Stort met ’n storie
Toe hulle in 2015 by die huis met sy hardehoutvloere intrek, was die stort “... nogal interessant, om dit mooi te stel,” vertel hulle. Water het deur die planke onder die stortvloer gesypel en die deur het nie die opening heeltemal toegemaak nie. “Die water het die hele vertrek vol gespat.” Hulle het destyds gedoen wat hulle kon en die stort toe al effens verander, maar dit was net ’n tydelike oplossing.
Al die jare se nattigheid het onherstelbare waterskade veroorsaak.
“Toe ons besef die hele stortvloer sou verwyder moes word, het dit ons genoeg rede gegee om sommer die stort se mure ook te vernuwe. Ons het besluit om metroteëls in ’n visgraatpatroon teen die mure te lê, ’n inham in die stortmuur te skep vir seep en sjampoe, en die kraan en stortkop te vervang. Die vloer het houtskoolkleurige teëls gekry.”
Die swart stortdeur-rame is pasgemaak en hul soektog na die regte (swart) stortkop het lank geduur.
Daar ís van hulle beskikbaar by toonaangewende handelaars, maar dit is meestal onbekostigbaar, vertel Lizelle. “Ná ’n lang internetsoektog het ons dié een gekry by Plumbitonline in Centurion – teen ’n véél beter prys.” >>