In ’n goeie lig
Die grootste verandering was die aanbou van ’n ruim stoep van 68 m². “As ’n natuurbewuste ontwerper was ek bang ek keer al die fantastiese noordelike lig, wat belangrik is vir enige goeie ruimte. Maar die stoep het dit net versag,” sê Michel. “Die klein beukvensters laat oorgenoeg lig in, maar die grootste verskil was hoeveel sagter die lig is wat nou deur die breë deure stroom. Dis ’n kunstenaar se droom.”
Die dorp se advieskomitee oor estetika moes spook om al die brouwerk reg te maak. In een stadium het die ontwikkelaar die pas voltooide dak afgehaal en vier baksteenrye afgekap om aan Greyton se erfenisboustyl te voldoen.
“Nou is ons huis ’n stylvolle maar ietwat omstrede toevoeging tot dié sjarmante dorpie se ryk geskiedenis. Party mense sê die huis het ’n Provensaalse styl, maar ek stem nie saam nie!” sê Michel, wat nou besig is met sy Meestersgraad in bewaring van die beboude omgewing (“CBE”), ’n vereiste vir enigeen wat aan erfenisstrukture werk. “In Provence het hulle ook afgewitte mure en maak hulle gebruik van natuurlike klip, maar ons huis met sy klassieke hortjies lyk meer soos ’n ou plaashuis of -skuur.
“Ek is mal oor die eenvoud, die skaal, proporsie en simmetrie. Moderne argitekte het wegbeweeg van simmetrie omdat hulle meen dis beperkend en vervelig, maar ek glo ons is armer daarsonder. Simmetrie verskaf ’n sekere balans en kalmte aan ’n ruimte. Dis hoekom die huis werk – dis eenvoudig en lyk of dit al jare hier staan. Maar dis net twee jaar oud!” >>
Die paartjie het alles in die hoofbadkamer (oorkant) uitgebreek. Nou het die bad die ereplek, met ’n oop stort teen een muur. Die Rouillards hou van die tekstuurryke en duursame Cemcreteafwerking en pleks van die tradisionele spieël is daar ’n Johann Slee-skildery bo die wasbak; daar is wel ’n grimeerspieël in Leoné se hangkas en sy het ’n losstaande vollengte-spieël. Omdat Leoné en Michel elk hul eie badkamer het, is ’n skeerspieël nie nodig nie.