Agterblad Riana Scheepers gesels
Iemand wat verstaan, wat simpatie betoon of selfs net luister of kos en wyn aandra, is ’n seën. Dit glo Riana Scheepers.
’nVriendin van my, ’n kunstenaar wat aan ’n belangrike uitstalling werk, raak uit die bloute bekommerd en benoud oor al die werk moet sy nog moet doen. Maar ek weet sommer: Dit gaan nie eintlik oor die werk wat moet klaarkom nie. Soos alle super-begaafde mense twyfel sy skielik aan haarself. Gaan ek nie die galery teleurstel nie? Gaan ek mysélf teleurstel? Kán ek dit doen? Dit voel vir my asof alles wat ek skilder ouderwets en onvanpas is. Hét ek as kunstenaar nog iets te sê? vra sy.
“Kom saam met my,” sê ek vir haar. “Gee my drie dae van jou lewe.” “Wat wil jy met my doen?” vra sy agterdogtig. “Ek gaan help dat jy jou kop oopkry.” Ek lag ’n bietjie vir my talentvolle vriendin, want ek verstaan baie goed wat haar vrese is. Daar is niks fout met haar nie, sy is ’n verbluffende kunstenaar, maar sy het net iemand nodig wat haar weer perspektief kan gee. Daardie iemand is ek, ’n vriendin en medekunstenaar, al kan ek om die dood nie skilder nie. Ek weet maar te goed wat skrywersblok is, en dit wat sy ervaar, is die skilder se ekwivalent van skrywersblok. Skilderblok?
Ons gaan na ’n huis in die woud. ’n Eenvoudige, stil, mooi stranddorpie waar daar baie min ander mense is. Ons sit op die stoep tussen die bome en luister na Anna Netrebko en Dulce Pontes. Hul lieflike stemme styg op en draal tussen die takke. Die klipharde musiek pla niemand nie, net die loeries wat stomverbaas is oor dié onverwagse kompetisie. Ons maak kos, lekker kos, en drink wyn; nogal baie wyn. Ons stap langs die see en ons stap in die magiese woud met sy klam onderbos en oeroue geelhoutbome.
Ons stap en my vriendin praat: oor haar onvermoë om te skilder, haar vrese dat sy as kunstenaar nie meer relevant is nie. Hoe kan ’n mens jou bestaan as kunstenaar regverdig as daar soveel kritieke probleme in ons land is?
Ons praat oor baie dinge, oor kinders en politiek en geld. Ons praat oor skoonheid en die kunstenaar se unieke vermoë om dit raak te sien. Ons praat verál oor die plig van die kunstenaar om skoonheid, in al sy vorme, raak te sien en vir ander aan te gee.
Toe die son op die tweede dag begin water trek, trek die kunstenaar haar sketsboek nader. Sy verdwyn in ’n ander wêreld, haar potlood flits oor die wit papier. My taak is gedaan, ek sorg verder nét vir die kos. En wyn. En musiek. Dit is alreeds bewys dat vroue wat vriendinne het, gesonder, gelukkiger mense is. Nie dat die vriendinne so veelvuldig hoef te wees nie, daar moet net iemand wees wat die belangrikste aspekte van jou lewe kan verstaan en aanvul. Daar moet iemand wees saam met wie jy kan klere koop, iemand by wie jy jou hart kan oopmaak, iemand saam met wie jy kan reis. Soms ook iemand saam met wie jy vir ’n paar dae in ’n huis in die woud kan gaan bly. In enkele, uitsonderlike gevalle kan een vriendin ál daardie behoeftes vervul, maar meestal word hierdie simpatieke ondersteuning versprei binne die persoonlikhede van drie, vier uitsonderlike vriendinne. Die laaste aand van ons woudverblyf breek aan. Die spanning is verbreek, my vriendin is gretig en opgewonde om terug te gaan na haar ateljee. Ek nooi ’n ander vriendin van my wat ook in die woud woon vir aandete. Ek weet by voorbaat dat die woudvrou en die kunstenaar mekaar gaan ontdek as nuwe vriendinne. Die woudvrou daag op in ’n pragtige rok wat lyk asof dit van varings en mos geweef is. Haar oorkrabbers is eksotiese sierade van krale en vere. Sy bring lag en vreugde en ’n bottel wyn in die huis, ons vergeet skoon van Anna Netrebko en Dulce Pontes. Die nagvoëls van die woud begin met hul eerste suiwer note. “Was jy al getroud?” vra die kunstenaar. “Ja, baie,” sê die woudvrou. Sy begin van haar geskakeerde, opwindende lewe vertel. Ons maak kos en ons gesels en ons lag verskriklik baie. Ons vier ons vriendskap. Ek weet watter waarheid ék ontdek uit my besoek aan die bos: As ek dit eendag nodig het, vra ek graag die kunstenaar, of die woudvrou, se hulp.