Die aromas van ’n vervloë tyd
Ons kosskrywer, Karen Dudley van The Kitchen in Woodstock, bepeins die geheime van ’n “retronasale reuksintuig” en die fassinerende katalogus van geure in ons onderbewussyn.
Johané Neilson •
Dit was altyd reuke wat my gang-af geroep het in my ouma se huis in Lansdowne ... die aroma van ’n vleissnit wat stadig gaar word in botter en suiker, die reuk van stoeppolitoer, skoon wasgoed of gestoofde koejawels. Al agter dié reuke aan sou ek my neus volg uit die sonkamer waar my oupa se maanblomme voor die venster oor die rotstuinmuur tuimel, oor die rooi-en-blou mat en deur die eetkamer met sy kenmerkende plakpapier, verby die soetigheid in die glas-en-spieëlkas met al sy skatte, verby die blink imbuia-balen-klou-meubels – tot in die kombuis.
Daar, by die tafel met sy Formica-blad, het altyd ’n vriendin of buurvrou gesit. Rakke gelaai met potte en oondbakke het getuig van die nimmereindigende proses van voorbereiding, opskep en geniet wat met kos gepaard gaan. Ouma had mitiese kragte: Sy kon gewone bestanddele omtower in ’n sensoriese ervaring. Vandag nog, noudat ek vir ánder se kos-ervarings sorg, is daar reuke wat my bybly en nostalgiese herinneringe oproep!
My oupa Leonard was rond, joviaal en vrygewig, met ’n bruisende humorsin. Hy was beroemd vir sy paella en Cream Soda met roomys. Hy het ook altyd gesorg dat daar genoeg kiste Stork-koeldrank is vir die kleinkinders (en dié van die Docks MissionSondagskool).
Ek het al voorheen ons legendariese familie-etes beskryf, maar het ek al vertel van die nageregte? Diep Pyrex-bakke met brood-en-botterpoeding, ander weer met meringue-bolae.
En, o my genade! Diep in my onderbewussyn hoor ek nou die pynappelskuimpoeding
Francois Oberholster
fluister. Dit het gereeld op die Sondagspyskaart verskyn, maar was nog altyd vir my ’n raaisel. Hoe het Ouma dit so lig en donsig gekry – soos ’n pynappel-soentjie deur babalippies. Jellie? Ingedampte melk?
In sy boek Cooked verduidelik die vermaarde Michael Pollan – een van my gunsteling-kosskrywers – die geheimenisse van lug in kos en die bekoring van sjampanje, brood, soufflé en gaskoeldrank.
Die lugborrels in byvoorbeeld brood dra dié geure na die agterkant van die mond waar dit deur middel van jou retronasale reuksintuig (my nuwe gunsteling-frase) die neusgange bereik.
Hoewel ons reuksin help met die identifisering van kosse en reuke in die buitewêreld, sê Polan, word retronasale seine “opgeneem in die hoogste vlakke van ons serebrale korteks, asook in dele van die brein wat met geheue en emosie te doen het ... Retronasale waarneming kan reuke bespeur waarvoor selfs die neus blind is.” Kan jy glo!
Die vraag is nou: bêre ’n mens bewustelik of onbewustelik dié groot katalogus geure, elk met sy ontelbare nuanses, in die voue van jou brein? En wat sou ek als tussen my ore bêre?
Mm, mosbolletjies, koeksisters, meringue, Chipniks, Crunchies, suurdeeg-pretzels, Italiaanse nougat, geklitste room, sjokoladeeclairs, fyngebak ... en Oupa se Cream Soda float! email@karendudley.co.za