Krui van die maand
Gebruik Oregano ‘Hot and Spicy’ vir ’n effense byt in die winter wanneer rissies skaars is.
Kweek dit so Oregano ‘Hot and Spicy’ is ’n immergroen, rypbestande grondbedekkerkrui met ’n spreidende groeiwyse van 20 cm, perfek vir ’n houer. Dit het grysgroen ovaal, effens harige blare, en dra trossies wit blomme in die somer. Plant dit in volson in goed gedreineerde, komposryke grond.
Verskillende soorte Ander ongewone variëteite is ‘Country Cream’, ’n grondbedekker met ovaal room-en-groen blare en klein pienk blomme; ‘Golden Upright’, ideaal vir houers of as kontrasplant, en die laaggroeiende ‘Golden Oregano’ met sy geel blare, wat ’n dekoratiewe grondbedekker tussen ander kruie maak.
Wenk van die maand Snoei terug in die lente en verryk die grond met kompos om bosagtige nuwe groei aan te moedig.
Het jy geweet? Oregano ‘Hot and Spicy’ is ’n uitstekende metgeselplant vir groente soos broccoli, kool, blomkool, komkommer en soetrissies omdat dit komkommer- en skorsiekewers weghou.
Algemene probleme Die stele kan houtagtig raak as die plant nie gereeld gesnoei word nie. Hoe meer jy daarvan pluk, hoe beter groei dit. Gebruike Dis ideaal vir pikante Meksikaanse of Italiaanse geregte, vir die stadige gaarmaak van geregte met tamaties, olywe, knoffel en uie, asook bredies met bief, hoender en lam.
KONTAK healthyliving-herbs.co.za