Dit sit nie in enigeen se broek nie
Een van die voorvereistes vir die nuwe huis was genoeg ruimte dat Arno aan sy versameling klassieke motors kan werk. “In die ontwerpstadium het ons besef die garage is beplan vir waar die bestaande swembad op die erf was,” sê Arno. Tydens ’n naweekbesoek aan die terrein het Arno ’n blink idee gehad: Hulle kan die swembad uitgrawe, en pleks van die gat opvul, kan hulle ’n kelderverdieping met ’n motorhystoestel bou.
Die paartjie wou kontant bou en het ’n streng finansiële plan opgestel. Maar toe begin die kwotasies inkom – en oorskry die begroting met ’n halfmiljoen rand! Uiteindelik het hulle ’n bouer gekies wat hulle by ’n handelskou ontmoet het; dié se kwotasie was heelwat nader aan die bedrag wat hulle in gedagte gehad het.
Maar kort daarna moes hulle die koste van die hele projek oorbereken as gevolg van gebrekkige skattings. ’n Rotslaag onder die swembad was die eerste uitdaging; hulle moes gespesialiseerde toerusting huur, wat hulle baie uit die sak gejaag het. “Net toe ons tot by die nodige diepte van 3 m gegrawe het, het ons ontdek ons het ’n waterprobleem,” verduidelik Arno. “Weens ’n hoë watertafel het ons nou ’n pomp in die kelder wat elke twee dae sowat 1 000 liter water na die munisipale stormwaterdrein pomp.”
Om vir die waterprobleem te vergoed moes die keldervloer herontwerp word, waarna keermure van bekiste beton met staalversterking en waterdigtingsmiddels geïnstalleer is. >>