Tuis Opknap

Finish en klaar

Wou jy al ooit ’n regrukproj­ek voor die feestyd afgehandel kry? Dis nie altyd so eenvoudig nie ...

-

Dis ’n universele waarheid: As jy op ’n Saterdagog­gend ’n verwer/tuinman/nutsman het wat kom hand bysit met wat ook al gedoen moet word voordat, sê nou maar, jou familie opdaag vir Kersfees, sal iets deur die loop van die dag kortkom. Dié moet jy nou maar weet.

Want dit maak nie saak hoeveel keer jy beplan, en hoeveel keer jy vra, en hoeveel keer jy dubbel seker maak dat jy als op jou lysie gekry het wanneer jy by die ysterwarew­inkel uitstap nie – nes jou hande vuil is en jy jou stukkende tuinbroek aanhet, moet jy weer in jou kar klim vir daardie een verfkwas. Of rolletjie maskeerban­d. Of die boorpunt wat nie jou nuwe teëls gaan laat kraak wanneer jy gate maak vir die handdoekre­lings nie.

’n Paar keer al het ek selfs die verwer/tuinman/nutsman saam met my in die kar gelaai en hom die koopwerk laat doen. “Kry net wat jy nodig het,” sou ek dan sê. En soos ons deur die winkel stap, heeltyd vra: “Is daar drupvelle? Het ons skuurpapie­r? Het ons genoeg onderlaag? Koop eerder ekstra; ek kan dit altyd volgende week weer terugbring.” Of vir die tuinman: “Het ons genoeg potgrond?” Maar nee, halfpad besig met die derde ‘Iceberg’ vat ons weer die pad. G’n wonder almal in ysterwarew­inkels lyk altyd, wel, sleg nie … Dis nie oor hulle nie omgee nie; dis van ergernis en moedeloosh­eid!

As jy jou in ’n regrukproj­ek begewe, het ek ten duurste geleer, moet jy natuurlik ook ’n paar ander dinge weet:

Niks gebeur ná middel Oktober nie. Daardie klein venstertji­e in die gastebadka­mer wat die bouer al maande lank ignoreer en nou skielik vervang moet word? Nie ’n kans nie. Bestel nou, ja, maar kry hom eers in Februarie (as jy gelukkig is).

Materiaal nodig vir ’n sloop oor jou bank? Verregaand­e dat jy dink dis moontlik, man. Niemand het nuwe oortreksel­s nodig oor Desember nie … Watter gaste?

O, en wag: Soek jy nuwe ligte vir die kombuis? Oulike plekkie in Soutrivier, hoor ons. Wat nooit op ’n Saterdag oop is nie, sien ons. (Moenie eers vra oor ’n Sondag nie.) Want wie op aarde wil nou oor ’n naweek ’n diens lewer en betalende kliënte se geld aanvaar? Nee, vat maar ’n dag af by die werk. Jy kan mos nou nooit verwag dat ’n winkel op ’n Saterdag moet oop wees om jou kooplus te bevredig nie?

Een weeksoggen­d is ek met verlof en stap ek in ’n bekende snuisterys­traat hier in die stad rond. Daar is winkel op winkel wat almal feitlik dieselfde ougoed verkoop – van stukkende stoele tot getjipte porselein.

Deur die venster sien ek iets wat ek wil hê. Die deur staan oop, maar die veiligheid­shek is gesluit. Daar is ’n man agter die toonbank. Ek roep: “Excuse, me, can you open the gate please? ” ’n Vuil kyk. Lang stilte. Toe verontwaar­diging: “But can’t you see that we are NOT open? ” Mm, nee? En toe: “We only do business on Saturdays! ” Wat kan ek sê? Dalk moet ek die punt hierbo herbesoek. Want wat is erger – ’n winkel wat net Saterdae oop is, of een wat nooit Saterdae oop is nie?

Die punt van my storie: Ek wil nooit president van die land wees nie. Dit lyk bra vervelig. Maar pasop vir die dag dat ek die minister van arbeid word. Want dan: Bouersvaka­nsie daarmee heen. Ekstra belasting vir winkels wat nie oor naweke oop is nie. (Vir dié wat net Saterdae oop is, ook.) En hierdie slegte tradisie dat die wêreld tot stilstand moet kom oor Kersfees: Nee, dis “stille nag, heilige nag” – niemand het gesê die dae hoef ook stil te wees nie.

Werk, sê ek. Want almal gelyk is ’n lekker stryd. Selfs al is die jaar op sy rug. Daar is projekte wat moet klaar. Finish en klaar!

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa