Agterblad Riana Scheepers gesels
Skreeusnaakse situasies kan die stigtelikheid van gewyde plekke lelik beduiwel, vertel Riana Scheepers.
eEk ry saam met my reisgenoot deur die Suid-Kaapse platteland. My man het hier grootgeword, hy ken die wêreld goed. So ver as wat ons ry, noem hy die mooi klinkende name van die plase, die afdraaie, die stasies, die gehuggies. Ouvloer, Botteliersfontein, Aasvoëlkop, Die Boord, Herbertsdale, Karringmelksfontein, Cooper’s Siding, Vadersgawe ... Oor elke plek het hy ’n storie te vertel: die mense, die gebeure, die kaskenades, die droefnisse, die lewe.
My man is ’n lewendige verteller, ek kan nie glo hoe vinnig die landskap verbygly nie. Toe ek weer kyk, sien ons Riversdal se beeldskone klein meisiekind; sy wat al vir eeue lank rotsvas en rustig slaap, lang wimpertjies op haar wange. Omdat my man se ouers soms lang tye weg was, moes hy as kind elke jaar ’n paar maande in die skoolkoshuis bly. En dit is natuurlik daar dat die meeste onheilighede uitgebroei het. Hy begin lekker lag. Waaroor lag jy, vra ek. Hoekom is dit so, sê hy, dat die snaaksste dinge altyd in die kerk gebeur?
Dit spreek vanself: Die dinge waaroor jy jou wil doodlag, gebeur altyd op ’n plek en tyd wanneer jy nie mág nie. Soos in die kerk. Waaroor het jy gelag, vra ek my man. Ek hoor die mooiste stories. Van Jock, ’n Skot, wat met ’n Suid-Afrikaanse vrou getroud was. Die arme Jock met sy ligte vel het dit maar hotagter in die wrede Afrika-son gehad. As noodmaatreël het sy vrou altyd lipsalf byderhand gehou om sy skurwe lippe te laaf. Eendag in die kerk stamp Jock onder die gebed aan sy vrou en vra die lipsalf. Sy gee dit vir hom aan. Terwyl almal se oë toe is, smeer Jock sy mond mildelik met die salf, sommer oor sy ken en wange ook. Toe die predikant amen sê en sy oë vanaf die preekstoel op Jock val, bars hy in ’n onbedaarde lagbui uit. Én die hele gemeente, toe hulle sien dat Jock nie lipsalf nie, maar sy vrou se bloedrooi lipstiffie aangesmeer het! Chaos in ’n stigtelike, plattelandse kerk. Saterdagaande op die platteland was altyd danstyd, en destyds het die mense nog ordentlik aangetrek om te gaan dans. Op een só ’n danspartytjie het een van die ouderlinge en sy vrou geskoffel dat die stowwe staan. Die tannie besluit nee, wat, dit is heeltemal te warm, haar sykouse moet uit. In die kleedkamer trek sy dit uit. Haar handsak is nie naby nie, sy druk dit sommer in haar man se baadjiesak. Die volgende oggend sit haar man sedig in die ouderlingsbank, met dieselfde pak klere waarmee hy die vorige aand gaan dans het. ’n Vreeslike niesbui oorval hom. In plaas van die spierwit sakdoek wat hy altyd by hom het, trek hy ’n paar sykouse uit wat in die lug voor hom fladder. En natuurlik sien almal in die kerk dit. Wanorde in ’n stigtelike, plattelandse kerk. Eers toe die man vuurrooi van skaamte die kerk verlaat, gaan die diens voort. Pinkstertye moes al die hoërskoolkinders die aanddienste bywoon. Hul plek was op die twee galerye. Dit was wonderlik, sê my man, want die meisies was op die oorkantste galery. ’n Sekere man en vrou, vooraanstaande mense, was bekend daarvoor dat hulle altyd laat gekom het. En dié spesifieke aand is dit toe ook so. Met ’n stampvol kerk is die enigste beskikbare plekke tussen die skoolkinders op die galery. Reg voor my man en sy kwajong-vriende kom sit die man en sy vrou, ’n jakkalspels-stola deftig oor haar een skouer gedrapeer. Die skoolseuns se aandag is glad nie by die diens nie, hulle is gefassineer deur die jakkals hier reg voor hulle wat met kraalogies na hulle loer. Uiteindelik kan een van die belhamels homself nie keer nie en met twee vingers druk hy op die jakkals se oë. Die jakkals se bek spring wawyd oop. Van skrik spring die kind regop en skree woorde wat nié in ’n kerk tuishoort nie. Die vrou skrik ook, spring op en skree nóg meer onwelvoeglikhede. Die hele galery skoolseuns val oor die banke soos hulle probeer om nié te lag nie, maar dit glad nie regkry nie. Pandemonium in die kerk, en einde van die diens. Hedendaagse predikante het baie meer deernis met die menslike kondisie as die vuur-en-swael-predikante van die verlede. Ek dink ’n mens mág deesdae maar in ’n kerk lag. Maar gaan dit dan nog so snaaks wees, omdat jy mág?