Lesertuin ‘Welkom in my oerwoud’
Vir Elvira Holz staan die tyd stil wanneer sy in haar toegegroeide tuin is.
“Wanneer ek so al met die tuinpaadjies langs deur my tuin stap, voel dit kompleet of ek in ’n oerwoud is,”
sê Elvira Holz oor dié lushof in Randburg, waar die paadjies omring is met groen blaarplante van verskillende vorms en teksture. En vir spatsels kleur is daar blomplante vir elke seisoen.
Sy en haar man, Rainer, het die huis 27 jaar gelede gekoop. Toe was daar nie sprake van ’n tuin nie, wat nog te sê van ’n “oerwoud”! Op die werf was net die groot wildeolyf, ’n lourierboom, ’n paar kleiner bome en struike en ’n verwaarloosde grasperk. Maar Elvira het aan die werk gespring en die tuin omskep in die lowerryke paradys wat dit vandag is.
“Die erf is lank en smal, met ’n kurwe in die een hoek. Die eerste ding wat ek gedoen het, was om in daardie hoek ’n groentetuin aan te lê. Volgende aan die beurt was ’n waterfokuspunt en ’n visdam; toe het ek om die visdam en onder die wildeolyf begin plant. En van daar het die ander dele van die tuin ontwikkel,” verduidelik sy.
Omdat ’n groot grasperk nie by die vorm van die erf sou pas nie en te veel ruimte in beslag sou neem, het Elvira besluit om tuinpaadjies te maak wat die verskillende dele en tuinkamers van die tuin by mekaar laat aansluit. Sodoende het sy nie net loopplek in die tuin geskep nie, maar ook meer plantplek gekry.
“Ek het in die meeste gevalle eers die tuinpaadjie gemaak en dan die tuin rondom dit ontwikkel; plek-plek het dit wel op een slag gebeur. Maar ek het nooit ’n plan vir die hele tuin geteken nie. Die beddings en paadjies het spontaan ontwikkel en ek het my natuurlike instink van wat sal werk en wat nie, gevolg,” onthou sy. “Ek hou van die resultaat en hoewel ek foute gemaak het, kan ek daarmee saamleef!”
Die tuin is oorwegend groen en Elvira het ’n mengsel van verskillende tipes blaarplante gebruik om interessantheid daaraan te verleen. Laaggroeiende blaarplante omraam die paadjies en word netjies gehou sodat dit nie die stapplek toegroei nie. Daar is ook in elke seisoen iets wat blom – agapante, boslelies, kraanvoëlblomme, spoorsalies, asaleas en twee rose.
“Die rustigheid, stilte en privaatheid wat die tuin ons bied is net wonderlik. Om deur die tuin te stap prikkel al my sintuie. Ek geniet die klank van die water, die gekwetter van die voëls en gekwaak van die paddas, die heerlike geure en om al met die paadjies langs deur die verskillende mikroklimate wat ons hier geskep het, te stap. Of ek nou in die tuin is vir werk of plesier, ek vergeet van tyd wanneer ek daar is!” Die meeste van die paadjies is van dwarslêers, maar Elvira het betonprodukte pleks van die ware Jakob gekies. “Ek het wel hout-dwarslêers op van die trappies gebruik, maar nie vir die paadjies nie. Die hout kan met verloop van tyd vrot en meestal kom jy dit te laat agter en moet jy alles weer oordoen. Die betonweergawe is duursaam en lyk ook baie mooi.”
Tuinmaak is soos om ’n troeteldier te hê. Dit gee jou baie plesier, maar is ook ’n verantwoordelikheid! – Elvira
Ek het nog altyd ’n belangstelling in inheemse plante gehad en waar dit moontlik en prakties is, sal ek inheems kies. – Elvira