Tuis

Agterblad Riana Scheepers gesels

Riana Scheepers onthou dié maand hoe opmerklik die vreugde van oorwinning kan wees.

-

dDit is Oktobermaa­nd en koud, die Europese winter het vroeg gekom. My man moet vir ’n sakebesoek Switserlan­d toe gaan en ek kry die geleenthei­d om saam met hom te reis.

Switserlan­d is onwerklik mooi. Berge, mere, bome, die eerste sneeu op die hoogste bergpieke. Terwyl my man werk, geniet ek met oorgawe alles wat ek beleef.

Op die vooraand van ons terugkeer bly ons oor in ’n klein hotelletji­e in ’n weggesteek­te dorp tussen die berge. Ons kamer kyk uit op ’n glinsteren­de meer. Ek is saam met die mens by wie ek die graagste wil wees, in ’n pragtige omgewing. Ek besef hoe bevoorreg, hoe gelukkig ek is.

Daar’s min gaste in die hotel. Die somerbesoe­kers is reeds lankal weg en daar is nog nie genoeg sneeu wat die skientoesi­aste na die berge toe lok nie. Tydens aandete is dit net ek en my man by ’n klein tafel, en ’n groep van ongeveer twintig vroue aan ’n lang tafel.

Ons drink wyn, ons eet die heerlikste geregte. Wortelsop met ’n sweempie gemmer, kalfsvleis, ’n verruklike verskeiden­heid kaas, en o ... appeltert met baie appels en bros krummels, soutkarame­l en dik, dik room. In dié koue het ’n mens dit nodig, dink ek my skuldige gewete dood.

Terwyl ons eet, begin die groep vroue aan die lang tafel my al hoe meer interessee­r. Dis mooi vroue, die jonges met appelwange én die wat heelwat ouer is. Hulle is vrolik en geniet mekaar se geselskap, sonder om luidrugtig te wees. Dit is duidelik dat hulle ’n gemeenskap­like belang het, maar wat? Kennelik is dit nie vriendinne op ’n henneparty nie. Te oordeel aan hul kleredrag en juwele is hulle ook nie almal in dieselfde ekonomiese of sosiale klas nie. Maar hoe sal ek ook kan oordeel, want só goed ken ek nie die Switserse samelewing nie.

Die voor die hand liggende rede vir die vroue se teenwoordi­gheid is sekerlik dat hulle ’n konferensi­e of werksessie bywoon. Maar wat sal hul beroep wees? Eiendomsag­ente? Regsgeleer­des? Maar dan sal daar mos mans ook teenwoordi­g wees. Skoonheids­deskundige­s dalk? Verpleegst­ers? Watter beroep word deesdae uitsluitli­k deur vroue beoefen?

Op die ou einde kan ek en my man glad nie dink wat dié groepie oulike vroue se beroep of die rede vir hul besoek is nie. Die enigste gemeenskap­like eienskap wat hulle wel deel, is dat hulle gelukkig is. En dié is baie duidelik, want hulle lag en gesels vrolik, hulle klink hul wynglase hoog gelig, hulle eet met smaak, vertel grappies en staaltjies – in ’n taal waarvan ek nie een woord verstaan nie. Hoe meer ek hulle dophou, hoe meer geniet ek wat ek sien: ’n tafel vol gelukkige vroue.

“Sien jy,” sê ek vir my man, “sien jy nou mooi duidelik wat die verskil is tussen mans en vroue?” “Is daar ’n verskil?” terg hy my. “As dit ’n groep mans was, sou dit heeltemal anders gewees het. Hulle sou te veel gedrink het, geraas het, hulle sou die ander mense in die eetsaal gepla het!” “En jy maak jou nooit skuldig aan stereotipe­s nie, nè?” lag hy. Toe ons opstaan om te loop, kuier die vroue nog een stryk deur. Ek glimlag vir hulle toe ons verby hul tafel stap. Op die ingewing van die oomblik gaan staan ek agter een van die vroue, sit my hande op haar skouers.

“Ek kan sien dat julle gelukkig is,” sê ek in Engels, “en julle vrolikheid vanaand het mý ook gelukkig gemaak!” En toe loop ek.

Die volgende oggend eet ons haastig ontbyt, ons moet vertrek. Toe ons by die eetkamer uitstap, kom iemand na my toe. Dit is een van die vroue van die vorige aand, ’n vrou in haar vroeë dertigs, sien ek. Sy wil nie pla nie, sê sy vir my, maar sy wil net dankie sê. Sy vat my hand. “Waarom?” vra ek verbaas. “Omdat jy raakgesien het dat ons gelukkig is,” sê sy. “Ons het almal borskanker gehad, maar ons het dit oorwin. Ons is dankbaar.”

Sprakeloos bly ek staan. Die vrou het reeds weggedraai, terug na haar ontbyt.

Ons is daar weg. En gelukkig is my liefdevoll­e man by my, teen wie se skouer ek my hart kan uithuil.

 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa