Tuis

Agterblad Riana Scheepers gesels

Riana Scheepers het by haar pa geleer hoe jy onverdiend­e beskuldigi­ngs hanteer.

-

DDaar is een ding wat my verskrikli­k grief, en dit is rommel. Ek glo eerlikwaar dat ons landsprobl­eme minder sou wees as ons almal netjies geleef het. ’n Mens wat nie rommel strooi nie, het respek vir homself, sy omgewing én sy medemens. Respek is ’n goeie begin om die wêreld ’n beter plek te maak.

Mense wat my ken, weet dat ek die gemors optel wat ander mense so argeloos rondstrooi. Wanneer ek soggens gaan stap, is dit altyd met ’n plastieksa­k. Terwyl ek stap en blikke en bottels en plastieksa­kke optel, dink ek hoe dit sal wees ek aangestel word as Minister van Rommel. Glo my, Suid-Afrika sal binne ses maande skoon wees. En baie mense sal met stewige boetes sit. Of in die tronk.

Nou die oggend stap ek weer en tel op. Die plastieksa­k wat ek by my het, raak gou vol. Dit is vuilgoedda­g, die huishoudin­gs se swart sakke is op die sypaadjies uitgesit. Toe my sak met optel-rommel te swaar word, stop ek by ’n swart sak, knoop dit oop en sit my sak daarin.

En net toe kom die vrou van die huis uit. Sy sien my. Sy is siedend kwaad. Want sy neem sommer aan dat ek een van die mense is wat swart sakke oopskeur om te aas. Sy begin op my skree. Ek probeer verduideli­k dat ek so pas ’n klomp rommel op háár sypaadjie opgetel het, dat ek net my rommelbuit netjies wil wegsit in haar swart sak. Nee, niks gaan haar oortuig dat ek nie ’n aasvoël is nie.

Op die ou einde stap ek net weg, terwyl sy in kleurryke taal agter my skel en dreig. Ek weet nie of ek moet lag of huil nie. ’n Hele ent verder onthou ek hoe my pa ’n soortgelyk­e situasie gehanteer het.

My pa is die sagste, dierbaarst­e mens wat ek ken. Hy het ’n ruim hart vir ander mense, dikwels tot sy eie nadeel. Jare lank het hy ’n slaghuis bedryf op ’n platteland­se dorp. Een van sy kliënte was ’n bejaarde vrou wat goed bevriend was met my oupa en ouma. My pa, wat as’t ware voor haar grootgewor­d het, was baie lief vir haar. Die vrou, kom ons noem haar maar tannie Mara, het kennelik nie tred gehou met stygende vleispryse nie. Sy het gereeld by die slaghuis ingekom en R5 se vleis gekoop. My pa het geweet dat sy dit nie te breed het nie en dat sy met daardie porsie vleis vir haar en haar huishoudst­er kos gemaak het. Hy het haar geld geneem, maar elke keer gesorg dat sy vleis kry vir veel meer as net een maaltyd. Op ’n dag het tannie Mara weer by die slaghuis ingekom, diep beswaard. Sy het gevra of sy met my pa kon praat, privaat. Natuurlik. My pa het haar na sy kantoor geneem. En daar kom tannie Mara se bitterheid van baie jare toe uit. Sy probeer nou al lank om daarmee saam te leef, sê sy, maar dit kan nie meer só aangaan nie. “Wat kan nie meer so aangaan nie?” het my pa gevra. Die feit dat my pa haar nou al jare lank met haar vleisaanko­pe bedrieg, het sy kwaai gesê. My pa was stomverbaa­s. “Jou ouers,” het tannie Mara gesê, “was wonderlike mense wat nie ’n sent sou steel nie, maar dit verhoed jou nie om van ’n ou mens te steel nie.” My pa was steeds in die duister. “Elke dag koop ek R5 se vleis,” het sy gesê, “en dan gaan weeg ek dit by die huis. Een dag is dit ’n kilogram, ’n ander dag is dit méér as ’n kilogram, ’n ander dag is dit skaars ’n halwe kilogram.” Hoe kán my pa dit regkry om haar so te verkul? Toe my pa my hierdie storie vertel, het ek gelag, ek kon nie glo wat ek hoor nie. Maar wat ek eintlik wou weet, is hoe my pa die situasie gehanteer het? My pa, dierbare mens wat hy is, het tannie Mara nederig verskoning gevra. En van toe af elke keer noukeurig ’n kilogram vleis vir haar afgeweeg. Vir R5. Ek leer ’n les by my pa. Die vrou wat vir my kwaad is, kan maar skel. Maar meer nog, ek dink ek moet haar verskoning gaan vra.

 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa