Agterblad Riana Scheepers gesels
My oog vang ’n artikel deur Tom Goodwin, ’n jong man wat in die hoogs mededingende advertensie-en-bemarkingsbedryf werk. Ek lees met groot plesier wat die jongeling sê: “Why I miss old people in the workplace.”
Goodwin se artikel gaan oor die hedendaagse beroepswêreld wat obsessief daarop ingestel is om jong mense in die werkplek aan te stel. Jong mense het matelose energie, briljante idees en tegnologiese vaardighede, alles wat nodig is vir sukses in die bedryfslewe.
Terselfdertyd word argeloos van al die “ou hout” ontslae geraak. Want wat weet ’n ou oom of tannie van vyftig nou eintlik van die moderne lewe, die supersnel ontwikkelende tegnologie, sosiale media en die internet?
Dis ’n verkeerde strategie, sê die (oulike) jong man. Al het jong mense verstommende visie, briljante kreatiewe denke en ’n oormaat vrypostige arrogansie, het hulle ook ’n verlammende gebrek aan wysheid – iets wat die meeste ouer mense wel het. Met ’n jong werksmag het ’n onderneming die waardevolle insette van die jeug se mening, maar dit is ’n mening sonder konteks. Goodwin sê hy mis die gravitas, die sakesin en die stabiliteit waaroor die ouer garde beskik; daarom wil hy graag meer “bejaardes” in sy werksomgewing hê. Só ’n bek moet jêm kry. Ons almal weet dat 70 die nuwe 50 is. Ouer mense is aktief, betrokke, bedrywig, fiks. En slim. Natuurlik is hulle ook hardkoppig en beterweterig. Soms is hulle heeltemal onverantwoordelik, maar dit mag hulle seker maar wees?
Partykeer praat die ouer garde met nostalgie oor hul jeug, maar soos een oom gesê het: As ek verlang na my jong dae, dan dink ek net aan wiskunde op skool en dan is ek doodgelukkig waar ek nou is.
Ek ken ’n wonderlike verhaal van die wysheid, of slinksheid, van ouer mense.
Soos dit hoort, speel hierdie verhaal af in die verre verlede, in die tyd toe mense nog nie elektroniese betalings kon doen nie.
Op ’n Saterdagmiddag, kort voor sluitingstyd, stap ’n ou oom by ’n juwelierswinkel in. Natuurlik kan ons van hom praat as “oud”, want hy raak-raak so aan die tagtigerjare. Oud, maar glad nie koud nie, hoor, en boonop flambojant en vol dinge –