Só het die projek verloop
Binne is ’n paar deure oopgebreek en ander toegemessel vir beter vloei. Ou vensters is vervang met nuwes van aluminium, en plek-plek is stapeldeure na buite geïnstalleer. Die houtwerk is wit geverf, en die mure in die huis skakerings van bruingrys, wit en donkerblou. Luidsprekers vir musiek is regdeur die spa geïnstalleer – netjies in die plafon!
In die ou sitkamer is ’n sementblad met ’n wasbak bo-op ingebou. Dié vertrek word nou gebruik vir mani- en pedikure. Waar daar vloerteëls was, is dit uitgebreek en ’n afvlaklaag gegooi. Water is aangelê met koperpype wat op die muur gemonteer is – so is onnodige kap- en sementsnywerk vermy.
’n Blou-en-wit mosaïekwerk is in die vloer van die wagkamer aangebring deur die mosaïekkunstenaar Marike Lotter. Die bouer het vir haar die gat in die vloer gelos, en sy het die kunswerk gedoen met teëlskerwe en ou wit porselein. Dis agterna geseël. Langs die wagkamer is die stilkamer (links) waar kliënte ná ’n behandeling kan ontspan.
Een van die grootste, maar noodsaaklike koste was die bou van ’n stoomkamer. Een van die bestaande badkamers in die huis was ideaal hiervoor, want die nodige krane en pype was reeds in plek.
Die geluid van water is ’n belangrike spa-element wat help om rustigheid
te skep. – Christine
dele van die tuin agter die huis was reeds met plaveisel bedek. Dis in ’n dubbelgrootte-patio omskep deur ou staalhekke in dakpanele te verander. Dit rus op pilare wat spesiaal hiervoor gebou is. Hier word onder meer ligte middagetes aan spa-kliënte bedien. ’n Langwerpige waterfokuspunt is reg langsaan gebou – met die doel om dit later in ’n refleksologiepoel te verander. Geen van die bestaande plante in die tuin is verwyder nie. “Ons het eerder daar rondom gewerk.”