’n Inheemse oase op Knysna se Leisure Isle
Om op ’n eiland tuin te maak beteken nie noodwendig jy boer met palmbome nie. Kyk nou net hier!
In Peter en Liz Reynolds se tuin op Leisure Isle in Knysna is dit inheemse staatmakers wat seevier!
Maar vier jaar terug, voor hulle met die hulp van Hannes Stander, ’n tuinontwerper en mede-eienaar van Ecozest, hier begin tuinmaak het, was daar net ’n paar bome soos die groot, ou melkhoutboom, ’n verwaarloosde grasperk en sand op die erf.
Peter en Liz wou graag ’n inheemse tuin hê waar dit sou voel asof hulle in die natuur is, al bly hulle in ’n woonbuurt. Die tuin moes ook by die kontemporêre argitektuur van die huis aansluit en so privaat moontlik wees.
Twee dele
Ná ’n deeglike ontwerpproses en met die plan op die tafel het Hannes hul droomtuin help skep. Hy het die tuin in twee dele verdeel.
Aan die suidekant, waar die hoofingang en hoë fasade is wat op die pragtige Knysnakoppe uitkyk, het hy van digte beplanting gebruik gemaak ter wille van privaatheid: inheemse bome, struike en grondbedekkers wat natuurlik in die kusduine voorkom en gewoond is aan sout in die lug, sterk wind en sanderige hellings. Dié ontwerp gee die gevoel dat die tuin in ’n natuurlike kusbos geleë is. Hy het onder meer Outeniekwageelhout (Afrocarpus sin. Podocarpus falcatus), wasbessie (Morella cordifolia) en Helichrysum teretifolium gebruik om dié gevoel te kry.
Die grootste gedeelte van die tuin lê aan die noordekant, agter die huis, wat meer son kry en teen die heersende wind beskerm is. Hier is ’n kleurvolle inheemse tuin vol lewe geskep wat die Reynoldse ook meestal as buiteleef-area gebruik. Hannes het dié deel van die tuin in verskillende sones verdeel, elk met sy eie habitat.
“Verskillende tuinhabitatte binne ’n groter geheel gee ’n tuin karakter, met ’n interessante verskeidenheid danksy elkeen se eiesoortige plantegroei. Elke habitat vorm sy eie mikroklimaat en lok bepaalde insekte en voëls wat hul tuiste en kos in daardie spesifieke omgewing vind,” vertel Hannes.
Een van die grootste sones is die droë rivierloop wat soos ’n sentrale as deur die tuin loop. Dis ’n droë landskap met net waterwys plante. Hier is spoelklippe van groot tot klein, vetplante en kronkelende voetpaadjies. Dieper in die tuin, agter die gepakte klipmuurtjie wat die droë rivierloop afbaken, groei digte woudplante wat weer ’n bosgevoel gee.
Sowat 98% van die tuin is inheems. Enkele uitheemse plante wat Peter en Liz na aan die hart lê, soos die Meksikaanse trompetblom
(Distictis buccinatoria) en blomgranate (Punica granatum), is ook gebruik. “Ons hou van die manier waarop Hannes ’n landelike gevoel aan die tuin gegee het,” vertel Liz, “en hoe hy met sukses die omliggende geboue met bome en struike afgeskerm het. Ons hou van die wilde dele wat ’n magdom voëls en insekte lok. En almal geniet die ‘rivierbedding’!” >>
Die gebruik van klip in die tuin skep afwisseling en kontras met die plantegroei. Daar was aanvanklik nie juis klip op die eiendom nie en alles is aangery. Omdat Peter en Liz geen permanente strukture in die tuin wou hê nie, is die klippe vir die muurtjies net op mekaar gepak; dit dra ook by tot die natuurlike gevoel waarvan hulle so baie hou. Die klipmure eindig nêrens opsigtelik nie – dit verdwyn eerder tussen die plantegroei en om draaie, wat aan die tuin ’n gevoel van grenslose ruimte gee.
Hannes se tuinwenke
• Plant interessante plante en dié wat meer aandag nodig het naby of rondom stoepe en voetpaadjies waar jy hulle kan sien en maklik kan versorg. As jy ’n plant nie sien nie, vergeet jy gou daarvan! • Gebruik geharde inheemse struike soos blinkblaar, kruisbessie, wildegranaat, saliehout (Buddleja salviifolia) en groot-noemnoem vir natuurlike skerms en as agtergrond vir die tuin. Veral as jy naby die kus bly en die tuin aan wind blootgestel is, is ’n geharde inheemse struik ’n goeie keuse. • Kyk na die uitsig vanuit jou tuin. Beklemtoon dit wat mooi is deur reeds in die ontwerp “vensters” oop te maak na die groter landskap. Moet byvoorbeeld nie ’n mooi uitsig met bome laat toegroei nie; plant die bome elders op die erf waar jy juis privaatheid wil skep. Deur van uitsigte uit jou tuin gebruik te maak, skep jy ’n grenslose gevoel, veral in ’n dig beboude woonbuurt. • Plant grondbedekkers tussen struike om ’n natuurlike voorkoms en ’n mikroklimaat te skep. Dit dien as lewende deklaag en word mettertyd deel van die ekosisteem. >>
[SÓ SKEP JY HABITATTE IN JOU TUIN]
Dit is maklik om ’n verskeidenheid habitatte op jou werf te skep, al is jou tuin hoe klein. ’n Habitat hoef nie groter as ’n vertrek in jou huis te wees nie, en net een groot boom se skadu is genoeg, sê Hannes. Hy gee raad:
“Deur habitatte met definitiewe eienskappe te maak, kan jy ’n groter verskeidenheid plante in jou tuin gebruik en meer lewe in jou tuin hê. Dit gee ook ’n spesifieke gevoel aan elke deel van die tuin, wat dit interessant maak. Wat jy eintlik doen, is om tuin te maak volgens die son en skaduwee, die hoeveelheid water en voeding wat jy in ’n sekere deel gebruik en die gevoel wat jy in ’n ruimte wil hê.
“In die natuur speel plantegroei ’n baie groot rol in habitatte. Net so in ’n tuin. Die plantkeuse is baie belangrik om die regte gevoel daaraan te gee. Ek deel eers die tuin op in sones waar elke sone sy eie habitat vorm. Daarna kies ek plante wat saam sal help om ’n bepaalde habitat te skep, wat dan in simbiose, oftewel tot mekaar se voordeel, saamgroei,” verduidelik hy. “Met die maak van verskillende habitatte kan uitheemse plante baie goed by ’n inheemse tuin inpas. Die kuns is om hulle reg te gebruik. Elke plant moet ’n funksie verrig as byvoorbeeld aksentplant, vullerplant, grondbedekker of skermplant. Dit moet ook bydra tot die lewe en karakter van die tuin.
“Verskillende habitatte vloei inmekaar sonder dat daar noodwendig ’n duidelike skeidslyn is. Die tuin het dus steeds ’n gevoel van eenvormigheid. Dit is eers wanneer jy deur die tuin loop dat jy bewus word van die subtiele oorgang van een habitat na ’n ander. Strukturele elemente soos paadjies, mure, keermure, priële en heinings kan wel gebruik word om een habitat van ’n ander te skei en definisie daaraan te gee,” vertel Hannes.
[STAP SAAM!]
Heelwat paadjies kronkel deur die tuin. Hulle verbind die tuinkamers en habitatte en gee toegang van die huis na die hele tuin.
“Beweging deur ’n tuin moet een van die belangrikste mikpunte in die ontwerp daarvan wees,” verduidelik Hannes. “In enige tuin sal voetpaadjies aandag trek en jy sal wonder en wil uitvind waarheen dit lei. Ek glo paadjies moet so ontwerp wees dat dit jou op die maklikste en tog interessantste manier laat uitkom waar jy wil wees. In Peter en Liz se tuin is daar talle voetpaadjies wat presies dit doen!”
Hannes het die plaveistene ontwerp en maak dit self van sement. Hy wou ’n steen hê wat presies die breedte van ’n voetpaadjie in die veld is.