin van vier se behoeftes – hulle het binnemure uitgebreek en ’n badkamer en kothuis bygevoeg. Die hoofslaapkamer se nuwe oopplan-badkamer is ’n rustige ruimte met ’n pragtige uitsig op die tuin.
“Tydens die ontwerp van die huis het ons eenvoudig geweet daar moet ’n pootjiesbad reg voor die venster staan. Dis so ’n pragtige prentjie dat elke bad soos ’n groot bederf voel,” sê Rosalind. “Dit voel letterlik soos ’n droom wanneer ek daar instap – daar is niks wat jou sintuie op loop jaag nie, net rus en vrede.”
Sementvloere bly ’n gewilde keuse in badkamers. Vir ’n waterbestande afwerking wat maklik skoonmaak, het jy ’n gepaste verseëlaar soos dié van Cemcrete nodig. Jy kan ook ’n bymiddel by die verseëlaar laat inmeng vir ’n glyvaste oppervlak.