Van nuuts af
Oor die jare ontwikkel ’n plek ’n ingeleefde patina, wat karakter skep. – Melissa
Die Van Hoogstraatens het die eiendom buite Stellenbosch in 2000 gekoop, maar die huis was vervalle. Hulle het dit gesloop en ’n nuwe huis op die ou fondasies gebou. Al het hulle van nuuts af gebou, het die kombuis van sowat 40 m² nog nooit nuut gevoel nie; dis ’n ruimte met karakter wat by die dag verder ontwikkel.
“Die kombuis moes gerieflik en prakties wees, en hard werk,” vertel Melissa. “Dit moes die hart van ons huis wees waar ons heelwat tyd wou spandeer terwyl ons saam kook, eet en ontspan.”
Dit is presies wat hulle geskep het – ’n kombuis waar daar elke dag gewerskaf word en kinders, vriende, familie, honde en katte welkom is.
Mark en Melissa het destyds ’n plaaslike ambagsman gevra om die rakke aanmekaar te timmer. Die idee was nooit dat dit ’n fokuspunt moes wees nie, maar eerder ’n praktiese pakplek vir hul breekgoed en potte. Tog maak dit vandag ’n pragtige prentjie uit.
“Ek is mal oor die gevoel van die oop rakke – die vase, bottels en breekware skep interessante kleure en teksture, en alles wat ek elke dag gebruik is sigbaar en maklik om raak te vat,” vertel sy.
“Ek glo jy moet jou omring met dinge waarvoor jy lief is; met rakke soos dié kan jy elke dag daarna kyk en dit geniet. Maar sodra die plek te vol raak, pak ek ’n slag uit en gee weg. Ek wil nie goed hê wat ek nie gebruik of nodig het nie.”
Die eiland, destyds pasgemaak deur Allan Lutge Antiques and Interiors, word gebruik vir alles – van voorbereiding en opdiening tot pakplek vir flesse vol tuisgebakte koekies.
“My kinders sit gereeld om die eiland en gesels met my terwyl ek kook,” sê Melissa. “Ons bêre ons eetgerei daar en ek is mal daaroor om blomme en plante daarop neer te sit vir ’n bietjie tekstuur. Partykeer eet ons ook daar. Ons huis is ontwerp om by ons leefstyl te pas en hierdie eiland is ’n goeie voorbeeld daarvan – ons gebruik dit vir so baie dinge.”
Haar kombuis is propvol herinneringe, sê Melissa. “Ek het my kinders hier gevoer toe hulle babas was. Nou voed ek hordes tieners hier, en dit sal altyd ’n plek wees waar ons saam lekker kos maak en geniet, en lieflike herinneringe skep vir nog baie jare vorentoe.” >>