Wense word waar
Neville het begin deur ’n grondplan te teken. “My eerste prioriteit was om meer beddings met lae-onderhoudplante te skep,” vertel hy. “Die groot grasperk was oninteressant en waar dit aan die suidelike mure gegrens het, het dit ná die winter baie sleg gelyk.
Neville verduidelik die manier waarop ’n mens deur ’n tuin beweeg, is baie belangrik. “Al is ’n tuin hoe klein, moet dit jou lok om daardeur te stap. Die bestaande plaveisel om die huis het te veel plek in beslag geneem en is verklein tot net ’n enkelry stene. Dit kon nie heeltemal verwyder word nie, want dit hou vogtigheid van die mure af weg. Vir die paadjie wat om die huis na die swembaddeel loop, het ons op sirkelvormige plaveiblokke besluit. Dié vorm werk goed vir ’n kronkelpaadjie, soos hier. Verder is reghoekige plaveiblokke in die grasperk en gruisklippies in die agtertuin gebruik.”
Met die verskillende grondoppervlakke het Neville terselfdertyd tuinkamers geskep. “Wanneer jy van een soort oppervlak na ’n ander beweeg, skep dit die indruk dat jy ’n nuwe tuinkamer betree,” verduidelik hy. “Die tuinboë het dieselfde doel; die plante wat daarteen rank, sal die boogstruktuur met verloop van tyd toegroei en wegsteek.”
In die beddings is lae-onderhoudplante gebruik en langs die paadjie met die sirkelvormige plaveiblokke is ’n laag-oplaagvoorkoms met verskillende soorte grasse en dekplante geskep. Viburnum sinensis en spikkelblaarkasure (Pittosporum tenuifolium) versag die grensmure. Albei is goeie heiningplante.
PLANTE WAT MIN AANDAG VERG
Die waterfokuspunt (oorkant) was van die begin af hier, maar met feitlik geen plante rondom nie. Dit is versag met onder meer heilige bamboes (Nandina domestica), dwergmondogras (Ophiopogon japonicus ‘Kyoto’) en Philodendron ‘Xanadu’.