Leserhuis
Die eienaar het dié huis gekoop om vinnig op te knap en weer te verkoop, maar toe raak sy verlief op al die potensiaal – en skep ’n tuiste vol verrassings. Marian van Wyk
Met die eerste oogopslag lyk dié Victoriaanse dame waar Lisa Peters en haar man, Ben, woon,
na net nog ’n tipiese Kaapse erfenishuis. Die buitekant van die 115 jaar oue gebou met sy wit deurrame en netjiese grys mure kom immers heel voorspelbaar voor.
Tot jy die pienk voordeur sien. Dan besef jy dié Oranjezicht-woning is allesbehalwe gewoon.
“Ek is dol oor die kontras – soos wit deure met iets ongewoons daaragter,” sê Lisa met ’n glimlag.
Sy het die eiendom vier jaar gelede gekoop, al was sy aanvanklik nie opgewonde daaroor nie. Lisa het ’n paar eende en ’n lappie grond vir tamaties by haar droomhuis voorsien en het gemeen dié werf is hopeloos te klein. “Maar my vertroude eiendomsagent, wat my toe al omtrent 60 eiendomme gewys het, het my oortuig dis ’n goeie kopie om reg te ruk en weer te verkoop,” verduidelik sy.
“Victoriaanse huise is so solied. In daardie opsig was dit dus perfek – daar was selfs ’n ou Aga-stoof in die kombuis. Maar die gebou is nie goed onderhou nie en die binnekant het dringend aandag gekort.”
Halfpad deur die opknap het Lisa duur plakpapier en teëls begin koop. “Dit was persoonlike keuses en glad nie wat ’n mens doen wanneer jy beplan om weer te verkoop nie!” erken sy en lag.
Sy het toe die huis gehou, en deesdae woon Lisa en Ben, wat so tussen die opknappery deur verlief geraak en getrou het, baie lekker hier en onthaal hulle graag vriende in dié sjarmante ruimte.
’n Ryk geskiedenis
Nadat Lisa besluit het om die huis te koop, het sy by Cape Town Property Histories in Woodstock aangeklop om dit na te vors en ’n brosjure oor sy geskiedenis saam te stel. Sy is die 14de eienaar; die huis het aanvanklik deel uitgemaak van die Oranjezicht landgoed wa tin 1901 onderverdeel is.
Oor die jare het die onderskeie eienaars heelparty veranderinge aangebring – sommige beter as ander. Lisa, wat al opknapprojekte in verskeie lande voltooi het, het dié een aangepak met die hulp van wat sy ’n “bontspul karakters” noem.
“Ons het klam pleister afgekap, vier vertrekke oorgepleister, skreeulelike matte uitgeruk en die ou Orego n denne houtvloere afgeskuur. In die kombuis het ons ’n sementvloer gelê en geteël, die kombuis en sitkamer omskep in een oopplanruimte en nog ’n badkamer aangebou sodat die drie slaapkamers elkeen sy eie en suite het,” verduidelik sy.
Lisa het die projek aangepak met die grootste respek vir die oorspronklike styl van die huis. Maar moenie dink dit het haar gekeer om haar persoonlike stempel daarop af te druk nie! >>
Plakpapier gee ’n dimensie wat verf en verftegnieke nie kan doen nie. Dit het oombliklike trefkrag. – Lisa
Tonne pret!
Wat dekor betref, glo Lisa dis nie nodig om by een styl te hou nie. Elkeen van die drie slaapkamers het ’n unieke, speelse tema: Deadly Sinful, Dog House en Boudoir.
As kinesioloog sê Lisa sy is fyn ingestel op energie. “Daarom moes die plakpapier, verf en dekor by die luim van elke vertrek en sy besonderse eienskappe inskakel,” verduidelik sy. “Die kombuis het byvoorbeeld ’n treffende bloupers fokusmuur wat dramaties kontrasteer met die geilgroen tuimelende vertikale tuin wat ’n mens deur die vensters sien.
“In die eetkamer wou ek ’n weelderige atmosfeer skep, toe verf ek dit met Plascon se Rafter; só ‘verdwyn’ die ou ingeboude kaste as’t ware in die muur.”
Lisa onthaal graag en haar dekor is altyd ’n onderwerp. “Ek is dol daaroor wanneer gaste vra waar ek iets gekry het, hoe ek iets gekies het en wat my besiel het om sekere elemente te gebruik.”
Lisa bring graag detail in lae in en voeg dikwels ’n verrassingselement of twee by – die rooi hartjies in die bedkap in Boudoir, die hondjie-hake agter die deur in Dog House of die voëls in Deadly Sinful se alkoof. Daar is telkens iets wat jou aandag trek en nader lok. >> Die handgemaakte geelhout-hemelbed in die hoofslaapkamer staan in die middel van die vertrek – pleks van teen ’n muur – ter wille van die beste uitsig op Tafelberg. Ben het daarop aangedring om die deure en rame dieselfde donkerpers as die mure te verf sodat dit “verdwyn” en jou fokus op die berg bly.
Hackney Empire-plakpapier van The House of Hackney