Eers was dit die strykyster. Ná jare se diens ’n vonk, ’n slag – en geen krag in my huis nie. Ek koop ’n nuwe.
Kort daarna die mikrogolfoond. My koffiemelk bly koud, al draai daardie bord vir minute om en om. Weer koop ek ’n nuwe, sommer ’n goedkoop een, want in my kombuis is die mikrogolfoond weggesteek (dis loshande vir my die lelikste ding in so ’n oopplanvertrek). Vroeg op ’n Saterdagoggend begewe ek my diep in die voorstede, want daar was ’n uitverkoping by ’n winkel waarvan ek kwalik die naam kan onthou. Maar ek het R100 gespaar!
Toe begin die groot kanonne lol. Eers skop die skottelgoedwasser die krag uit. En toe ek weer kyk, flikker daar ’n rooi liggie in die paneel bo die ys-en-vrieskas se deur, en my Loeriesfontein-lam begin ontdooi.
Die tegnici loop my drumpel deur en ek los hope kontant op die kombuistoonbank, want alles is “COD”.
Volgende breek die wasmasjien. My huishulp, Margaret, is tuis toe die wasmasjien-ghoeroe kom ondersoek instel. Drie minute en R550 later is die kwotasie vir die herstelwerk aan my 10 jaar oue masjien R4 000. ’n Nuwe een (wat water help bespaar) kos R5 000.
Margaret bel met die slegte nuus, meer bekommerd oor die vuil wasgoed as die gat in my beursie. “But Wic,” sê sy, “that man is wrong. You must come home. I used the machine, it did not trip again.” Ek sê ek sal kyk, maar los nou eers die masjien af, netnou is daar ’n brand.
Dieselfde aand nog sit ek wel ’n bondel witgoed in – ewe hoopvol – en binne minute is die huis in donkerte gehul. Die tegnikus was reg, Margaret was verkeerd. En net ná sonop is ek duisende rande armer toe die meubelwinkel se trokkie voor my deur stop.
In verhoudings praat hulle van die “seven year itch”. My kombuis het klaarblyklik die “ten year itch.” Want dís hoe lank terug ek alles nuut gekoop het as deel van ’n vorige regrukprojek. Laat dit vir my ’n les wees: As jy als gelyk koop, breek als gelyk. Dis nou van ghrênd wees al daai jare terug, “want hoe gaan ou goed nou lyk in ’n splinternuwe kombuis?”
Nou bly nog net die tuimeldroër en die broodrooster oor. Geleende tyd, reken ek. En kan ek daarop staatmaak dat die stoof, wat net drie jaar oud is, nog minstens sewe jaar gaan hou?
Gelukkig het elke kombuis in dié uitgawe van Tuis meer as sewe jaar se raktyd oor – lees ons storie op bl. 46. Ek is veral gefassineer deur die eilande in dié kombuise. Dit het oor jare so ’n kern-element in oopplanruimtes geraak, jy kan jou amper nie ’n kombuis daarsonder indink nie!