Rede vir opknap
Drie kinders en meer as vier dekades nadat Billy en Jeanette Laubscher in 1974 by hul eerste huis ingetrek het, woon hulle steeds dolgelukkig hier.
“Ons het oor die jare heelwat opknapprojekte aangepak wanneer ons die geld gehad het,” vertel Billy, wat deesdae by die organisasie sonder winsbejag Business Against Crime (BAC) werk ná jare se diens in die polisie se handelstak.
’n Paar maande gelede het hulle die dennehoutplafon bo die kombuis en eetkamer wit geverf. Die vertrek het dadelik baie ligter en groter gevoel. Hulle was so beïndruk met dié verandering dat hulle besluit het om ook die res van die kombuis op te knap. “Maar ons was stomgeslaan oor wat dit sou kos as ons kontrakteurs sou gebruik,” sê Billy.
Die Laubschers se seun Daneel (31) was reg vir hand bysit. Die kleurskema, muurteëls en melamienblaaie was so reg uit die jare tagtig. “Gelukkig was die vakmanskap van die kaste, wat ons 25 jaar gelede ingebou het, uitstekend. Dis van soliede eikehout, wat vandag peperduur sou wees,” sê Billy.
Daneel is ’n bedryfsingenieur vir Plantation Shutters en ’n kranige selfdoener wat as student in die boubedryf gewerk het. Hy het ’n moderner styl en ligter kleurskema vir sy ouers se kombuis ontwerp. Die pa-enseunspan het eiehandig van die loodgieterswerk tot die teëlwerk gedoen, terwyl Jeanette al die kasdeure geverf het – ’n allemintige 44!
Drie weke later kon hulle hul handewerk oor koffie en beskuit bekyk. En was hulle nou nie tevrede nie!
Die enigste kontrakteur wat ooit ’n voet in die kombuis gesit het, was die gasinstalleerder.