’n Teenmiddel vir eensaamheid …
My liefde vir kaas is gebore uit etes saam met vreemdes in Londen – sê ons kosskrywer, Karen Dudley van The Kitchen in Woodstock.
as’t ware, trooskaas pleks van trooskos,
As ’n sjef wat fyn moet oplet na die nuutste kostendense en wat ek glo mense graag wil eet, het ek gou besef daar is tye wanneer jy jou moet inhou as dit by kos kom, maar ook tye wanneer jy jou maar kan oorgee aan die genot. Kaas is gewoonlik in albei gevalle ter sprake.
Net ’n paar skaafsels effens gekristalliseerde, beleë Asiago met dun skyfies Honey Crunchappel … so eenvoudig, maar heerlik.
Of ’n kaasbroodjie uit die toebroodjierooster wat my ouers 50 jaar gelede as trougeskenk gekry het. Dié kaserige bederf is sekerlik een van die grootste bederwe op aarde; wat is dan nou beter as die gesmelte kaas wat sulke lang linte trek wanneer jy ’n hap vat? Terloops, ek het onlangs in ’n Amerikaanse tydskrif ’n nuwe truuk raakgelees: Jy smeer die buitekant van die brood met mayonnaise voor jy hom in die pan sit. Jy sal die plesier nie glo nie!
Wanneer die koskaste in my restaurant leeg raak, stuur ek ander mense om die groente, vrugte, vleise en kruie te gaan koop. Maar kaas? O, nee: dié koop ek self.
By die kaastoonbank moet die personeel seker al regdeur my plan sien. Kamma onkundig vra ek elke keer: “Oe, daai een … Wat is dit? Waarvandaan kom dit? Kan ek proe, asseblief tog?”
En dan gaan ek huis toe en pak trots die mooiste kaasborde. Sulke wonderlike kase word hier plaaslik gemaak, en baie van hulle wen internasionale pryse. Hoekom dan nie?
By my restaurant, The Dining Room, probeer ons altyd kaas by ons voorgeregte insluit. Ons gebruik vier jaar oue boerenkaas in ons vla of maak veerligte boerenkaas-balletjies.
Die Turkse gözleme hier langsaan is een van ons gunstelinge. Dié fillodeegpakkies gevul met goeie cheddar, spinasie en rissie word in driehoeke gesny. Hulle verdwyn vinnig!