Tuis

Agterblad Riana Scheepers gesels

Wat maak ’n ete onvergeetl­ik – dalk die prys, of die gehalte van die kos? Nee, sê Riana Scheepers, dis die plek, die geselskap en jou hongerte.

- Riana rianas@mweb.co.za

Inbelprogr­amme op die radio is nie my gunsteling-luistermat­eriaal nie. Maar onlangs was daar een waarna ek eers met verstommin­g, en toe met groot plesier, luister.

Gewoonlik duur dit mos so drie, vier minute voordat ’n inbeller van sy demokratie­se reg gebruik maak om in die openbaar te wys hoe onkundig, rassisties, of heeltemal waansinnig hy of sy is. Ek vervies my gewoonlik só vir die stommiteit­e wat mense kan kwytraak dat ek doodgewoon die radio afskakel. Stilte is baie beter vir my welsyn as die vae moontlikhe­id dat ek ’n weergalose wysheid te hore sal kom. Maar hierdie program kry dit toe reg om my aandag gevange te hou. Die tema? Die lekkerste kos wat jy al ooit geëet het.

Ek wil by voorbaat die radio afskakel toe ek hoor waaroor dit gaan, maar daar word ek toe verras.

Dalk het ek gedink almal wil vertel van die duurste etes in die beste restaurant­e. Maar skynbaar het nie één inbeller die lekkerste ete van sy lewe in ’n restaurant – duur óf goedkoop – geniet nie.

Waarvan vertel hulle, met heimwee en trane in die oë? Van die eenvoudigs­te kos waaraan jy kan dink. Pap met ’n smoortjie op ’n koue winterogge­nd in ’n ouma se kombuis. Twee knape wat met ’n kettie ’n duif skiet en dit net daar in die veld oor die kole braai. Vandag, as volwassene, sê Koos met heimwee in sy stem, dink hy terug aan daardie duifie wat hulle sonder sout gebraai het, en met hoeveel oorgawe hy en sy pel Thabo daaraan gesmul het. Nog iemand bel in en sê: Man, niks is lekkerder as groenboont­jiebredie op ’n sny brood nie. Soos sy ma dit voorgesit het. Nee, wat, sê ’n vrou, niks kom by die poeding op ’n platteland­se dorp se kerkbasaar nie. Hoe groener en rooier en drillerige­r, hoe lekkerder.

Die inbellers bevestig wat ek al lankal weet: Dat dit nie soseer gaan oor die gehalte van die kos nie, maar verál oor die plek waar die kos geëet word. En die geleenthei­d. En die geselskap. En, natuurlik, die hongerte wat jy het. Dis ’n cliché, maar dis waar: Honger ís die beste kok. As jy honger is, dan is daar nie iets soos fiemies nie.

Ek het nie fiemies aan my nie; álle kos is vir my lekker. As dit boonop ’n vriend of vriendin is wat kosmaak, en die geselskap is goed, dan word ’n broodjie en kaas ’n feesmaal.

As ék moes inbel, van watter kos sal ek praat?

Ek herinner my een van my eie kulinêre hoogtepunt­e, maar die vader weet, ek sal beslis nie inbel en daarvan vertel nie. Die kans is groot dat iemand wat na mý luister, terstond die radio sal afsit. Ek en my man is eenkeer in Namibië. Soos altyd wanneer ons daar is, probeer ons minstens een aand in die veld slaap. Ná aandete, die kinders en vriende wat saam met ons kuier gevoed en versorg, vat ons die bakkie met ’n matras en ’n slaapsak. Ons ry die duine in. My man is avontuurli­k, hy vat ook ’n bottel port en twee glase saam. Toe die maan daardie aand opkom, sit ons teen die duin en drink port uit mooi glase. Ons sien ’n enkele gemsbok op die kruin, sy horings twee spiese teen die maan. Ons slaap in die arms van die nag, ’n diep, soet slaap.

Toe die son die volgende oggend opkom, sit ons ’n bietjie koulik in sy yl strale. Ons is baie lus vir koffie en beskuit, maar in ons haas om die vorige aand weg te kom, het dit agterweë gebly.

Wat het ons wat kan instaan vir ontbyt? ’n Halwe bottel goeie port. My man kom in die bakkie af op ’n pakkie suiglekker­s, daardie aaklige swart balletjies wat jou mond pikswart maak en van kleur verander hoe langer jy daaraan suig. Die kinders wat gister met die bakkie gery het, het dit daarin vergeet.

So, wat is die beste ontbyt ter wêreld? Port en swart suiglekker­s. Daardie oggend het die mense by die huis maar hul eie ontbyt moes maak. Ek en my man het die beste ontbyt ter wêreld gehad.

En die lewe gevier.

 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa