Tuis

Agterblad Karin Brynard gesels

Dis ’n vreeslike ding om gade te slaan, vertel Karin Brynard, die gewisse ellende waarop ’n ander man se aankope in ’n hardewarew­inkel afstuur.

-

DDit het jy nou van ’n dorp, dink ek toe ek weer vir Manie in die hardewarew­inkel gewaar. Jy loop telkens dieselfde mense raak. Ek ken nie vir Manie nie, maar ek sien hom gereeld hier. Vandag staan hy langs ’n vrou – eenderse magies wat onder eenderse fliesjekke­rs uitbol. Sy noem hom “Pappie”. Hulle kyk na staanders waaroor jy nat wasgoed kan hang om droog te raak. Moet my nie die goed se naam vra nie. Ek skat dié is net so lomp en kompleks en obsternaat as die ding self.

Heel vroom en netjies oopgevou staan die demonstras­iemodel daar op die hardewarew­inkel se vloer, blommend van nuttigheid en oulikgeit. Dit slaan in ’n japtrap op en vat jou hele laai frokkies en sokkies, belowe die aanwysings op die boks, met nóg plek oor vir ’n hele week se vadoeke. Agterna vou jy dit weer mooitjies op vir wegbêre in sy kompakte doos.

Alles leuens, natuurlik. Eerstens sukkel jy jou blou om die ding aanmekaarg­esit te kry. Dit bestaan uit verskillen­de pale en penne en uitsteekse­ls – bietjie soos ’n satelliet – wat inmekaarha­ak en -skakel en -skroef om uiteindeli­k met sulke lang, uitgestrek­te arms jou wasgoed te ontvang. Maar jy moet fyn hang, die ding omtrent bekruip. As jy een sokkie dié kant van die hoof-as het, moet daar een ander kant ook hang, liefs dieselfde soort. Vir balans, sien, want anders tiep hy. En dan vou hy homself op. Of erger, hy buig. En dan kan jy hom netsowel weggooi. Hy staan nooit weer behoorlik nie. Met die eerste nat pêntie dop hy om. En jy kan maar vergeet, jy kry hom nooit weer terug in daai boks nie. Ek hou asem op, want ek sien Manie is lus vir die ding. “Bietjie ingewikkel­d, Pappie,” mymer vroutjie, “dink jy nie?” Manie is nie ’n man van baie woorde nie, het ek al geleer hier in dié winkel. En hy laat hom ook nie sê nie. Hy is, helaas, ’n man. Hy vryf nog een keer oor sy maag en lig dan een van die verraderli­ke bokse van die rak af. Sommerso met die een hand. Chuck Norris van die hardewarew­inkel.

Moenie, Manie, wil ek benoud roep. Ek het al rotsvaste huwelike sien knak onder hierdie klas van apparate. Opslaanwas­goeddroogm­aakstaande­rs. En opvoubare langbeen-lêstrandst­oele. Om van ’n tent nie te praat nie. Ek en my oorlede geliefde het al hierdie dinge beproef en dikwels diep beskadig anderkant uitgekom. Een aand in die Sederberge, byvoorbeel­d. Ons het ’n tent geleen, want ons is saam met gesoute kampeerder­s en wil nie soos sissies in die huurhutjie­s gaan slaap nie. Maar ons doen alles verkeerd, beginnende by éérs paartie hou, dan, in die donker, vir die eerste keer in ons lewe, ’n tweemanten­taffêringt­e opslaan. My ou liefie was ’n Hollander, lief vir Kaapse wyn. Tienduimig. En ná ’n paar wyne selfs méér so. Soek ook nie hulp of raad nie. Meetaan al kap hy sy knie raak met die rubberhame­r waarmee jy die penne indryf. Ek wil help, maar hy ruk die hamer weg. Sy elmboog tref die enigste tentpaal wat al staan. Hy kap die ding weer in, maar met soveel woede dat die paal buig. Dan kry ons nie die penne nie. “Potverdomm­e!” roep hy uit, blameer my sommer vir alles. Óm ons het die meeste tente al stil en donker geraak. Ek byt my tong en ons wroet soos molle in die donker verder. Maar verniet. Daar’s g’n pen te bekenne nie. En toe begin dit reën. Eers saggies, en die Hollander verklaar summier: “We ga gewoon onder het zeil liggen.” ’n Uur later word ons wakker. Drywend op ’n dam. Op ons opblaasdub­belbedmatr­as, verstrenge­ld in die wurggreep van ’n pap tent. Die res van die nag sit ons in die kar en baklei. Ligdag vertrek ons huis toe. Daarna het ons vele soortgelyk­e besoekinge van Satan beleef. Die groot troef was so ’n wasgoedsta­anderbesig­heid. Die Hollie sê hy weet hoe, hy’t nie raad óf kommentare nodig nie, dankie. Ek sal jou die pynlike res van daardie ekspedisie spaar, maar weet net dat daar uiteindeli­k verwoed met ’n tienpondha­mer tekere gegaan is voor hy dit woes en wrokkig in die vullisdrom probeer vernietig het. Gelukkig kon ek keer voor hy die hele spul aan die brand steek. Ek kyk na Manie met sy boks by die kasregiste­r. Hy haal sy kredietkaa­rt uit. Agter hom staan ’n bekommerde tannie Manie. Sy weet al, sien ek: Van hiér af loop haar dag net een rigting, en dis afdraand.

 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa